Tim du Plessis: ‘Ons Afrikaansheid maak ons uniek’

Tim du Plessis. Foto: Facebook/Tim du Plessis

Tim du Plessis. Foto: Facebook/Tim du Plessis

Tim du Plessis, hoof van Aktualiteit by kykNET en een van die beskermhere van Projek Afrikaans, het met Maroela Media gesels oor hoe sy Afrikaans lyk.

Tim sê hy is positief oor die toekoms van Afrikaans aangesien dit goed gaan met die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf en selfs die media (hoewel gedrukte media onder druk verkeer), maar dit beteken nie dat Afrikaansprekendes op hulle louere kan rus nie.

Sekere wanopvattings bedreig die taal, waarsku hy. Afrikaans as akademiese taal verkeer boonop onder hoë druk wat ook rede tot kommer is.

“Daar is ʼn wanopvatting dat kinders ʼn beter toekoms het as hulle onderwys in Engels ontvang. Dit is sommer nonsens. Ons het presteerders in ons land wat op die wêreldverhoë speel wat in Afrikaanse laerskole, hoërskole en universiteite was. Dis beter vir jou om jou opleiding in jou moedertaal te kry – van daar af kan jy die ander konsepte gaan aanleer.”

Hoewel die wêreldwye handelstaal Engels is, sê Tim dit is nie genoeg rede om te verengels nie.

“Hoekom verengels die Chinese, die Franse en die Duitsers nie? Dis ʼn drogredenasie. Jy moet net leer om ordentlike Engels te praat, maar Afrikaans bly jou hartstaal en jou moedertaal.”

Tim meen nog so ʼn wanopvatting is dat alle Afrikaanssprekendes standaard-Afrikaans moet praat. “Ons moet wegkom daarvan – Afrikaans is baie meer inklusief as dit. Ja, standaard-Afrikaans is daar, maar Afrikaans is vir almal wat die taal praat sodat almal in die taalgemeenskap mekaar kan verstaan.”

Tim sê juis daarom is projekte soos Afrikaans.com ʼn tydige en nodige inisiatief.

“In ʼn globaliserende wêreld word die soeke na uniekheid al meer. Ons wil tog nie almal Amerikaners of Britte wees nie. Ons wil nie almal dieselfde taal praat en dieselfde klere dra nie. Daar moet iets wees wat jou bietjie anders maak – ons het daai voordeel, ons Afrikaansheid maak ons uniek, dit maak ons interessant.”

Besoek Afrikaans.com vir alles in Afrikaans.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JC ·

Ditto, ons is uniek, en moet opnuut, en aanhou, veg daaroor en daarvoor!!

Theuns ·

JC kontak jy vir Tim en die ander kommentators hier, op jou Bakkies Blad, dan gaan haal ek gou vir ons ‘n paar biere uit my Koel Koffer!

Bakkies Blad (Facebook) en Koel Koffer (Cooler Box)

Groete

HEVW ·

Daardie hunkering na uniekheid is diep gewortel in die wese van die mens. Elke mens wil uniek wees en verdra nie n slaafse navolging van ander nie. Dieselfde geld ten opsigte van n bepaalde volk.

Kobus ·

Dankie Adéle, vir die berig, dit was nou goed om Tim se foto hier te kon sien en veral sy siening te kon lees, hy bring altyd waarde na die tafel toe. Wil julle hom nie vra om gereeld vir julle ‘n bydrae/skrywe vir plasing te stuur nie?

Lance ·

Hoekom word almal dan saamgedrom en word mens se kultuur, taal en waardes so misken vertrap en verkrag

Theuns ·

My taal is my jas
Gemaak by my skool
Dit maak my anders
Sing,lag of huil
mense raak stil
As hulle luister, hoor
‘n melodie bekoor

Elsa ·

Ek hou baie van jou kommentaar , Theuns! Ek voel net Bakkiesblad en Koelkoffer moet eenwoord wees…jy weet mos een begrip !???

Theuns ·

Elsa ek stem 100% saam met jou. Ek sal die woorde gebruik soos jy voorstel. Baie Dankie.
Groete
Theuns

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.