Gedagte vir die dag: Woorde wat wegwaai

Foto: pixabay.com

Lees Psalm 1

Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van goddeloses volg nie, nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie … (Psalm 1:1)

Die eerste vers van die eerste psalm word dalk die beste onthou vir die 1933/53-vertaling se “kring van die spotters”.

Maar eintlik is dit ’n doodernstige saak. Daardie spotters wat  in ’n kring sit en ligsinnighede kwytraak, sê die psalmdigter, se grappies sal opdroog wanneer hulle met God se teenwoordigheid gekonfronteer word. Hul maklike woorde sal saam met die wind wegwaai en hulle sal niks meer te sê hê nie.

Diegene vir wie dinge anders verloop het, het ’n veel beter storie om te vertel. Hulle sal vól woorde wees, vol vreugde, voorspoedig. En vol vrugte. Soos dit is met bome wat by waterstrome geplant is. Hierdie eerste psalm wys dus hoe die weë uiteenloop, en wat die gevolge is. Só lui die laaste vers: “… die Here lei die regverdiges … die pad van die goddeloses lei tot ondergang” (v. 6). Daar is dus net twee weë: Dit is óf die een óf die ander.

Ons weet dit. Ons almal het immers intieme kennis van in-die- kring-sit. Ons het almal in mindere of meerdere mate deel aan die spottery. Daar is wel dié van ons wat daarvan kan getuig dat die Here ons uit daardie kring moes kom ruk, en dikwels meer as een keer.

En wie kan beweer dat hy of sy nie gereeld na daardie gemoedelike saamwees verlang nie? As dit nou net nie vir die gevolge daarvan was nie …

Hoe aantreklik is ’n hele lewe vol slimmighede, maar sonder ’n enkele woord om vir God te sê? Selfs nie eens ’n “dankie, Here!” nie?

Ek weet maar te goed hoe U my gered het. Daarom bid ek vir hulle, Vader, my vriende wat steeds daar sit.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.