Studente laat klere waai vir droogtehulp

Veeartsenystudente laat die klere waai vir liefdadigheid (Foto: Verskaf)

Studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) se Fakulteit Veeartsenykunde op Onderstepoort trek jaarliks hul geboortepakkies aan om deur middel van ʼn kalender die kollig te plaas op ʼn belangrike saak in Suid-Afrika. In die jongste kalender, oftewel “kaalender”, gooi die groep studente hul gewig in agter die Droogtehulp-projek onder leiding van Burre Burger.

Teagan Scholtz, voorsitter van dié projek, het aan Maroela Media gesê die naakkalender is iets wat al jare lank gedoen word.

“Die kalender is in 2008 begin, so vanjaar is die tiende jaar. Ons is nou besig met 2019 se kalender. Hierdie jaar se kalender was die eerste een wat bewusmaking oor iets probeer skep het. Daar was byvoorbeeld ʼn maand vir ‘red die boer’, een vir die beskerming van bye, vir die bewaring van renosters, teen diskriminasie en vir wreedheid-vrye skoonheidsprodukte,” het sy gesê.

Die geld wat met die 2018-kalender ingesamel is, is aan ʼn plaaslike hospitaal geskenk ter ondersteuning van inloop-pasiënte. Die studente kon danksy hul kalender R40 000 aan die hospitaal skenk.

Veeartsenystudente laat die klere waai vir liefdadigheid (Foto: Facebook)

UP het hom van die begin af gedistansieer van dié kalender, maar die studente het besluit om steeds in hul private hoedanigheid daarmee aan te hou.

“Die studente geniet dit altyd en sien baie uit na die kalender. Die fotograwe en modelle is almal studente, so dit is almal mense wat ons ken, en ons kom in ons vrye tyd bymekaar vir ʼn goeie doel,” het Scholtz gesê.

Die kalender vir 2019 het ten doel om R40 000 in te samel om aan Burre Burger se bekende Droogtehulp-projek te skenk.

Scholtz het gesê die veeartseny-studente is intens besorg oor diere en hoe die droogte hulle beïnvloed, en dit is daarom dat hulle op die water-tema besluit het.

“Ons wil doen wat ons kan om vir diere [in nood] geld in te samel. Die waterkrisis is iets wat ons almal raak en ons is baie passievol daaroor. Dit lê ons baie na aan die hart. Ons sal onsself letterlik kaal uittrek daarvoor,” het sy bygevoeg.

Die studente berei voor vir ‘n fotosessie (Foto: Facebook)

“Die naaktheid sit almal op dieselfde vlak, sonder enige groepies of stereotipes. Almal is op dieselfde vlak as jy kaal of semi-kaal daar staan. Dit is net ʼn groep mense wat bymekaar kom vir ʼn belangrike saak,” het sy gesê.

Scholtz verduidelik dat almal op die dag waarop die foto’s geneem word, ʼn japon of ʼn handdoek saamneem.

“Almal hou hul japonne en handdoeke aan totdat die fotograwe hulle reg posisioneer het, dan word die japon uitgetrek en die handdoek verwyder, en dan word die foto geneem,” het sy gesê.

“Ons probeer regtig dit vir almal so gemaklik as moontlik maak. Almal neem vrywillig deel en kan sê hoeveel hulle bereid is om in die foto’s te wys. Hulle kan ook kies of hulle saam met mans, vroue of albei afgeneem wil word. Aan die einde is dit eintlik net ʼn lekker geleentheid waar almal kan pret hê en gelukkig kan wees – terwyl ons die diere help.”

Vir meer inligting of bestellings van die kalender stuur ʼn e-pos na  [email protected] of besoek hul Facebook-blad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

46 Kommentare

Jax ·

En enigste manier om aandag te trek en kalenders te verkoop, is om als uit te trek? Nee wat, ek is seker daar is beter middele as om naaktheid te “verkoop”

Boervrou in droogtegebied - Limpopo ·

Uiters onwelkom.
Beslis nie ‘n manier om iets rondom die droogte te verander nie.

Inteendeel!

Dít, hierdie onaangename gemors, laat my wonder presies hoekom ons deur droogte geteister word!

Samel geld in, daar is immers baie baie sinvolle maniere om dit te doen.

Blondie ·

So waar Boervrou en hartseer want die tipe van fotos sal beter verkoop as byvoorbeeld kalenders met fotos van die natuur op…… dan wonder ons oor droogte ens…

Estie ·

Ek stem 100% met jou saam, Jax. Wat maak mens met die kalender – hang jy hom in jou voorkamer of in jou kantoor?!

Andries Visagie ·

Ai tog, nou gaan almal weer op hol oor niks! Ek dink dit “gat” baie help om mense meer bewus te maak van die krisis. Welgedaan, dames. Bogger al die ou suurknolle.

Bloudrom ·

Dis maar net n klomp ou vrouens in hul oorgangsjare wat so kla. Ek dink ook dis n goeie idee.

Janine ·

Koddig hoe kinders moet daal tot die vlak van “pornografie”. Rerigwaar???

Andre C ·

Nou waars die mansstudente ?of trek hulle net uit vir die beskerming van bye

humor ·

Ag nee wat sommer net oppervlakkig, banaal en goedkoop. Onvolwasse manier om anders te wees.

Deon ·

Geen probleem ek sal die kalender in my kroeg, kantoor, en studeer kamer hang, baie goeie idee , want van die regering gaan geen hulp kom nie, wens julle alle voorspoed en sukses toe, moenie julle aan die afbrekende kommentaar steur nie, pragtig kan nie wag vir dit nie

Hendrik ·

Mattheus 5:28 Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.

Elkeen van ons moet besluit waar ons staan – Christen of Heiden. Daar is nie tussenin nie.

Derek ·

Gelukkig is daar wel die uitverkorenes wie die skoonheid van SY skepping in bewondering kan aanskou sonder onbeheersde selfsugtige duiwelse begeertenis, anders sou kuns in die middeleeue al ‘n stille dood gesterf het en die mensdom armer gewees het.

Bekkige Berta ·

Beleef die meeste van julle n blou Maandag op n Dinsdag want julle gaan aan oor niks nie!
As die kalender jou so pla, moet hom nie koop nie!
Dit gaan vir n goeie doel, gaan samel jy dan maar self geld in as jy aan beter maniere kan dink!!!

plattelander ·

hoe lekker lag ek nou vir al die mense se sêgoed.! ons was tog almal eens jonk! hou op oordeel mense!

Blondie ·

Amen. Dankie Hendrik, wens meer mans wil besef dat om so na ander te kyk en te begeer nie van pas is nie, en wens AL die meisies/vrouens en mans wat hulle lywe so adverteer en blootstel wil besef hoe verkeerd hulle is. Sonde is sonde en al hoe meer verskillende sonde raak al hoe meer “aanvaarbaar” en afgemaak dat dit nie so erg is nie. En dan vra ons waarom daar droogte, vloede ens. is. En nee vir die wat wonder ek oordeel nie en ek self is nie volmaak nie. Ons moet begin nader leef aan God en meer begin doen om vir God te lewe en nie vir plesier en onsself nie…

Kryger ·

@Blondie en Hendrik: Eerstens is die Bybelversie verkeerd vertaal – as aleenlopende man is dit letterlik onmoontlik om egbreuk te pleeg wanneer ek ‘n alleenlopende vrou “begeer”! Tweedens is ‘n vrou se lyf maar ‘n net ‘n deel, en nie altyd vir almal belangrik, voordat jy ‘n vrou “begeer” nie.
Derdens; As mans nou nie meer na vroue mag kyk sonder om te “begeer” nie, waar trek ons die lyn? Is bikini’s te veel, mini’s dalk, vroue enkels? Vir my is die groot aantrekkingskrag meestal die vrou se oe, beteken dit nou almal moet sonbrille dra (iets wat nie eens bestaan het 400 jaar na Christus toe hierdie Bybel boek geskryf is?

Blommie ·

Om n kaal veearts kalendar te doen is nie nuut nie! Google dit! Veearts Kampuse doen dit reg rondom die wereld! Well done julle – dit klink asof julle baie passievol is en dit baie geniet!

Se maar net 1 ·

Ja eenvormigheid met die wêreld
Nou leer ons om on liggame te verkoop vir geld want die doel heilig die middele.
Sou my doodskaam as dit my dogter was.
Alles om ‘n skamele R40 000 in te samel

Nudis ·

julle haal bybel versies aan en is so pragtig vir party.. ek glo nie aan god nie daarom pla julle opmerkings my niks…
al die fotos is met smaak en nie smerig nie.
Die meisies pose nie met suggestiewe maniere.. ontspan… daar is baie ander erge issues in die land.

ZAR ·

Ek sal verseker hierdie kalender koop….vir die goeie doel natuurlik.

Andrea ·

Lyk v my in heel goeie smaak. Sien niks pornografies daarin nie. As dit diere kan help, is ek dankbaar vir hul inisiatief. Sal enige tyd n kalender koop om hul te ondersteun. En waar hang ek hom? Net waar ek hom nodig het!

lewies ·

Die naiwiteit van hierdie groep studente is duidelik. ‘n skaamtelose moraliteit hoop nie dit is aan die orde by TUKS nie. Die bestuur behoort ernstige tugstappe teen die skuldiges te doen. Die ergste is: ek kry skaam vit die vrouens van die witras. Vrouens behoort almal hierdie optrede te verdoem. Is dit soos die ouers van die toekoms op Universiteite hulle gedra? Julle kan geen seen verwag op hierdie poging van julle nie.

Derek ·

Ek kry skaam vir die mans van die ‘witras’, sou hul almal beskaafde selfbeheersing kon toepas sal dit nooit nodig wees om die vroue van die ‘witras’ in lappe toe te draai sodat net hul oë uitsteek nie. Dan kan vrouens hul vroulikheid in werklikheid uitleef sonder vrees, soos wat die studente in die kalender doen.

dinkhardop ·

nou het ek amper alles gesien! ?
net jammer dit was gesensor

wonder ·

Stem saam , julle wat almaar kla is droe potte. geniet dit julle.

bgj van der westhuizen ·

die foto at hier gewys word sit die vrou in n bad en sy lk kaal maar alles wat nie moet wys nie is nog bedek dis waar oor huil almal daar word elke dag op tv en boeke vrou gewys met klere aan het wat party keur net so vel kaal kan gewees het wand alles wys dot is elke persoon se reg om te kies as jy nie daar van hou nie moet dit nie koop nie of as j il onder steen koop en gooi eg of verbrand dit

Verligtes laat die lig skyn ·

Mag julle inisiatief groot winste oplewer vir ‘n goeie saak. Baie geluk met wat julle tot dusver bereilk het. Moet julle nie steur aan die afbrekende en verkrampte eng kommentaar nie. Nie alle mense glo dieselfde nie.

marco polo ·

Liewe land, wanneer het Afrikaners dan so verkramp geraak? Ek dink dis n goeie idee, alle sukses.

Willie ·

Waar kan ek een koop???

Klomp suurknolle hier en heiliges wat in die jaar 2018 nog nie weet waar reen vandaan kom nie… sug

Maro ·

Verseker is ek ñ suurknol…waar is ñ kalender vir die dames? Ek gaan verseker nie ñ kalender met halfkaal vroue koop nie. Is daar net geen mansstudente nie?

Onnodig ·

Die fotos lyk smaakvol en dit lyk of dit pret was vir dames, maar ek dink dis sommer n stupid idee wat van oorsee af oorgewaai het. Ons hoef nie altyd volgelinge te wees nie.

M ·

WAT bly oor vir n volgende projek as hulle nou al nakend is? Wat gaan hulle volgende keer doen? Het jy agtergekom, hoe meer vryhede en bandeloosheid die mens hom toeeien, hoe ongelukkiger word hy.

Die volk is erg beswaard ·

Nie almal is emosioneel onvolwasse of kinderagtig nie. Wat is hierdie vryhede en sogenaamde bandeloosheid wat mense so ongelukkig maak??

Hoekom? ·

Maroela Media, kan julle vir ons verduidelik wat julle bedoel met die woorde “Christelike karakter” in julle beleid dat dit sogenaamd “die kern van ons redaksionele beleid” is?

Wil julle nie maar die woord “Christelike” uit jul beleid haal nie, want artikels soos hierdie en baie ander deur die jare bewys dat julle alles behalwe Christelik probeer wees. Sensasie is vir julle ongelukkig baie belangriker as om Christelik te wees. Dit is ‘n groot jammerte, maar Christen Afrikaners soek nog steeds n media arm wat werklik Christelik wil wees midde in hierdie wêreld.

lewies ·

‘n Paar kommentare na my eerste inset het net bevestig wat ek gevrees het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.