Gedagte vir die dag: Wysheid

Israel_berg_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees 2 Kronieke 15:1-15

“Toe Israel hom in sy nood tot die Here sy God bekeer het en na Hom gevra het, het die Here Hom deur hulle laat vind.” (Kronieke 15:4)

Koning Asa het beslis iets kosbaars van sy oupagrootjie Salomo geërf: wysheid. Reeds in die vorige hoofstuk lees ons van sy hervormings, van die regstellings waar sy onmiddellike voorganger, sy pa, gefouteer het. En van die ongekende tien jaar lange vrede wat Asa en sy mense toe beleef het. Niks bring soveel sukses soos sukses nie, lui die spreekwoord, en hierdie vredestyd het die ideale geleentheid gebied om die voorspoed in daardie uithoek van die wêreld uit te brei en te vier. Toe die profeet Asarja die koning boonop vertel dat die Here daar is vir hulle, het Asa nuwe moed geskep en die hervormings met oortuiging deurgevoer.

Ons lees later dat hy selfs sy eie ouma – koninginmoeder en ’n oortuigde afgodsdienaar – heftig teëgegaan het (vgl. 2 Kron 15:16). Dié dapper dade het spoedig vrugte afgewerp, en Asa kon sien en beleef hoe sy ryk groei en hoe vriend en vreemdeling hulle haas om hom te ondersteun. Ja-nee, sukses bring net nóg sukses … Wysheid, ook Asa en sy oupagrootjie s’n, begin mos met die dien van die Here. Só leer die Spreukedigter ons (vgl. Spr 9:10). En hoe maklik maak die Here dit nie vir ons om juis dit te doen nie! Dit word eenvoudig om Hom te dien, ja – want Hy laat Hom vind, sê sy profeet hier. Hy antwoord op sy mense se geroep.

En, nee, ons hoef Hom nie te gaan soek nie; Hy het ons reeds gevind. Al wat vir ons oorbly, is om die slim ding te doen: om Hom te dien en te dank.

Ek dank U, Here, dat U hier is, hier by my. Dat U my troos en leer.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.