Trampolienklub spring 24 uur lank met oog op nuwe mat

Offering Tlaka (agter), Tshepang Mambolo (links) en Gerrit van Lill (regs). Foto: Verskaf

Offering Tlaka (agter),
Tshepang Mambolo (links) en Gerrit van Lill (regs). Foto: Verskaf

Die Klim-Gim-trampolienklub in Montana, Pretoria, ploeg nie net terug in die gemeenskap deur die skep van geleenthede vir minder bevoorregtes nie, maar lewer ook internasionale gimnaste op.

Die trampolienklub bestaan reeds agt jaar en die afgelope vier jaar kom die klub in die buitelug oor die weg weens ʼn gebrek aan geskikte geriewe.

Die klub het tans drie Protea-gimnaste wat op ʼn permanente grondslag by die klub oefen. Offering Tlaka, die hoofafrigter, het reeds aan verskeie internasionale kompetisies deelgeneem. Die jongste Protea-gimnas, die 11-jarige Tshepang Mambolo, het onlangs presteer in die internasionale World Age Group-kampioenskap in Denemarke. Gerrit van Lill, nog ʼn jong lid van die klub, het onlangs vyfde plek in die Region 5-dubbelminikompetisie verwerf.

Dié klub is boonop betrokke by uitreikaksies. “Verskeie van die gimnaste is kinders van die Jakaranda-kinderhuis. Ons probeer vir die kinders geleenthede skep wat dit andersins nie sou hê nie. Ons ondersteun hulle in alle opsigte in terme van kompetisies, vervoer en trampolienoefening,” sê Marianne van Lill, koördineerder en tesourier van die Klim-Gim- trampolienklub.

Van Lill sê daar is ʼn duidelike verskil in die lewe van die kinders van die Jakaranda-kinderhuis wat betrokke is by die klub. “Hulle kry nie net die geleentheid om aan ander aktiwiteite deel te neem nie, maar hulle algemene lewensvaardighede, konsentrasie en uithouvermoë het ook verbeter. Die sportsoort gee hulle die geleentheid om selfvertroue te kweek.”

Die klub het onlangs ʼn terugslag gehad. Die enigste trampolien van Olimpiese standaard is erg beskadig as gevolg van verwering en weersomstandighede. Hoewel trampoliensport tradisioneel ʼn binnehuise sport is, is dié klub se trampolien in die buitelug omdat hulle nie ʼn voldoende gebou het nie. ʼn Olimpiese trampolienmat kos en om by R40 000 vir die mat alleen.

“Ons gimnaste kan dus nie oefen vir hulle opkomende kompetisies nie. Ons moet dringend geld insamel om die mat te vervang. Die mat moet ingevoer word want hierdie soort trampolienmat word nie plaaslik vervaardig nie,” sê Van Lill.

Die klub beplan op 26 en 27 Februarie ʼn geldinsamelingsprojek. Dié projek neem die vorm aan van ʼn trampolien-marathon en die klub gaan poog om minstens 24 uur aaneen te spring. Vir belangstellendes en die publiek is daar verskeie kosstalletjies en ʼn rekspring-trampolienvertoning asook vertonings deur Protea-gimnaste.

Besoek die Klim-Gim trampolienklub se Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.