Gedagte vir die dag: Wysheid en “informasie”

Stiltetyd-14.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

My raad aan julle is: Laat staan hierdie mense en laat hulle los, want as wat hulle wil en wat hulle doen, mensewerk is, sal daar niks van kom nie. Maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie. (Handelinge 5:38-39)

Dis die woorde van Gamaliël aan die Joodse Raad, woorde van wysheid, tot so ’n mate dat ’n mens wens jy het Gamaliël geken. Want soms is wysheid ’n skaars artikel, ook onder die geleerde Fariseërs.

Ons word vertel ons leef in ’n eeu van “ontploffing van kennis”, en van verbluffende “informasie-tegnologie”. Merkwaardig. Maar het ons wysheid soos Gamaliël? Want wysheid is anders as kennis of inligting van ’n duisend biblioteke. T.S. Eliot sê dat ons juis met al ons kennis die wysheid en lewe iewers verloor het:

Where is the Life we have lost in living?
Where is the wisdom we have lost in knowledge?
Where is the knowledge we have lost in information? (uit: The Rock).

In Gamaliël praat die ervaring, insig en verstand. Hy het al modes en mense sien kom en gaan. Los hierdie mense uit, sê hy, want as wat hul doen bloot mensewerk is, sal dit verbywaai. Maar as dit van God is, sal niemand dit keer nie.

En steeds na al die eeue probeer mense die wysheid van God keer en afspeel teen “ontploffings van kennis”. Maar God se wysheid is altyd oral aan die werk. Mag Hy vandag vir ons die wysheid van Gamaliël gee, om met niks op loop te sit nie, ons deur niks te laat onderkry nie en die waarheid sy loop te laat neem: die waarheid van sy Teenwoordigheid, die Lewe in die lewe.

Bron: In die Teenwoordigheid van God deur Izak de Villiers
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Yvonne

Dankie Here dat ek mag bid vir wysheid en insig…Amen