Strategieë belangrik om toekoms te verseker

ekonomie-stockfoto

Dr. Frans Cronjé van die SAIRV het ook gesê dat werkloosheid in Suid-Afrika nie sal afneem indien die land dieselfde ekonomiese groei as in 2006 behaal nie. Foto: Pixabay.com

Solidariteit het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV) se sentrum vir risiko-ontleding die rol van gemeenskapsorganisasies in ʼn verswakkende staat tydens ʼn ontbytgesprek Vrydag in Centurion bespreek.

Dr. Frans Cronjé, uitvoerende hoof van die SAIRV, het tydens dié gesprek verskeie statistieke wat strek oor dekades bespreek.

Cronjé het tydens die seminaar aspekte soos geldwaarde, invoere en uitvoere, werkloosheid, landsbegroting, die bruto binnelandse produk, die huidige krisis met Eskom en belasting ter sprake gebring.

Hy het onder meer ook verwys na welsyn en onderwys.

“Van 2009 is die getal afhanklikes van welsynstoelae amptelik hoër as die getal mense wat werk. Die getal mense op welsynstoelae is om en by 16 miljoen teenoor slegs 5 miljoen Suid-Afrikaners wat inkomstebelasting kan betaal,” het hy gesê.

Dít ten spyte van ʼn meningspeiling wat toon dat die “dringendste” saak wat deur jong mense genoem word, werkverskaffing is.

Hy het ook gesê dat werkloosheid in Suid-Afrika nie sal afneem indien die land dieselfde ekonomiese groei as in 2006 behaal nie, iets wat volgens hom, aan die hand van ekonomiese beleid en ander uitdagings soos Eskom se kapasiteit om elektrisiteit te voorsien, dit byna ontmoontlik maak.

Cronjé het vier moontlike scenario’s vir die toekoms van Suid-Afrika voorgestel. Dié scenario’s is markgedrewe ekonomiese hervorming, ʼn vrye en oop gemeenskap, straffelose beheer en besit en ʼn ingrypende ontwikkelingstaat.

Cronjé het ook scenario’s vir die volgende twee tot drie jaar geskep indien iets drasties nie sou gebeur met die land se ekonomiese groei nie. Dié scenario’s sluit onder meer in dat eiendomsregte in gevaar gestel gaan word, belasting sal toeneem, geen werkskepping sal plaasvind nie en dat swak onderwysresultate sal voortduur.

Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, het gesê Solidariteit het sy eie strategieë soos ʼn opleidingsinstelling om ʼn goeie toekoms te verseker.

“Solidariteit se privaat tegniese opleidingsinstelling, saam met dié van BMW, word deur Siemens as die beste in Suid-Afrika geag. Ons het die opleidingsinstellings soos Akademia om ʼn toekoms te waarborg en mense gekwalifiseerd en diensbaar vir ʼn groeiende ekonomie te maak,” het hy gesê.

In lyn met Solidariteit se bestaande strategieë het Cronjé ʼn reeks voorstelle gemaak om vooruitgang vir minderheidsgroepe te verseker. Dié strategieë sou gemeenskappe soos families en sakeondernemings in staat stel om ʼn plan B te hê indien omstandighede sou verswak.

Dit sluit onder meer in dat ouers die beste moontlike onderwys vir hul kinders moet verseker, dat kanse om oorsee te werk aangegryp moet word om sodoende kontakte op te bou en kennis op te doen, en dat sakeondernemings groei in die buiteland moet probeer verseker. Dit staan as die sogenaamde verskansingsmetodes bekend.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Karmenaadjies, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Gemsbok ·

Dit is teleurstellend dat so min mense hul beywer vir ‘n derde weg tussen onderhorigheid aan ‘n katastrofiese ANC-regering of emigreer nie.

Orania is reeds meer as 20 jaar besig om met karige hulpbronne en min steun uit Afrikanergeledere ‘n alternatiewe werklikheid te skep wat die gevestigde dogma van algemene agteruitgang wat plattelandse dorpe (veral in die Karoo) kenmerk suksesvol uitdaag.

Indien Orania met slegs 1 000 inwoners en ‘n paar duisend uitwonende ondersteuners (uitwoners) dit kan regkry om gevestigde dorpe soos Petrusville en Strydenburg te oortref wat ekonomiese groei, kwaliteit onderrig, munisipale dienste en veiligheid betref, kan ons onsself net indink watter uitsonderlike geleenthede die dorp vir ons kan skep indien baie meer van ons betrokke sou raak.

Dit verg nie veel om ‘n bydrae te maak nie. Lidmaatskap van die Orania Beweging kos slegs R30 per maand, maar indien slegs 1 uit elke 10 Afrikaners betrokke sou raak kan honderde miljoene Rande jaarliks gebruik word om eksponensiële ontwikkeling te bewerkstellig.

Indien ons saamwerk is daar niks wat die ANC sal kan doen om ons te keer nie en kan ons ook vir die kwesbare lede van ons gemeenskap ‘n plan B daarstel.

Die alternatief is om ons bejaarde, ongeleerde en minderwelvarende vriende en familie aan die genade van die ANC oor te laat wanneer ons op die vliegtuie klim en koebaai sê.

Simon ·

Hallo Gemsbok, dit is inderdaad tragies dat meer Afrikaners jou voorgestelde middeweg nie oorweeg nie. Paar gedagtes daaromtrent:

1. Iewers langs die pad het baie Afrikaners besluit hul is nou kwansuis nie meer Afrikaners nie maar eerder iets soos Afrikaanses, Suid Afrikaners, Reenboog komponente of wat hul ook nou voel hulle vandag wil wees. Om een uit tien “historiese” Afrikaners te kry om te se hul sien hulself as Afrikaners is alreeds ‘n uitdaging.

2. Baie van die wat hulself steeds as Afrikaners beskou het klink my ook om verskeie redes probleme met Orania en dit klink of baie van die kwessies meestal te doen het met misplaaste persepsies. ‘n Besoek aan Orania kan dit gewoonlik maklik genoeg ter tafel lê.

3. Dit kan ook dalk gedebatteer word of Orania dit maklik genoeg maak vir Afrikaners om daar te vestig. Dit is nie altyd seker hoe welkom Afrikaners oor ‘n breë spektrum is nie. Is dit genoeg dat jy jouself as ‘n Afrikaner beskou en verbind is tot die vryheid strewe van die Afrikaner (wat alreeds per definisie baie “historiese” Afrikaners uitsluit). Die moontlike oplossing is natuurlik ‘n federasie van Afrikaner gemeenskappe, elk miskien met hulle eie unieke aard.

4. Die groot tameletjie is natuurlik werk en loopbaan geleenthede. Ek is seker genoeg van die wat emigreer sou Orania ernstig oorweeg het as daar genoegsame werk en loopbaan geleenthede was. Dit is hier waar ‘n inisiatiewe om ‘n suksesvolle en inklusiewe Afrikaner ekonomie op die been te bring van onskatbare waarde mag wees en waar ons entrepreneurs baanbrekerswerk kan doen en die sleutel tot suksesvolle en volhoubare Afrikaner vestiging in ‘n eie gebied hou.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.