Gedagte vir die dag: Woorde

see_vrou_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

So is die tong ook maar ’n klein liggaamdeeltjie, en tog het dit groot mag. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. (Jakobus 3:5)

Woorde is gratis bruistablette met groot krag. Woorde het die potensiaal om mense te inspireer en op te bou. Woorde kan hoop bring aan dié wat op die rand van die lewe beland het. Dit kan ’n trooskombersie word vir dié wat ’n ysige winter beleef. Dit kan lig bring op ’n maanlose nag.

Woorde kan soos ’n knetterende vuurtjie warmte in iemand se troebel dag uitstraal. Dit kan ’n glimlag op ’n hartseer gesig sit. Dit kan salf wees vir ’n stukkende hart. Dit kan die eensames omhels en aan die verdwaaldes rigting gee. Dit kan die uitgeworpenes geliefd en aanvaar laat voel.

My en jou woorde het die krag om ander te seën – om lewe in die woestyn te bring. Maar, ons woorde het ook die krag om te kwes, te verwond, te kritiseer, leuens te versprei, te vervloek, te beskinder en karaktermoord te pleeg. Ons woorde het die potensiaal om ’n vernietigende brand te stig en lewens in puin te lê. Ons woorde kan ander se selfbeeld afbreek, hulle menswaardigheid aftakel, hulle aan hulleself laat twyfel. Ons woorde kan mense mislei, verhoudings ondermyn en harte breek. Ons woorde het die mag om haat, spanning, donkerte, wanhoop en onmin te saai.

Kies daarom om jou woorde eers in jou kies rond te rol en voor die Here neer te lê vir sy goedkeuring voordat jy dit oor jou lippe laat vloei.

Here, help my om goed te dink oor die impak van my woorde voordat ek hulle sê.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Christine ·

Pragtig gestel Maroela , dit is soo waar, praat sonder om te dink is hartseer!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.