Gedagte vir die dag: Woorde wat seermaak

 pa_seun_gesels_pixabay_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ons struikel almal in baie opsigte. As iemand nooit struikel in wat hy sê nie, is hy volmaak, by magte om ook sy hele liggaam in toom te hou. (Jakobus 3:2)

Jy hoef nie noodwendig so ver te gaan as om iemand anders uit te skel of sleg te sê nie, jy kan ook onwetend ’n aanmerking maak wat hom diep seermaak of jy kan iemand beledig met mooi woordjies wat jy nie bedoel nie. Wees versigtig wanneer jy praat, want soms glip daar woorde uit wat jy nie getel het nie.

Paulus vermaan die gemeente van Kolosse in Kolossense 4:6: ‘Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.’

Dit beteken dat jy versigtig moet wees en jou woorde oordink. Mense wat altyd met vinnige kwinkslae gereed sit, klink gevat en vermaaklik. Maar sulke gesprekke is net moontlik onder vriende en kollegas van dieselfde sosiale status of kultuurgroep. Dit geld ook vir kerkgroepe. Ons is almal Christene, maar verskil met mekaar oor teksinterpretasies en aanbiddingsmetodes. Om in argumente betrokke te raak met Christene van ander denominasies of skerp te verskil van iemand in jou eie selgroep, is onverkwiklik en onnodig. Kom ooreen om die geskilpunt op ’n volwasse, nugter wyse en met selfbeheersing te bespreek.

Jakobus sê die tong is ’n klein liggaamsdeeltjie met baie mag wat onbeheerbare vure aan die brand kan steek. Die tong loof God, maar skel op sy skepsels. Hoe goeie en slegte dinge uit dieselfde bron kan voortvloei, bly vir Jakobus onverklaarbaar. Ons weet dat woorde by gedagtes begin en wanneer jy jou met goeie gedagtes besig hou, sal jou woorde vredeliewend, bedagsaam, inskiklik en opreg wees.

Liewe Vader, help my om vandag my woorde te tel.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Verona Nel ·

Baie dankie vir n objektiewe nie partydige weergawe deurgee van nuusgebeure.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.