Gedagte vir die dag: Woorde uit die hart

hart_see_sand_strand_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. (Matteus 15:18-19)

Jesus verduidelik in vandag se Bybelteks die oorsprong van die woorde. Dit kom uit ’n mens se hart en weerspieël die toestand daarvan. As daar onreinheid in ons hart is, gaan ons kommunikasie dit weerspieël. Die manier hoe ons praat en die inhoud daarvan gaan onverhoeds uitkom.  Liefdeloosheid in ons hart lei tot liefdelose woordewisseling. Die tipe grappies wat ons vertel, is van die beste verklappers van wat in ons binneste aangaan. Sommige mans se selfsugtige gedrag kan dikwels gehoor word in die grappe wat hulle van vroue – erger nog, hulle eie vroue – maak.

Mense sê dikwels slegte goed vir ander net om ná die tyd te sê: “Jammer, ek het dit nie bedoel nie.” Miskien nie, maar daardie belediging het uit ’n onrein hart ontsnap, of dit bedoel of nie bedoel is nie. Sulke woorde kom nie uit eerbare gedagtes nie. Dis die toestand van ons hart wat ons voor God veroordeel. Ons almal ken mense wat vloek en ons maak ons ook soms skuldig daaraan. Sou ek dit waag om vir mense te vra om nie so lelik te praat nie, sê hulle dikwels: “Jy verstaan nie. Dis ons streekstaal. Ons praat maar so. Dis nie eintlik lelik nie.” Ek weet twee dinge van hierdie argument: Eerstens, mense wil my nie nooi om in hulle “streekstaal” in hulle kerk te kom preek nie. Hoekom nie? Dis dan so aanvaarbaar! Tweedens, mense wat deur Jesus gereinig is, praat nie so nie. Onrein harte kommunikeer onrein begrippe en onrein boodskappe. Dis ’n geestelike beginsel.

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Doebie ·

Ek wens iemand het dit vir my geleer toe ek ‘n kind was, maar hulle het ons geleer om gierig te wees, om hoogmoedig te wees, om ondankbaar te wees, om populêr te wees, om die aardse dinge hoog op die prys te stel, selfs bo God. “Wees veral versigtig met wat in jou hart omgaan, want dit bepaal jou hele lewe.” Spreuke 4:23

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.