Tersiêre onderrig in klassieke styl

Stel jy belang in die Geesteswetenskappe binne ’n dinamies Christelike omgewing? Stel jy belang in Afrikaans as onderrigtaal? Die Afrikaanse Protestantse Akademie (APA) in Pretoria is dalk net die plek vir jou.

Moontlike loopbane by die APA

Die APA het soos soveel ander plekke wêreldwyd, sy ontstaan te danke aan teologiese opleiding. Dit word steeds as die instelling se grootste bate beskou. Daar is tot dusver ’n BTh-graad aangebied waarby studente van verskeie denominasies ingeskakel het. Ons strewe is om klassieke teologiese opleiding aan bedienaars van die Woord te bied. Na die basiese opleiding kan hulle dan na hul eie denominasies gaan vir afronding. Vanweë die veranderende omstandighede word daar tans ook gewerk aan ’n nuwe teologiese graad waaroor daar in die nabye toekoms meer inligting gegee sal word. Die APA bied verder ook ’n unieke BA-graad in aansluiting by ons teologiese opleiding aan. Dit is tans vir die meeste studente by ons instelling die eerste stap tot beroepe in die teologie, onderwys, en sielkunde. Dit verleen ook toegang tot ander beroepsmoontlikhede in velde soos menslike hulpbronne, taalberoepe en veelsydigheidsberoepe.

Die APA se geakkrediteerde grade het ’n klassieke grondslag wat die Bildung-gedagte ondersteun. Dit beteken dat formasie vir ons net so belangrik is as informasie. Ons stel die ideaal om studente te help vorm wat met hulle volle menswees roepingsbewus gaan lewe, met ’n oog vir die groter prentjie. Deur middel van onder meer gereelde wydingsdienste, ’n verpligte jaar Christelike filosofie of Bybelkunde, ’n halwe jaar oor Christelike wêreldbeskouing, asook studentepraktyke wat in lyn daarmee staan, strewe die APA om afgeronde mense tot diens van die gemeenskap te stel. Dit gaan nie vir ons bloot om mense vir ’n bepaalde beroep af te rig nie. Die APA wil mense eerder voorberei vir die lewe en toerus om elke denkbare uitdaging te hanteer en om leiers op hul betrokke gebiede te word. Uiteindelik gaan dit vir ons om ’n geïntegreerde lewe voor die aangesig van God op elke terrein van die lewe.

Nou ook NGOS 

Een van die beroepe wat altyd belangrik bly vir die vorming van ’n volgende geslag en nou aansluit by teologie, is natuurlik onderwys. Sedert 2018 bied die APA ook die geakkrediteerde Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) aan. Die NGOS dien as ʼn verdere professionele afrondingskwalifikasie vir studente wat ʼn Baccalaureusgraad voltooi het en tot die onderwysprofessie wil toetree. Studente wat hierdie kwalifikasie verwerf, is toegerus met die vaardighede wat nodig is om ʼn effektiewe onderwyser te wees. Met hierdie sertifikaat het iemand ook ’n baie beter moontlikheid om in te stap in die onderwys van leerders vanaf graad 7 tot 12 by enige plek in die wêreld.

Latyn vir oud en jonk

Daar is verbasend genoeg ’n nuwe generasie wat weer saam met ’n ouer generasie belangstel in Latyn. By die APA staan ons opgewonde op die voorpunt van hierdie gebeure. Ons het ’n bepaalde skool vir Latyn by die Universiteit van Pretoria oorgeneem en ontwikkel dit nou verder. Die naam van die sentrum vir Latynse studies is Academia Latina. Die Latynse kursus heet Schola Scripta en bestaan uit vier modules wat by wyse van afstandsonderrig aangebied word. Dit is ontwerp om enige belangstellende vanaf graad 6 (11-12 jaar) aan die rykdom van Latyn en die klassieke wêreld bloot te stel. Ons oudste student is tans 82 jaar en is vinnig besig om kursusvlak III te voltooi. Ons leermetodes maak dit aangenaam en vol leeravontuur.

Ons bied verder ook ’n spesiale program aan vir predikante, studente en enige een wat belangstel in kerklike Latyn. Deur hierdie kursus is dit moontlik om met die rykdom van die Vulgaat, Latynse kerkvaders en belydenisskrifte, wat oorspronklik in Latyn geskryf is, kennis te maak en uiteindelik selfs sonder veel moeite te kan lees. Meer nog, indien ’n persoon vyf modules suksesvol geslaag het, is dit slegs nodig om een verdere module te voltooi indien iemand wil kwalifiseer om vir Latyn op tweedejaarsvlak op universiteit in te skryf.

Registreer betyds vir bepaalde kursusse wat eers in die tweede helfte van die jaar begin, en moenie te lank wag vir 2019 nie. As private instansie het ons natuurlik ook waardering vir elkeen wat ’n hart en ’n beursie het vir instellings wat klassieke Christelike onderrig belangrik ag. Vir verdere inligting, besoek gerus ons webblad by www.apa.ac.za of kontak Elanie Bierman by 012 344 3960 tydens kantoorure of epos: [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.