Tien jaar in Zimbabwiese tronk al is hy onskuldig

rusty-zim-01

Rusty Labuschagne (56) in die eerste ses jaar in Zimbabwe se maksimumgevangenisse net een stel klere gehad om aan te trek, op papierdun komberse vol luise geslaap en meer as 2 000 mense om hom sien sterf. Foto: Verskaf.

Nooit sou ʼn mens op die oog af kon raai dat die man met die gemoedelike blou oë tien jaar in een van Zimbabwe se berugste tronke deurgebring het nie.

Dít in ʼn tyd toe die land nie net ʼn totale ekonomiese inploffing beleef het nie, maar ook met ʼn cholera-uitbreking te kampe gehad het. Kyk jy na die fyn plooie oor sy gesig, kan jy dalk dink hierdie is ʼn man wat maar net baie tyd in die buitelug geniet.

Tog het Rusty Labuschagne (56) in die eerste ses jaar in Zimbabwe se maksimumgevangenisse net een stel klere gehad om aan te trek, op papierdun komberse vol luise geslaap en meer as 2 000 mense om hom sien sterf.

Labuschagne, ʼn nasionale rugbyspeler en suksesvolle sakeman, se lewe het in Desember 2000 onherroeplik verander nadat hy daarvan beskuldig is dat hy ʼn stroper verdrink het.

Labuschagne, wat ʼn gewilde visvangoord op die Kariba-meer bedryf het, is in 2003 vyftien jaar tronkstraf opgelê vir ʼn moord wat hy nie gepleeg het nie.

“Ek het maar altyd teëspoed met die visserskoöperasie gehad wat my oord se bure was en ek het dikwels hul nette gesny en druk op hulle probeer plaas om nie die meer leeg te stroop nie.”

In 2000, met die aanvang van grondgrype in Zimbabwe, was dit of die wetteloosheid in elke hoekie van die land ingesypel het.

As Labuschagne vandag moet probeer verduidelik waarom hy 10 jaar in die tronk spandeer het vir ʼn moord wat hy nooit gepleeg het nie, reken hy dit was omdat die koöperasie moeg was vir die druk wat hy op hulle geplaas het.

Hy het in daardie Desember twee stropers uit die Kariba-meer verjaag. Die stropers se boot het in die nasleep van sy boot se golf omgekeer. Hy onthou nog hoe hy albei mans drie meter verder aan die oorkantse wal sien uitklim en weghardloop het.

Groot was sy verbasing toe die polisie die volgende dag aan sy deur klop en hom van moord beskuldig.

“Om ʼn lang storie kort te maak, die vissermanne, polisie en regstelsel het ʼn komplot teen my gesmee in ʼn lelike politieke sameswering. Sonder ʼn lyk, teen die bewyse en op niks anders as aannames nie, is ek skuldig bevind en 15 jaar tronkstraf opgelê waarvan ek tien jaar uitgedien het.”

Daardie eerste dag in die tronk

“Ek kan jou vertel jy het geen idee van die vernedering nie. As jy in die tronk se oefenwerf instap, word jy van al jou klere gestroop. Ek kan onthou hoe duisende paar oë na hierdie poedelnakende wit man gestaar het. Dit is skrikwekkend. Nee, dit is eintlik erger.”

Labuschagne vertel hoe hy in ʼn stadium ʼn sel met 78 gevangenes gedeel het. Elkeen van hulle het ʼn spasie van 33 cm gehad wat met bordkryt teen ʼn muur uitgemerk is.

“Praat met my oor vryheid as die lug wat jy inasem nie eers jou eie kan wees nie, want jou persoonlike spasie is só min.”

In die Chikurubi-gevangenis het elke gevangene ʼn koppie water per dag ontvang.

“Een koppie vuil, oranje water wat opgevang is van ʼn dam buite die tronk en daarmee moes jy jou dors les, jou tande borsel en was. Vir vier jaar terwyl ons net vier uur per dag buite in die oefenwerf mag spandeer het.”

Daar was talle gevegte, messteke en selfs verkragtings in die tronk, maar Labuschagne is dit alles deur die genade gespaar.

“Ek kan vir jou sê voordat ek in die tronk gestop is, het alles net oor myself gegaan – hoe goed my sakeondernemings gedoen het en hoeveel geld ek gemaak het. Nadat ek vrygelaat is, het ek besef die lewe gaan oor ʼn doel. Ek het alles verloor, my maatskappy het gesneuwel, maar om ʼn verskil in mense se lewens te maak, gee my soveel meer genoegdoening, veel meer as wat geld ooit voorheen kon.”

Hoekom praat hy so maklik

ʼn Mens kan nie anders as om te wonder hoe Labuschagne sy storie sonder ʼn sweempie haat of verwyt kan oorvertel nie.

“Jong, vir my is dit terapeuties om daaroor te praat,” sê hy sommer dadelik.

Hy erken ook net so vinnig dat hy die stropers, die polisie, die regters, die tronkbewaarders en regering bitterlik gehaat het vir die eerste twee jaar wat hy opgesluit was.

“Ek het hulle almal die ergste moontlike goed toegewens omdat ek onskuldig in hierdie hel gegooi is.

“Op ʼn dag het ek net besef my vurige haat is besig om my te verteer terwyl hierdie mense geen snars weet van die verskriklike goed wat ek hulle toewens nie. Ek het geweet ek moet dit in God se hande oorlaat en aangaan met my paadjie en dit wat daarop vir my geplaas is.

“Dít was die verandering – nie ʼn groot godsdienstige ding nie – eintlik net ʼn geloofsding. En gebed het gewerk, ek kon dit elke keer voel as ek bid.”

Vandag sit hy met ʼn helder glimlag op sy gesig en praat oor daardie bitter moeilike tye: “Ek het net besluit ek gee hulle (die stropers, regering en polisie) nie meer ʼn enkele sekonde van my denke se tyd nie.”

Vier groot lewenslesse

Labuschagne glo positiwiteit, die krag van vergifnis, dankbaarheid en die waarde van ware vryheid is die lesse wat hom deur sy tronkstraf gedra het.

Hy vertel met ʼn skaam laggie van sy fantasievlugte met sy denkbeeldige vriendin, Cherie, wat hom deur sy donkerste tye gedra het.

“Ek het hierdie wonderwêreld geskep waarheen ek kon ontvlug, min wetend dat wetenskaplike navorsing keer op keer al bewys het dat wanneer mens dink, sien en voel, jou brein ʼn sein skep wat elke sel in jou liggaam beïnvloed, en 98% van daardie sein word deur jou denke veroorsaak. Dus, elke gedagte het ʼn direkte fisieke uitwerking op jou liggaam.

“Ek het gedoen wat ek doen om te oorleef voordat ek heeltemal besef het wat die ware effek van positiewe denke op jou kan wees. Ek het geleer om dag vir dag met geloof te leef, want geen hoeveelheid bekommernis sou my situasie of my lewe verbeter nie.”

Hy reken die grootste les wat hy in tronk geleer het, was ware vergifnis.

“Ek het vergifnis met die hulp van God gevind. Om te leer om te laat gaan, was soos om ʼn groot gewig van my skouers af te laai. Dit het my ook gehelp om net in die oomblik te leef sonder om verstrengel te raak in die pyn van die verlede of die verbreekte beloftes van die toekoms.

“Ek wil vandag aan enige iemand sê wat met woede sukkel of ʼn wrok koester: dit gaan jou vernietig, want dit is wat dié soort gevoelens aan jou doen – dit steel van jou – dit steel jou geluk en jou vryheid.”

  • As jy eerstehands meer oor Rusty se verhaal wil lees, kan jy sy boek Beating Chains Besoek gerus sy webwerf of Facebook-blad vir meer inligting oor die boek of sy motiveringspraatjies.
  • Luister ook na die podsending boaan hierdie berig. Rusty het in Maroela Media se ateljee kom kuier en sy inspirerende verhaal met Esté Meyer Jansen gedeel van hoe hy sy tyd in van Zimbabwe se berugste tronke oorleef het. Hy vertel ook van die lewenslesse wat hy in dié tyd geleer het en hoe hy besef het wat ware vergifnis beteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Marietjie ·

Ek gaan defnetief jou boek koop.So baie dinge wat jy se is so waar. Haat en verwyt maak mens siek.

Gesiggie ·

Ek haal my hoed af vir jou… jy is n ware held , ek kan my self net indink deur wat jy als moes gaan?? hoekom kon jy jouself nooit onskuldig bewys… 10 jaar van jou lewe is weg agv die regering wat jou nie wou glo” God het saam jou die pad gestap, en vandag het jy soveel om te vertel… deur Die krag van God was jy tot als in staat.. jou storie getuig regtig van iemand wat soveel moes deurmaak, maar nogsteeds vergewe het… Well done Rusty.. mag jou pad van nou af met sukses en als wat mooi is in die lewe besaai word.

Andrd ·

Jy is n beter persoon as ek om 10 jaar weg te gee sonder om te haat maar sterkte voorentoe

Besemryer ·

Ek stem saam. Daar is geen manier hoe ‘n sulke walglike mense kan vergewe nie. Daar is seker mense wat dit oor hulle harte kan kry. Vergewe is ‘n maklike term. Dit is vergeet wat die moeilike dinge is. Maar nee, ek sou hoegenaamd geen vergifnis vir hulle he nie. Hy is inderdaad ‘n beter mens

Luister ·

Alle voorspoed, vrede en liefde vir Rusty.
Aan Andrd en Besemryer: Lees met aandag wat Rusty sê; en besef dat om iemand te vergewe; stel nie hulle vry nie, maar jouself. Om iemand te haat, is soos om gif te drink, en te hoop die gehaate een sterf. Laat gaan! Die wraak kom God toe.

White Rhino ·

Dit is verskriklik!
Gaan ook die boek koop!
Sterkte vorentoe! Jy is nog jonk genoeg!!

Theresa ·

Wonderlik dat hierdie man so dapper is. Die seëninge het reeds begin daar waar hy aan als wat wreed is, blootgestel was, maar beskerm was. GROOT genade!!

Celtis Africana ·

” In 2000, met die aanvang van grondgrype in Zimbabwe, was dit of die wetteloosheid in elke hoekie van die land ingesypel het.”

In 2019, met die aanvang van die grondgrype in Suid Afrika, was dit of die wetteloosheid vertienvoudig het.

Sonder om afbreek te doen aan n pragtige boodskap van hoop, laat ons die stram knieë buig in aanbidding ten einde die lot gespaar te word. Jou werk, jou inkomste, jou bates en bateverskansers, jou sekuriteitstelsel en skietysters, is in totaliteit nutteloos in die situasie en dit is met n spoed oppad.
Net die Almagtige kan ons situasie verander.

Ella ·

@Celtis Africana jy is reg dis verskriklik maar dis waar.
Ons gaan nog se: waar berg ek my, waar vlug ek heen. Soos in die Bybel.
Mag daar uitkoms kom bid ek met my hele hart, siel en verstand.
Sterkte vir daardie merkwaardige man.

JA kat! ·

kat: Lees laaste paragraaf – hy het in Maroela se ateljee kom kuier ens…

Andrea ·

Liewe genade, hoop hy is vry. Wat n verskrikking. Ek het baie bewondering vir jou, Meneer. Baie sterkte, hoop jyt mense wat jou ondersteun en dat jy n mooi lewe het.

Sê maar net 1 ·

Ek salueer jou meneer. Min mense sal soos jy bo jou haglike omstandighede kon uitstyg.
Maar laat die wat lees oplet – die regering het nie eers omgegee vir bewyse teen die man nie. Die wat vir vra bring die doodstraf, hoop jul lees hier.

Diefie ·

Wow, jy is ‘n wonderlike inspirasie vir my. Dankie dat jy jou ondervinding met ons deel. Mag dit goed gaan met jou.

MisouSA ·

Wat ‘n man!
Hoop hy kry soveel erkenning soos Nelson Mandela!
Nelson was baie meer skuldig… met hordes moorde en bomme.. en word vandag nog as ‘n ‘godjie’ gesien, omdat hy met ‘vrede’ uit die tronk gelaat is.
Selfs Eugene Terbanche wat tronkstraf gekry het, was meer van ‘n held as hy….!
Hoe blind en siek en oningelig is die wereld nie????

E.K. die eerste ·

Sterkte en vrede vorentoe. Mag jy baie voorspoed beleef. Ongelukkig is jy nou in ‘n land waar grondgrype ook wil begin…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.