Gedagte vir die dag: Woorde wat bou

pa_seun_gesels_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. (Efesiërs 4:31)

In ons Skrifgedeelte vir vandag gee Paulus riglyne aan die gelowiges in Efese: Daar moenie vuil woorde uit hulle mond kom nie, net woorde wat nodig is vir die omstandighede sodat dit genade aan die hoorders kan gee. Hulle moenie die Heilige Gees bedroef nie (v 29-31).

Woorde het die heerlike vermoë om genade aan mense te gee. Ons kan iemand se gees oplig, bemoedig en die genade van God bedien. God se woorde maak die groot verskil. Ons leef daarvan. Petrus erken teenoor Jesus: “U het die woorde wat ewige lewe gee” (Joh 6:68). Die effek van Jesus se woorde op die twee mans op pad na Emmaus is beskrywend in hulle reaksie: “Hulle sê toe vir mekaar: ‘Het ons hart nie warm geword toe Hy op die pad met ons gepraat en vir ons die Skrif uitgelê het nie!’” (Luk 24:32).

Om woorde van genade te hê moet ons ’n rein hart voor God hê, en voortdurend met ons lewe voor Hom staan om ons te reinig en te heilig in ons hele menswees. Dis nie gladde praatjies, hoogdrawende toesprake of woorde van kennis wat ’n lewe verander nie. Dis genadige en liefdevolle woorde, rein woorde uit ’n rein hart wat dit doen. Dis hiermee dat ons ons vroue en mans koester, ons kinders beskerm, lei en leer. Die woorde van Jesus kom van die Gees en gee lewe (Joh 6:63). “Die woorde van iemand wat wysheid het, vind byval” (Pred 10:12). Oor Jesus word in Jesaja 50:4 gesê: “Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat.”

Bron:
Op vlerke van geloof deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

amanda ·

Amen en weereens amen… ja dis soms moeilik, woorde kan afbreek of opbou. Dis soms moeilik maar dink voor mens praat, en positiewe woorde is altyd beter al is dit moeilik soms. wat ekke geleer het, as jy nie iets positiefs kan sê nie, bly eerder stil, en luister… soms hoor mens meer en verstaan jy meer as jy net bietjie luister en minder praat. Dankie aan Maroela Media vir elke dag se wonderlike dag stukkies… mag julle net geblesssss word!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.