Gedagte vir die dag: Wonders uit die natuur

GoldenGate_Reint_Dykema_Dam_Water_Berg.jpg

Foto: Reint Dykema

Lees: Psalm 111

Die werke van die Here is groot, almal wat daarin vreugde vind, dink daaroor na. Sy dade is vol majesteit en luister, sy trou staan vir altyd vas. (Psalm 111:2-3)

In die somer gaan ek elke oggend baie vroeg stap. Tydens hierdie stapsessie probeer ek om ten minste drie wonders raak te sien en God vir hulle te loof (gewoonlik kry ek meer!). Ná hierdie staptog is ek vol verwondering en blydskap, reg om die dag wat voorlê met ’n glimlag aan te durf – want aanbid ek dan nie die groot God wat die wonderlike wêreld geskep en dit elke dag onderhou nie? Vir Hom is niks onmoontlik nie – Hy sal my lei deur die dag wat kom en saam met Hom sal niks vir my te moeilik wees nie.

Om elke dag die wonders om jou raak te sien, is iets wat jy ook kan aanleer. Dit sal jou hele lewe ontsaglik verryk. Leer dus om met verwondering na alles rondom jou te kyk: In die proses kan jy sommer die wonder van jou sintuie opnuut ontdek. Leer om elkeen van hulle optimaal in te span: Luister na die koer van die tortelduiwe in die dennebome, kyk na die volmaakte volmaan wat bokant die berge uitkom, geniet die opgetoë gesiggies van jou kleinkinders as hulle kom kuier en verluister jou aan hulle kostelike sêgoed, koester die veiligheid van jou man se arms om jou, trek die geur van die eerste jasmyn van die lente diep in jou longe en streel oor jou kat se sysagte pels.

God het die wêreld en alles daarin vir jou gemaak om te geniet – moenie ’n oomblik laat verbygaan sonder om jou in die werke van sy hande te verlustig nie.

Here, ek loof U vir die wonders wat U gemaak het – dankie dat ek daarin kan deel. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Peet Schabort ·

Pak jou rugsak en gaan stap die ongetemde wildernisroetes van 5/6/7/8dae hier in SA en Namibië. Daar waar jy op jouself aangewese is en aan die genade van die natuur oorgelaat is. Waar in die nagte jou slaapkamer se mure en plafon die uitspansel van die hemelruim is.
Dan besef jy dat daar moet ‘n ware GOD wees. ‘n God wat jou geskape het en versorg al voel dit nie altyd so.

Peet Schabort ·

En die foto van Reint Dykema?
Kiara Lodge, Golden Gate, Clarens.

sandra ·

SPR 30:4 …….Hoe is SY NAAM? En hoe is die NAAM van SY SEUN – as jy dit weet?
YAHWEH EN YAHSHUA
god en heer is n titel,nie n naam nie,soos mnr en mev, en jy kry baie here en baie gode, maar net 1 ALMAGTIGE SKEPPER VADER, en SY NAAM IS YAHWEH (YHWH)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.