Tatoes, rugby en die Wêreldbeker in Japan

ʼn Kaapstadse millenniër, Johann Bezuidenhout, met die Voortrekkermonument as tatoe. (Tatoeëring deur Mark Elliot.) Foto: Verskaf.

Deur Jan Bezuidenhout

As jy ʼn tatoe of twee het, moenie in Japan daarmee loop en spog nie – al is jy ʼn Springbok-rugbyspeler!

Spelers wat van 20 September tot 2 November aan die Wêreldbeker-rugbytoernooi (RWC) in Japan gaan deelneem, is ernstig vermaan om nié tatoeëermerke in die openbaar te vertoon nie – die Japannese gaan jou as ʼn boef uit die onderwêreld beskou.

In Japan word tatoes regstreeks met die Mafia, die Yakuza, verbind. Rugbyspelers wat aan die toernooi gaan deelneem, is deur die RWC-organiseerders versoek om dié Japanse beskouing te eerbiedig en hul tatoes te verberg as hulle tussen wedstryde in die openbare oog is. Dié versoek geld nie as spelers op die veld uitdraf nie: Japanse toeskouers sal by die stadions inligting oor spelers se vertoon van tatoeëermerke tydens wedstryde ontvang.

Talle rugbyspelers oor die wêreld spog met tatoeëermerke, soos die Kiwi Sonny Bill Williams, Israel Folau van Australië en ons eie Malcolm Marx en Francois Hougaard.

Marius Bosman en sy vrou, Chantell. Foto: Verskaf.

Wat is die storie oor tatoeëermerke? Marius Bosman van Gordonsbaai, een van die doyens van die tatoeëerkuns in Suid-Afrika, vertel oor dié gewilde ink-kuns wat vroeër jare as erg volksvreemd beskou is. So 30 tot 40 jaar gelede was tatoeëering die kentekens van bikers, eendsterte en wilde manne, maar persepsies het baie verander. Nou is dit volop, in ál die kleure van die reënboog. Dit is op elke denkbare stukkie vel van die mens se lyf. Op die tong, ooglede, op kaalgeskeerde koppe, voete en selfs op die intiemste plekkies!

Hoekom kry mense dit? Marius sê omdat talle bekendes in die sport-, film- en musiekwêreld tatoeëerings het, wil gewone ouens dit ook hê. Dink maar aan supersportsterre, soos Virat Kohli en Dale Steyn, die sokkerspeler Sergio Ramos van Real Madrid, Serena Williams, die Formule 1-renjaer Daniel Ricciardo en een van Suid-Afrika se swemhelde, Cameron van der Burgh.

ʼn Soektog op Google wys dat Tsaar Nicholas 11 van Rusland reeds in 1899 ʼn veelkleurige draak om sy pols laat teken het. Sir Winston Churchill het ʼn anker op sy regterarm gehad, in navolging van ʼn tatoe van sy Amerikaanse vrygees-ma Lady Jennie Churchill! Ander beroemdes met tatoes was pres. Teddy Roosevelt van Amerika (glo sy familiewapen oor sy borskas), die filmsterre Helen Mirren, Angelina Jolie en Emma Stone. Ook die sangers Justin Bieber, Pink en die gryskop-rocker, Rod Stewart.

Marius sê die opwinding van ʼn tatoeëermerk is waarskynlik in die skok wat dit vir sekere van jou vriende of familie inhou, of in die “wow, dis mooi”-opmerkings wat jy kry. “Later kry jy  nóg een. Mense raak versamelaars van tatoeëermerke. Talle professionele mense, soos dokters en regslui het dit, maar dis onder klere verberg.”

Sy belangstelling in tatoeëering is geprikkel toe hy as jong seun hom verkyk het aan die tatoeëermerke wat sy oupa as soldaat in die Tweede Wêreldoorlog aangeskaf het.

Ná sy diensplig in 1991 het sy eerste tatoe R5 by Johnny van Ruyterwacht gekos. “Ná my derde tatoeëering het ek gevra hy moet my leer. Johnny het dit gedoen en vir my ʼn tatoeëermasjien gebou,” vertel hy.

Marius het daarna, so 28 jaar gelede, met sy ink-en-naald-kuns op ʼn Tortoise-motorfietsrally op Malmesbury begin. “Ek het my in ʼn ou woonwa ingerig en van die bikers getatoeëer. Dié verdienste was net soveel as my hele maand se inkomste van R1200 by die Kaapstadse verkeersafdeling.” Hy het bedank en sy eerste ateljee in Stellenbosch oopgemaak.

Die Eikestad-stadsvaders het van sy ateljee gehoor en die etiese komitee afgevaardig om sy tjank te gaan aftrap. Sy verhuurder het tot sy redding gekom en die ooms is onverrigte sake en stert tussen die bene weg.

Op ʼn ander keer het ʼn biker sy Harley Davidson-motorfiets in die straat onder die ateljee geparkeer en Marius gevra om die enjin te teken, met die oog op ʼn tatoeëermerk. Marius het net met sy swembroek aan op die sypaadjie gesit en werk toe ʼn vrou met twee jong knapies verbystap. “Kyk mamma, die oom het prente op sy lyf,” het die een outjie opgemerk. Die moeder gryp toe haar kannetjies elk aan ʼn arm met dié woorde: “Nee, my kind, dis die duiwel wat daar sit!” En daar gaat hulle, lag Marius.

Aanvaar hy enige ontwerp vir tatoeëerwerk? “Nee, ek doen dit nie. Indien iemand met ʼn ontwerp opdaag wat nie vir my reg lyk nie, sal ek voorstelle doen om dit te verbeter. Indien die kliënt dit nie wil doen nie, moet hy of sy maar na ʼn ander ateljee gaan. Ek het op die harde manier geleer dat ʼn swak ontwerp tog my naam dra.”

Deesdae kos ʼn kleinerige tatoeëering so R500, sê Marius. En ja, kliënte kom soms terug om aan bestaande tatoeëerings te verander. Soos iemand wat sy meisie se naam op die arm laat tatoeëer het, maar nou sonder meisie sit! Mense wat tatoeëerings wil laat verwyder, word verwys vir laserbehandeling.

So: Mooi, of minder mooi tot lelik: Tatoeëermerke is deesdae ʼn algemene gesig by diegene wat dalk graag die kunswerke op hul lywe vertoon. Vir daardie “wow”-oomblik.  Maar, hou jou tatoe liefs verberg in Japan: Jóú son kan dalk sak in die land van die Opkomende Son!

Die uilvlerke en -kop waarmee Tani Rieben van Wagenhausen in Switserland spog, is van Marius se beste kunswerke. Foto: Tani Rieben.

Sy beste kunswerk?

Een van Marius se beste kunswerke is die uilvlerke en -kop waarmee ʼn Switser, Tani Rieben, spog. Dit het ʼn week geduur om te doen. Tani is ʼn vlugbeheerbeampte op die Wagenhausen-lughawe in Switserland. Sy Suid-Afrikaanse vrou was ʼn kliënt van Marius en het Tani en Marius aan mekaar voorgestel.

Tani sê hy is van kleintyd af dol op uile en hy en Marius het vyf maande voor die tyd ontwerpe vir dié tatoeëering bespreek. “Ek wou alles in een besoek afhandel. Marius het ʼn bespreking gedoen vir vier tot vyf ure per dag, oor vyf dae. Ons het die uilvlerke en die uilkop binne die vyf dae afgehandel.”

As ʼn mens op ʼn Saterdag by Marius en sy vrou Chantell se ateljee, Steel Chameleon, net onderkant die Steenbrasdam op Gordonsbaai instap, begroet Afrikaanse musiek jou. Boeremusiek en liedjies van Afrikaanse sangers soos Kurt Darren. Sommige kliënte vind dit vreemd, sê Marius, maar Saterdae is ʼn Afrikáánse dag in dié ateljee. Marius is lief vir Afrikaans, hoewel hy as ʼn Afrikaanse tatoeëerkunstenaar soms die wenkbroue laat lig, vertel hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Daan Erasmus ·

Sy persepsies en standaarde het verander. Myne nie. Ek dink soos die Japanese dat jy iemand uit die onderwêreld is.
Tatoeëermerke is net te permanent na my smaak

Logika ·

Ek sien niks daarmee verkeerd nie. Dit was bloot sosiale norme wat bepaal het dat tatoeëermerke (sp?) onaanvaaraar was, maar dit het nou verander.

Dit maak nie sin om iemand te oordeel aan die feit dat hulle tattoeëermerke dra of nie.

Peet ·

NIKS fout met tattoos nie, maar as dit teen die kultuur en land is, respekteer dit en beweeg aan.

Pensioenaris ·

Ek weet ek gaan nou sleg gese word, of outyds maar dis een woord vieslik vir my.

Danien ·

As die mens soos n advertensie bord moes gelyk het dan sou hy nie n mens gewees het nie.

Eendjies ·

Ek stem saam! Ek is mal oor die All Blacks s’n veral… het gelees die Maori’s se tattoo’s het baie betekenis uit hul kultuur.

Logika ·

Daar is diegene wat dink dit is “konserwatief” om nie van tatoeëermerke te hou nie of dat dit “outydse waardes” reflekteer. Dit is egter ver verwyder van die waarheid.

Die Afrikaner se keltiese en noorweegse voorvaderkrygers het bykans almal met tattoeëermerke gespog.

Myns insiens is dit ‘n persoonlike keuse; kan dit wel belangrike aspekte van jou persona na vore bring; kan dit ‘n kunswerk wees.

Dit kan ook ‘n fout wees indien mens oorhaastig, of na ‘n aand van harde kuier, die besluit neem.

Willie ·

Ja ons Keltiese en nooweegse voorvaderkrygers het dalk met dit gespog, maar toe word hulle christene. Ons voorvaders het baie goed gedoen wat nie reg was nie, dit maak dit ongelukkig nie nou reg nie.

DS ·

Ek ken baie mense sonder tattoes wat “vieslike” mense is en aan ander kant mense met baie tattoes wat wonderlike mense is. So watter een verkies jy? Elke persoon maak sy eie keuse. Ek het self ook tattoe gekry na my kind se dood en dit het my gehelp om te “cope” en deel van rouproses. . Nie een sekond spyt nie. So ja vieslik soos dit so kras genoem word is vir my pragtig en betekenisvol in my geval.

leser ·

vieslik en dit dra nie by tot jou christenskap nie
“Julle mag ook ter wille van ‘n dooie geen snye in julle vlees maak nie en enige ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE” (Levitikus 19:28)

Ma van so Kunstenaar ·

Aan Leser en die ander – L EVITIKUS 19:28 NLV
“Moenie snye op julle liggame maak as rougebruik oor dooies nie. (Moenie tatoeëermerke op julle vel maak nie), want Ek is die Here. RERIG. Dit sonde om mense te oordeel. Haal die balk uit jou oog wat so gou oordeel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.