Gedagte vir die dag: Worstel met God

vrou_vrede_natuur_sonsopkoms_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: Pixabay.com

Jakob het alleen agtergebly, en ’n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heup been, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek.  Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. (Genesis  32:24-26)

In die Ou Testament lees ons dat God vir Jakob aangeraak het. Jakob het die hele nag met God geworstel. Het jy al agtergekom hoe dikwels die Bybel sê, wanneer iemand ’n ontmoeting met God gehad het, gee Hy vir hulle ’n nuwe naam? Abram het Abraham geword, Saulus het Paulus geword. “En Hy vra hom:  Hoe is jou naam?  En hy antwoord:  Jakob.  Toe sê  Hy:  Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin” (vers  2728). Sy naam is verander van Jakob wat beteken “bedrieër”, na Israel, die naam van God se mense tot vandag toe. Jy kan nie die lewende God ontmoet en dieselfde bly nie!

Die naamsverandering was nie al wat met Jakob gebeur het nie. Vers 25 sê: “Toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom.” God het Jakob se heup eintlik uit lit uitgeslaan. Vir die res van sy lewe was hy mank. Ek dink dit was vir hom ’n herinnering aan wie God is, en dit het hom meer  bedag  gemaak.

Dalk lees jy hierdie dagstukkie en sê: “Ja, God het my aangeraak. Hy het gesorg dat ek meer omsigtig is.” Jy weet  Jesus sê:  “As jou hand of  jou voet jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg van jou af. En as jou oog jou laat struikel, ruk dit uit en werp dit weg van jou af. Dit is vir jou beter om met een oog in die lewe in te gaan, as om twee oë te hê en in die helse vuur gewerp te word” (Matteus 18:89). Ek herhaal, ek sê nie dat Hy dit veroorsaak nie, maar Hy laat toe dat ons deur beproewing gaan om getemper te word.

My  Vader,  ek weet dat ek so dikwels voor U probeer uithardloop met my eie planne. Die wêreld bring my in versoeking om van die pad af te wyk wat U vir my bepaal het. U moet my terughou en my soms temper sodat ek op die regte pad sal bly.  Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Q ·

Ek kan ‘n paar keer in my lewe hiervan getuig! Ek is verskeie male “getemper” en effens vermink deur ABBA Vader, en elke keer is ek uit die “verkeerde kringe” verlos. Steeds is ek net mens, en vaal steeds voortdurend. Ek leef daagliks met die herinneringe van wie GOD is en bly bedag op Hom, deur alle struwelinge, maar ek WEET Hy sal elke tree daar wees vir my, om my op die regte pad te hou. Dankie Vader.

Agter die skerms ·

Liewe Jesus ek kom vandag op my kniee voor U en vra in U naam dat U my asseblief geduldig moet hou my God – vandag is ek in n stryd betrokke ‘n groot stryd. Hou my vas my God en gee my U krag. Amen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.