Gedagte vir die dag: Woorde

Berg_wolke_landskap_ReintDykema.jp

Foto: Reint Dykema

Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe. (Psalm 19:8)

God openbaar Hom deur die grootsheid van sy skepping en inspireer Dawid om hierdie psalm te skryf. In pragtige poëtiese woorde besing Dawid God se skeppingsboodskap. God wil elke volk en nasie, elke skepsel wat onder die sterrehemel opkyk, met verwondering vul en tot aan­bidding bring.

Het jy al in die môre vroeg staan en kyk hoe die son opkom? Het jy in die middel van die dag uitgegaan en gevoel hoe hy op die aarde neerbrand? Hoeveel keer het jy die sonsondergang aanskou? Het jy al opgekyk in die hemel en die ruimtes probeer meet of was jy al so gelukkig om op ’n berg onder die sterre te staan?

Daar is van ons wat probeer om God se skepping met meetinstrumente en wetenskaplike formules te meet en te ontleed. Dis reg, God skenk hulle die aanleg en belangstelling. Hy openbaar sy geheime stukkie vir stukkie, ook aan die filosowe en digters onder ons. Miskien is hulle ore fyner ingestel op God se stem?

‘Die hemel getuig van die mag van God,’ sê Dawid, ‘die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. Die een dag gee die berig deur aan die ander en die een nag deel die kennis aan die volgende mee. Sonder spraak en sonder woorde onhoorbaar is hulle stem. Tog gaan daarvan ’n boodskap uit oor die hele wêreld en hulle taal bereik die uithoeke van die aarde’ (Ps 19:2–5).

Here, U het gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig. U hang die sterre aan die hemeltrans op. U woorde gee lewe, ook vir ons, u skepsels.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.