Teen die spoed van duisternis

Lighuis_sonsopkoms_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Dis nag!” sê iemand nou die dag toe ons praat oor die situasie in die land. Mense begin weer donker plekke opsoek om blikkieskos te versteek, soos destyds met Mandela se vrylating. ʼn Klomp van ons erg patriotiese volksgenote maak weer planne om te trek, dié keer verder Noord, terug Europa toe. Want, verduidelik hulle, die toekoms van Suid-Afrika is te donker – hulle wil eerder hulle lig laat skyn daar waar dit reeds lig is.

Iemand het eenkeer opgemerk dat duisternis die enigste ding is wat vinniger as lig beweeg (net-net!).

Lig is een van die vreemdste verskynsels in die heelal. ʼn Ware misterie. Selfs die slimste wetenskaplikes wonder daaroor. Amper net so vreemd, is die gedagte dat ʼn lig misgekyk kan word. Die probleem met lig is egter dat dit dikwels op onwaarskynlike plekke wegkruip, soms só naby dat jy daaroor kyk.

Moeder aarde mag byvoorbeeld van buite af lyk na iets wat bloot die lig van die son weerkaats, maar sou ons dit kon waag om diep genoeg in haar in te soek, sou ons onder in haar donkerste, hardste dieptes, reg in die middel, afkom op ’n gloeiende lig – die aarde se kern is meer as 5 000 °C, so warm soos die oppervlak van die son.

Haar lyf is dalk van grond en klip, maar haar hart is lig!

Dis ook waar van ons.

Is dit nie interessant dat Jesus nooit sê ons móét die lig vir die wêreld wees nie, Hy sê ons ís die lig (Matteus 5:14).

Te dikwels kry ʼn mens die idee, geestelike groei beteken dat ek eintlik al minder ék moet word. Die teendeel is waar. Geestelike groei gaan juis daaroor dat ek uitkom by wie ek eintlik is. Dat ek my kern ontdek – en dit toelaat om in die wêreld te skyn.

Ons ego/sondige natuur (noem dit wat jy wil) weerhou ons daarvan om te ontdek dat ons geskape is na God se beeld; lieg vir ons oor wie ons eintlik deep-down is. Ons is dikwels te bang om te diep te soek, bang dat ons op meer duisternis gaan afkom. Dat alles uiteindelik in hulle diepste wese leeg, koud en donker is.

Die Bybel leer ons dat ons geskape is na God se beeld. God is in ons DNS! Dis hoe ons aanmekaargesit is. Paulus sê in Handelinge 17: “… deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.” As Hy nie in ons was nie, sou ons wegval in niks.

Dis ook waar van almal om ons.

Elke mens wat ek en jy vandag raakloop, is ʼn wonderwerk!

Agter elke vorm van snobisme, rassisme en seksisme sit ʼn miskenning van God se lig in ander.

Die Engelse spreekwoord sê: “It is better to light one candle than to curse the darkness.”

Jesus waarsku dat ons die lig in ons kan wegsteek – dat ons kan leef asof dit nie bestaan nie. En dis gevaarlik, want mense wat nie die lig in hulleself of ander kan raaksien nie, doen stupid goed. Monsters groei in die donker!

Mahatma Gandhi het na aanleiding van Jesus se woorde in die Bergpredikasie (Matteus 5:38) opgemerk dat die idee van ʼn oog vir ʼn oog die hele wêreld op die ou einde blind maak.

Miskien het die sogenaamde “groeiende duisternis” in ons land meer te doen met ons eie oë as wat ons wil erken. Duisternis is nie iets nie, dis die afwesigheid van iets: die afwesigheid van lig – of die ontkenning of die wegsteek daarvan.

Dit gaan rof in Suid-Afrika, ek weet, maar dis niks nuuts vir Christene om te moet skyn in donker tye nie. As die omstandighede waarin ek en jy vandag ʼn lig moet wees te veel is vir jou, gaan lees bietjie oor die konteks waarin die vroeë kerk dit moes doen onder die Romeinse regeerders. Die mense van daardie tyd sou dink ons is ʼn klomp sissies as hulle kon sien waaroor ons vandag so te kere gaan.

ʼn Kers is nie veronderstel om te moan in die donker nie, ʼn kers is veronderstel om te skyn in die donker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Theuns ·

Jaco tenspyte van baie goeie kommentaar net die volgende! Die manier waarop jy dit stel wat Jesus gese en dit wat Mahatma Ghandi gese het oor “Oog vir ‘n Oog” klink dit op jy dit stel dat Jesus daardie stelling goed praar en Ghandie nie en dat jy Ghandi hoer ag as vir Jesus self? Ek dink jy moet dit regstel sodat lesers nie die verkeerde idee kry nie. Lees maar weer die teks wat jy aanhaal oor wat Jesus gese het! Christin Groete.

Gert ·

Ai Theuns, Jaco probeer die punt maak dat as ons almal mekaar se oë vat
gaan ons almal blind wees, selfs Gandhi kan dit insien. Nêrens word Jesus met Gandhi vergelyk
of gelyk gestel nie. Ek dink dis voor die hand liggend wie van die twee vir ons die belangrikste is.

Vrede

Gert

Rhona Greeff ·

Ek dink nie ons moet ouens wat die land verlaat merk as dat hul na die lig uitwyk en die duisternis verlaat nie. As ons kyk watter reuse verskil hulle in alle uithoeke van die wêreld maak en veral hoe die Evangelieverspreiding blom, het hulle my seën.
Verder is dit maklik om te praat vanuit ‘n bevoorregte posisie as mens in ‘n beroep staan …ek verkies dat geestelike leiers prakties raak soos Stephan Joubert se stukkie in die afgelope Saterdag se Beeld. Ek wil toilette was vir veral my voorheen agtergeblewe swart broers en susters om te bewys ek wil die verkeerd omkeer ; uitreik omdat ek hier wil bly; uitreik omdat ek Jesus se liefde wil leef en veral aan hulle so wil demonstreer, maar dan dominee Jaco bly daar net geloof, hoop en liefde…..waars gebed? Ek vermoed dis nie daar genoem nie maar nou bly gebed en net gebed…HOE SKAAM KRY EK NOU DAT EK MY FLOU LIGGIE WIL LAAT SKYN MAAR EK VERGEET DAT JY NIE GEBED HIER IN JOU ARTIKEL GENOEM HET NIE WANT DIS VANSELFSPREKEND…& ekskuus dat ek vergeet het om oor die dinge en vir jou te bid, want wát wát wát my liewe dominee wát anders?

Marcelle ·

Dit is wonderlik om die woorde van ‘n vreeslose Christen te lees, wat nie in ‘n donker hoekie sit en bewe en kla nie, maar in geloof bereid is om te verduur en te oorwin! Dit is die krag en lig van God wat so praat. Dankie Jaco!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.