Student spog met radiodrama op RSG

Erica Harris (middel) saam met twee vriendinne. Foto: Verskaf

Erica Harris (middel) saam met twee vriendinne. Foto: Verskaf

Erica Harris, ʼn derdejaarstudent in kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universiteit, se radiodrama Die eksentriekes word op 7 April uitgesaai as deel van RSG se eerste Radioteater-seisoen vir 2016.

Harris se drama vertel die storie van ʼn ietwat eksentrieke student wat toevallig ʼn vereensaamde inwoner van ʼn ouetehuis ontmoet en in die veel ouer vrou die vriendin kry wat sy nie onder haar medestudente kon vind nie.

“Ek het aanvanklik gedink aan die karakter van die student. Ek wou vir haar ʼn balans gee tussen die soms ligsinnige bestaan van ʼn student en die verantwoordelikheidsin van ʼn volwassene. Sy neem haarself aanvanklik te ernstig en dink sy is bietjie beter as haar medestudente, maar wanneer sy die ouer vrou ontmoet, begin die storie draai,” sê sy.

Harris het verlede jaar die RSG Sanlam radiodrama-skryfkompetisie se prys vir Jong Skrywer (jonger as 30 jaar) gewen met dié drama.

“Dit is vir my ʼn groot eer om dié erkenning van RSG te kry. Ek kan nie wag om daarna te luister op die radio nie.”

Harris vertel skryf is reeds van jongs af in haar bloed. “Ek hou al van kleins af daarvan om stories en karakters op te maak. Ek maak nou nog scenario’s en mense op om mee te gesels as ek verveeld is.”

Sy het reeds die inwoners van haar tuisdorp en haar familie gepor om naby die radio te wees vir haar drama. “Ek kom van Fort Beaufort in die Oos-Kaap, ʼn redelike klein dorpie. Almal in die dorp, asook my vriende en familie, is baie opgewonde om daarna te luister.”

Mari Snyman is die regisseur van Die eksentriekes met Elzabé Zietsman, Christine Voorendyk, Louise Eksteen, Hannes Coetzee en Heidi Mollentze in die rolverdeling.

Radioteater word elke Donderdag om 20:00 op RSG (100 tot 104 FM) uitgesaai. Die radiodramas word Maandagoggend tussen 01:00 en 02:00 in Deurnag herhaal.

Besoek RSG se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.