Word geïnspireer om anders te leef

ʼn Opwindende nuwe geestelike program wat jou deur die verhale van vervolgde Christene sal inspireer, word sedert vroeg in Augustus op Geopende Deure Suider-Afrika se YouTube-kanaal uitgesaai. Kykers kan op Sondagaande om 20:00 naderskuif vir die reeks FaithFluencers, wat uit 13 episodes bestaan.

Geopende Deure, ʼn alombekende bedieningsorganisasie wat vervolgde Christene in meer as 65 lande reg oor die wêreld ondersteun en versterk, wil gelowiges in Suider-Afrika deur FaithFluencers inspireer om anders te leef. Dié organisasie streef daarna om die Liggaam van Christus wat vervolging in die gesig staar weens hul geloof in Jesus, te versterk en toe te rus.

Oproep tot betrokkenheid

Die program bevat kragtige getuienisse en hartroerende verhale uit die vervolgde kerk, en gee aan kykers insig in die lewens van vervolgde Christene om die wêreld. Dit bied ook aan mense die geleentheid om direk betrokke te raak by Christene wat weens hul geloof vervolg word.

Die aanbieder van die reeks is ʼn bekende plaaslike aktrise, Vicky Kente. Haar hartroerende aanbiedingstyl moedig kykers aan om vandag nog by die vervolgde Kerk betrokke te raak en hul geloofsfamilie te ondersteun.

Enkele hoogtepunte

Onder die hoogtepunte waarna kykers kan uitsien, is twee episodes waarin Morné Ras, streekbestuurder by Geopende Deure, oor “Lesse van God se Universiteit” praat. Hy deel waardevolle geloofslesse en getuienisse uit sy eie pad met die vervolgde Kerk.

Vicky gesels ook in twee verskillende episodes met Mamah Sebofi van Geopende Deure. Mamah praat in haar eerste episode oor intersessie en die belangrikheid van gebed vir die vervolgde kerk, terwyl sy in haar tweede episode fokus op die kerk in Nigerië wat aangeval word en getuienis lewer oor haar reis na dié land.

In nog hoogtepunte werp pastoor Gavin Wood meer lig op kerkleierskap en hoe kerkleiers hul kerke by die vervolgde kerk kan betrek; en vertel Adil Jabril, ʼn vervolgingsanalis vir Geopende Deure in sub-Sahara Afrika, meer oor die vervolgingsituasie in Afrika.

Twee kinders uit die vervolgde kerk in Laos (Foto: Geopende Deure)

Reis na die vervolgde kerk

Verskeie episodes fokus op getuienisse van diegene wat al saam met die Geopende Deure na die vervolgde kerk gereis het. Justice Ngesi, ʼn reisiger na die vervolgde kerk, en Sam (skuilnaam), Geopende Deure se reiskoördineerder, laat val die kollig op “Reis na die vervolgde kerk om vervolgde gelowiges te ontmoet en bemoedig”. Kerusha George, ʼn raadslid van Geopende Deure, vertel meer oor “Die FaithFluencers van Indië: Reis en ontmoeting met vervolgde gelowiges van Indië”.

Kykers kan ook uitsien na getuienisse oor Noord-Korea, Egipte en ʼn spesifieke episode oor die vervolging van Christen-vroue.

Nog ʼn reisiger na die vervolgde kerk, Heleen McCullum, gaan meer vertel oor die kinders van Colombië en Geopende Deure se Kindersentrum in dié land; terwyl Willie van Wyk, ʼn bestuurder by Geopende Deure, verder uitbrei oor “Kinders van die vervolgde kerk en vlugtelingkinders vanaf Sirië wat in ʼn vlugtelingkamp in Libanon bly”.

Hierdie groep Siriese kinders kon hul vreugde nie verbloem toe hulle Bybels ontvang het nie (Foto: Geopende Deure)

ʼn Belangrike boodskap…

Mag God deur FaithFluencers ʼn deur oopmaak vir die boodskap van ons vervolgde geloofsfamilie om oor landsgrense en verby tronkmure te versprei. Moenie bekommerd wees as jy ʼn episode misgeloop het nie, al die episodes sal ná die uitsendingsdatum steeds beskikbaar wees op YouTube om later weer te kyk.

Maak seker jy skakel in vir FaithFluencers elke Sondagaand op die YouTube-kanaal “Open Doors South Africa” – en word deur hierdie unieke ervaring geïnspireer om anders te leef!

Klik hier vir Geopende Deure se YouTube-kanaal of besoek www.opendoors.org.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.