Gedagte vir die dag: Word soos Hy!

vriende_strand_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Moenie dat liefde en trou by jou ontbreek nie; leef daarmee saam, maak dit ’n deel van jou lewe. (Spreuke 3:3)

Groei is deel van ons Christelike lewe. Die wysheid wat God gee, skud ons lewe. As jy by God jou wysheid leer, sal daar altyd een of ander beweging in jou lewe wees. Sonder God se wysheid is daar net ’n afwaartse kurwe van negatiewe “groei”. Positiewe groei, ’n opwaartse kurwe, is die gevolg van gemeenskap met God. Positiewe groei vind plaas as ons aan die voete van God sit, sy stem hoor en naby Hom lewe.

Wat is hierdie positiewe groei? Die spreukeskrywer sê dat leerlinge van God se wysheid getrou en lojaal moet bly aan dit wat vir hulle geleer word. Hy sê ook dat liefde en getrouheid die kenmerke moet wees van hulle wat op die pad van die wysheid loop.

Liefde en trou klink presies soos die eienskappe waarmee God dikwels in die Bybel beskryf word (Eks. 34:6). Wat beteken dit? Iets van God moet in ons lewe gestalte kry. Dis duidelik dat die Nuwe Testament ons oproep om soos Jesus te wees – die toonbeeld van God se liefde en trou (Joh. 1:14-18). Luister wat sê Petrus: “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur” (2 Petrus 1:3-4).

God se wysheid is die bron van groei. Hierdie groei bring meer van God se trou en liefde in ons lewe. Dis God se gawe aan jou. As jy hierin wil deel, is dit eenvoudig: Leef met jou oor teen sy mond!

Gees van die wysheid, maak my meer soos U – vol liefde en trou, in Jesus se Naam. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.