Gedagte vir die dag: Zoem in op God se wysheid

agent-vir-God

Argieffoto

Lees: 1 Korintiërs 13:8-13

Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. (1 Korintiërs 13:12)

“Wie wysheid het, weet wanneer en hoe hy moet handel,” skryf die wyse prediker (Prediker 8:5). Indien ons God se wysheid van jaar deel van ons lewens maak, sál ons lewens ten goede verander.

Wanneer ’n mens van bo-op ’n berg na onder kyk, kry jy heeltemal ’n ander perspektief as wanneer jy op gelyk grond staan. Soms sukkel ons om sin te maak van die lewe omdat ons nie soos God van bo af kyk nie. Dinge om ons verander gedurig. Soms twyfel ons oor wat reg en wat verkeerd is.

Jy kan altyd die regte perspektief by God kry. “Die koninkryk van God is ’n bergtop van waar ek ’n uitsig het – waar groot dinge groot is en klein dinge klein. Daarom is die geheim om te midde van al die dinge rondom my boontoe te kyk – en van dáár af terug te kyk na my lewe,” skryf Johan Heyns in sy boek Wie fyner maal.

Indien die gebeurtenisse om jou en in jou eie lewe vanjaar nie vir jou sin wil maak nie, kyk gerus op na God. Word stil by Hom, dan sal Hy self vir jou die wysheid gee om te kan onderskei watter dinge belangrik en watter onbelangrik, watter dinge reg en watter verkeerd is.

Here, daar is so baie dinge wat my verwar en deurmekaar maak. Ek bid vir u wysheid en perspektief in my lewe; wys my wat u wil vir my lewe is. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.