Teenstroperhond oorleef leeu-aanval

Akita (Foto: Johan de Beer)

Akita, een van die Krugerwildtuin se teenstroperhonde, was onlangs aan’t oefen toe sy onverwags deur ʼn leeu aangeval is.

Johan de Beer, bestuurder van die wildtuin se honde-eenheid, het aan Maroela Media gesê dié Belgiese Malinois is al sedert 2012 deel van die Rhino Dogs Project wat honde oplei om renosterstropers op te spoor.

“Akita is ʼn patrolliespoorhond. Sy is daar vir die volg en vang van renosterstropers. Sy kan ons tot by die stropers vat, maar is ook geleer om te byt,” het De Beer gesê.

“Ons werk in elk geval in uitgestrekte grootwildgebiede, so ons kan enige dag teen ʼn leeu vasloop. Maar hulle was aan’t oefen toe Akita in die bosse in verdwyn het. Die mense wat by haar was, het ʼn bakleiery in die bosse gehoor en gesien ʼn leeu het haar beetgekry. Hulle kon darem die leeu van haar af wegkry voordat dinge ernstig geraak het. Gelukkig het die leeu haar gelos.”

Akita (Foto: Johan de Beer)

Akita het diep snyplekke opgedoen waar die leeu haar gekrap het, asook ʼn bytplek bo haar stert gekry.

“Gelukkig was daar geen besering wat tot by ʼn spier gegaan het nie, dit was net haar vel, en hulle kon alles in Phalaborwa behandel het,” het De Beer gesê.

Volgens De Beer is Akita ʼn baie energieke, vriendelike en pligsgetroue hond. Sy het verbasend vinnig herstel.

“Dit gaan eintlik baie goed met haar. Sy sal seker teen volgende week, of die week daarna voltyds terug wees by die werk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

mc ·

Ag moedertjie ounooi se honnekind. So trots op jou Akita. Hoop jy word sommer gou gou gesond.

Nonnie ·

Mense, dis te warm om haar nou met rou beserings terug in die veld te stoot, laat sy eers herstel. Alla magtig mense, hoe het ons dit dan nou met julle, het julle koppe julle gelos?? Laat sy behoorlik herstel en laat haar dan stadig weer terug in haar roetine inkom.

HENK DU TOIT ·

Ag bekkie tog! Krimp my hart nou ineen vir daardie pyn. Julle lewe tog so vir die mens en dit is julle grootste vreugede on te dien. Geen hond het al ooit vir my gelieg nie en geen hond was al dislojaal teenoor my nie, daarom kry my siel meer seer vir ‘n dier met pyn as vir n mens. Sterkte Akita en oubaas weet daai bleddie leeu het slegter afgekom as jy.

Marietjie ·

Henk ek is so bly jy voel ook so, ek het al gedink daar is iets verkeerd met my want mense kyk my maar skeef aan as ek sê my hart kry seerder vir die diere as vir mense. Hulle is die wonderlikse, mees lojaalste siele op aarde (skies, ek glo regtig hulle het siele :)).

Gee tog vir arme Akita meer siekverlof mense, twee weke is heeltemal te min na `n leeu aanval. Liewe land, gee haar darem kans om behoorlik te herstel en sterk te word vir die werk. Sterkte Akita liefste honnekind…hoop jy sterk sommer vinnig aan

Poppie ·

Kon die mense haar nie net ten minste op n sagte bedjie laat lê het nie. Maak my sommer bedwaard indien mense diere/voëls nie behandel soos hulself graag behandel wil word nie.

Karolis ·

Het ek ook gedink. Le soos ‘n ding agter op die trokkie.
Wat van ‘n matrassie of kombersie Johan de Beer?

Andrea ·

Ag siestog!

Hoop sy kry tonne liefde en simpatie. Sy is duidelik in pyn. Sterkte, Atika!
Laat haar tog asb gesond word voordat sy met daai stukkende lyf die bosse moet in! Waar is haar mens se hart dan?! Wens sy kon by my kom aansterk het.

Ookso ·

Andrea ek stem saam@. Sy moet genoegsaam herstel voordat sy haar gevaarlike werk hervat.
Dierbare honnie met jou kan mens oorlog toe gaan. Gou gesond word!

Nettie ·

Eina, Mamma! Akita-kind, ek hoop jy raak sou gesond: ek hoop jou hanteerders gee vir jou ekstra TLC, al die antibiotika wat jy nodig het (leeus se tande is mos maar vrek vuil!) en baie “nannies”.

Maar julle verloor almal een ding uit sig: die hond (en mense) was in die leeu se gebied, nie andersom nie. Hond en leeu – werk nie lekker saam nie. Akita was gelukkig om redelik lig daarvan af te kom.

humor ·

Honde herstel baie gou met die regte behandeling. Soos weergee is dit net velletsels. Ek glo die mense sal na die 2 weke self oordeel.

Mossie ·

Akita jy het leeuemoed, welgedaan! Jy moet darem besef dat leeu-se-kind heelwat groter, sterker en seerder kan hap as jy! Let tog ook daarop, diereliefhebbers, dat leeu-se-kind in haar volle reg opgetree het, daardie stuk veld is immers hul regmatige woonplek.
Ek is net dankbaar dat mensehulp kon intree en dat Akita met liefde behandel is. Dis juis daardie liefde tussen hond en eienaar wat Akita vinniger as vinnig weer op die been sal bring en terug in die veld, waar ek 100% van seker is, Akita op haar gelukkigste is.
n Bosveldwoef in murg-en-been!

VanAfrika ·

Johan daardie bakkie maak baie seer as dit deur berge en dale ry en as die lyf verrineweer is deur n leeu is dit erger. Behandel asseblief hierdie getroue dier soos n patient en lê haar op die sitplek waar sy in elk geval hoort.

$killiekindNL ·

Ek hoop dat sy vinnig herstel en weer stropers jaag! ;-)

Anoniem ·

Wil nie, skinder, skimp of sleg praat nie maar die Malinois lyk presies soos n Duitse Herder. Hoe dit ookal sy, sy is een gelukkige hond.

Helena ·

Malinois is Belgiese Herdershonde en daar is ‘n paar variasies, Akita is die meer bekende tipe. Ek het ‘n Pure Black Malinois. Hoogs intelligent, uitstekende reuksintuig en nogal ‘n handvol want hulle het ‘n baie sterk persoonlikheid, maar baie liefdevolle omgee-honde.

Jozi ·

Meneer De Beer, hierdie arme Akita het ‘n baie ernstige besering in die werksplek oorleef.
Nou le sy met daai seer ou lyfie agter op ‘n bakkie , sonder ‘n kussing, kombers of behoorlike hondebed.
En dan moet sy weer oor ‘n week of wat aanmeld vir diens?
Nee man! Hoe dan nou?
Ek is oortuig daarvan dat indien u in ‘n leeu vasgeloop het die volgende sou gebeur:
1. Stop gou by naaste winkel vir ‘n nuwe (skoon) onderbroek;
2. Reis van daar af na hospitaal per ambulans of helikopter;
3. Sit ‘n lekker eis in vir beserings aan diens;
4. Neem behoorlike siekverlof om oor die ergste trauma (en verleentheid) te kom…
Kyk mooi na haar asseblief.

Johan ·

Mooi so oubaas se polisie spykerbek!Leeu se kind kan Bly wees hulle het die fight op gebreek!

Seriously ·

Wat gaan met julle aan?!
Dis net n ou brak, daar is nog baie by die spca

Helena ·

Die vraag is eerder wat gaan met jou aan, daar is ongelukkig baie van jou op aarde. Dis hoogs intelligente honde wat duur opleiding ondergaan om te doen wat hul doen nl renosterstroping voorkom.

Elize ·

@seriously. As daar meer mense met lojaliteit was soos wat ‘n hond het sou hierdie land ook beter gewees het. Dit is mense soos jy wat geen gevoel of gewete het wat ons het waar ons is. Ek is ook baie liewer vir diere as vir mense want hulle is nie skynheidlig nie

Lizelda ·

Ai, ou Akita hoop jy herstel ten volle en is sommer baie vinnig op die been. Baie liefde en drukkies van Faerie Glen, Pretoria.xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.