Taalmonument ken eerbewyse ter bevordering van Afrikaans toe

Suzie Matlhola. (Foto: Verskaf)

Suzie Matlhola. (Foto: Verskaf)

Suzie Matlhola en Ernest Loth is Saterdag deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) as die 2018-wenners van Neville Alexander-prestige-eerbewyse vir die bevordering van Afrikaans aangewys.

Die pryse, ter waarde van R10 000 elk, is tydens ʼn glansgeleentheid by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein deur Elvis Saal, voorsitter van die ATM-raad, oorhandig.

Matlholavan Johannesburg is die wenner in die kategorie ‘Iemand wat Afrikaans as ʼn medium gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder’. Sy is deur die ATKV, waarby sy reeds sedert 1988 betrokke is, benoem danksy haar passie vir Afrikaans en haar onvermoeide ywer om die taal aan nie-moedertaalsprekers te onderrig.

Matlhola het onder meer self Afrikaans verder aangeleer, gratis naskoolse klasse aan leerders in Soweto aangebied en ook ʼn ATKV-damestak in Soweto gestig wat vrouebemagtigingsprojekte van stapel gestuur het. Die afgelope paar jaar werk sy in vennootskap met die Universiteit van Johannesburg (UJ) om leerders selfs beter op te lei. Daar is tans ook sewe ander vrywilligers wat saam met haar Afrikaanse klasse in verskeie dele van Johannesburg aanbied.

Volgens haar benoemer, kollega Karien Brits, bevorder Matlhola se betrokkenheid by die gemeenskap nie net Afrikaans nie, maar verander dit ook mense se houding jeens die taal. “Dit gaan eintlik ook oor veel meer as net Afrikaans,” het Brits luidens ʼn mediaverklaring gesê.

Ernest Loth. (Foto: Verskaf)

Ernest Loth. (Foto: Verskaf)

“Dit gaan oor kinders en grootmense se lewens wat verander word – mense wat nuwe geleenthede in Afrikaans kry.”

Ernest Abraham Loth van die Paarl is die wenner in die kategorie ‘Iemand wat sy/haar tyd en lewe daaraan wy of gewy het om Afrikaans toeganklik te maak vir almal’. Hy is nie net ʼn Afrikaansonderwyser by die Hoërskool Klein Nederburg in die Paarl nie, maar ook ʼn skrywer, regisseur, dramaturg, beoordelaar, motiveringspreker en skilder wat Afrikaans op alle vlakke en in alle plekke bevorder.

Sy dramatekste, ‘Eendag is Daar’ en ‘Donkerland’, is opgeneem in verskeie Afrikaans‑ skoolhandboeke en word gereeld deur leerders en ander groepe opgevoer. In 2017 is hy deur die plaaslike munisipaliteit vereer vir sy matrikulante se 100%-slaagsyfer in Afrikaans.

Volgens sy benoemer, kollega Zhuale Sha, is Loth baie betrokke by die gemeenskap, onder andere by die plaaslike radiostasie KC waar hy programme aanbied en vervaardig. “Sy programme fokus onder meer op die regte van vroue op plase, op MIV/Vigs en mense met gestremdhede waardeur Afrikaans as ʼn medium gebruik word om mense te bemagtig,” het Sha gesê.

Loth het ook die skryf en regie van twee radiodramas, Sommer Net en Ompad na Ulundi, behartig en talle bekroonde verhoogdramas aangepak.

Volgens Michael Jonas, direkteur van die ATM, poog die eerbewyse om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder. “Vanjaar se keuses was selfs moeiliker as vantevore, want ons het werklik inskrywings van hoogstaande gehalte gehad. Ons bedank almal wat genomineer is vir hul onbaatsugtige werk om Afrikaans te bevorder; dit word nie misgekyk nie. Doe zo voort.”

Hy het ook die Oorlogsmuseum uitgesonder vir hul hulp om die geleentheid moontlik te maak. “Ons wil so nou moontlik saamwerk met ander instellings in die land om die Taalmonument beter bekend te maak onder alle Suid-Afrikaners.”

Die befaamde prof. Johan Lenake, kenner van Afrikaans en ander Afrikatale, was die gasspreker en het sterk klem gelê op die voordele van moedertaalonderrig en hoe om ouers te oortuig dat dit die beste sosio-ekonomiese voordele vir hul kinders inhou.

Lenake het vir dekades Sesotho onderrig, was onder meer ʼn skoolhoof in Fouriesburg en het talle skool- en akademiese boeke vir Suid-Afrikaanse tale, insluitende Afrikaans, help skryf. Sy MA-graadverhandeling in Afrikatale was getiteld ‘BM Khaketla as Dramakunstenaar’ en sy doktorstesis ‘The Poetry of KE Ntsane’. Al is hy byna 90 jaar oud, doseer hy steeds by onder meer die Noordwes-Universiteit.

Tydens die geleentheid het die musikant Wayne Jooste en digter Jemima Meyer die gaste met hul skeppende talente beïndruk. Die wenners het ’n sertifikaat en prysgeld ter waarde van R10 000, geborg deur Naspers, ten behoewe van relevante taalprojekte ontvang. Vorige wenners was die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde. Alexander (1936-2012) was ʼn bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.

Vir meer inligting oor die ATM en opwindende geleenthede wat daar plaasvind, besoek www.taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Vir navrae, skakel 021 863 0543/4809. Vir meer oor die Oorlogsmuseum, besoek www.wmbr.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.