Gedagte vir die dag: Wonderwoord

blare_reen_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Jesaja 55:10-13

So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het. (Jesaja 55:11)

… dit sal doen wat Ek gedoen wil hê … (v. 11).

Met ’n eenvoudige en tog logiese prentjie wys die Here deur sy profeet hoe kosbaar sy woord is: Die water kom uit die hemel en maak die aarde nat. Só kom my woord, sê Hy, na hulle vir wie Ek dit gee, en dit bereik sy doel. Soos die nattigheid ’n deurslaggewende uitwerking op die aarde het, so ook my woord. Die deurdrenkte grond bring ’n oes voort; met my woord gebeur dieselfde.

Eenvoudig, ja. Logies, sonder twyfel. O, en ’n mooi prentjie! Maar soos die meeste mooi dinge is dit ook broos, dié prentjie.

Veral die Godswoord-gedeelte van hierdie vergelyking ly onder ons verwagtingloosheid. Juis deesdae. Ons sukkel om daaroor opgewonde te raak. Kyk, daar is mos mense – ons? – wat aan ’n oordaad van hierdie woord blootgestel is. Van kleins af het hulle – ons? – hierdie woord (en allerlei interpretasies daarvan, sommige erg vergesog) gehoor. Nou raak dit hulle – ons? – nie meer nie. Ons hoor dit nie eintlik nie. Dit het geen invloed meer op ons lewe nie. Dit weet ons – al bêre ons hierdie wete diep in ons hart. Interessant, dan, dat die Here oor hierdie woord sê dit sal doen wat Hy gedoen wil hê. Ons sogenaamde oorversadiging ten spyt. Ons bygeloof en sinisme en verveling het toe nooit die laaste sê nie. Hy, die Spreker van dié woord, sê ons hoef ons regtig nie te be- kommer of dit ontkiem en vrug dra nie. Die Wonderwoord is Syne, en dit sal “tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het” (v. 11).

Ons weet wel dat sy vernaamste bouwerk by ons begin. Ons, die alleswetende onwilliges, die hardhorende baie praters, die hoogs ingeligte niksdoeners.

Spreek net die woord, Here! En leer my dan om te doen wat U vra.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
FM

Amen

Ds Barend het die hoogmoed so korrek bygedam.

Om kinderlik te glo is ‘n gawe van die Heilige Gees.