Gedagte vir die dag: Die wysheid van geloof

arms_uitgestrek_berg_natuur_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak. (Psalm 40:2-3)

Dit is nie ’n dwaas wat geloof het nie, maar ’n wyse man. Dit is eintlik die dwaas wat voortgaan om sy Skepper te bevraagteken. Die Woord sê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Is dit nie pragtig nie? As jy God ken, hoef jy nie te vra hoekom nie. Die wortel van geloof is die kennis van ’n Persoon. Jy sien, dit is juis die ding: As jy tyd saam met God spandeer en sy persoonlikheid en sy karakter leer ken, dan leer jy ook dat Hy nooit iets tot jou nadeel sal doen nie. Hy het jou te lief! “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee” (Johannes 15:13).

Die grootste opoffering wat ek ooit vir jou kan maak, is om my lewe vir jou te gee. Ek kan jou nie meer as dit gee nie. Dit is wat Jesus Christus vir jou en my aan die kruis op Golgota gedoen het – toe ons nog in sonde vasgevang was. Dit is die wonderwerk! Die Bybel sê dat ’n goeie man vir ’n ander goeie man sy lewe sal aflê, maar jy sal nie sommer sien dat ’n goeie man sy lewe sal gee vir ’n slegte man nie. Jesus het vir my en jou gesterf. Ons het nodig om die lydsaamheid van geloof te beoefen, want ek sê jou wat God ons belowe het, sal gebeur.

Ons moet daarvan bewus wees dat die wederkoms onvermydelik en naby is. Jesus Christus kom gouer terug as wat jy dink. Leef met jou hele hart en gee Jesus jou alles. Wanneer jy doodgaan, sal jy rus vind by Hom. Dit is die lydsaamheid van geloof. Ons Psalm sê vir ons: “Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die Here stel. U is my hulp en my redder; my God, vertoef tog nie!” (vers 5, 18) Die Woord sê ook vir ons: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). Ken jy jou God? Is jy ’n wyse persoon wat die wysheid van geloof verstaan?

My Vader, ek dank U dat U u Seun, Jesus Christus, na die wêreld gestuur het om my te red. Ek loof U vir u liefde en getrouheid teenoor my. Ek dank U dat ek in U rus kan vind. Ek wil al meer en meer van U leer en U beter leer ken. Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Yvonne ·

Dankie Here….my Redder en Verlosser vir U oneindige liefde

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.