Trauma met telebemarkers

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

Ek kry minstens drie keer per week oproepe van vreemdelinge wat die een of ander produk aan my wil verkoop – meestal selfoonprodukte of versekering. (Die gemiddelde Suid-Afrikaner ontvang blykbaar 15 van hierdie ongevraagde én onwelkome oproepe per maand.)

Hoewel ek my bes probeer om beleefd te bly, is ek besig om lekker keelvol te raak want “nee” is duidelik nie ʼn woord in Riglyne vir Telebemarkers nie. As daar so iets bestaan… Hoe meer ek (beskaafd) sê: “Nee, dankie – ek skaf nie dienste oor die foon aan nie”, hoe meer torring die persoon totdat ek naderhand waarsku dat ek nou net die foon gaan neersit wat ek dan doen en later oor skuldig voel. Glo my, ek beny nie die foonvegters hul werk nie, want ek het ʼn vermoede hulle loop deur onder baie skerp tonge, maar iemand moet hulle met ʼn bietjie telefoonetiket help.

Vrydagmiddag se oproep, skuins voor sesuur (!) was die laaste strooi. ʼn Persoon van ʼn bekende sekuriteitsmaatskappy is op die lyn en hoewel ek rééds van hul dienste gebruik maak, probeer hy ʼn bykomende, peperduur gadget verkoop. Nadat ek drie keer rustig verduidelik het dat ek reeds hul “beskerming” geniet en nie in dié stadium in enige verdere knoppies of kameras belangstel nie, raak die man aggressief en begin al hoe harder en óór my praat. En toe het hy boonop die cheek om vir my te sê ek misgis my lelik; dat álmal kan doen met meer sekuriteit.

Dit vat nogal baie vir my om regtig my stem te verhef en dié geval was een van daardie kere. Ek verstaan hierdie mense probeer maar, soos ons almal, net ʼn geldjie verdien, maar daar is ʼn punt wat jy nie verder druk nie en die aftog moet blaas. Mét grasie. My, “Jy luister nie na ʼn woord wat ek sê nie,” het ook op dowe ore geval wat my uiteindelik geen ander keuse gelaat het as om die rooi sirkeltjie te swipe nie.

Die ongemaklikheid oor die oproep het bly sit en ek het selfs begin spoke opjaag. Die mense het my adres – sê nou “Sam” besluit om met onderduimse maniere my sekuriteit te kom beproef sodat ek wel moet opgradeer of dalk het Sam makkers wat my gaan kom skrikmaak? So omgekrap was ek, dat ek besluit het op te gaan nalees oor telebemarkers se reëls en regulasies en die eerste vraag wat ek op die soekenjin ingetik het, is waar kry hierdie mense jou selnommer?

Die antwoord is eenvoudig: hulle koop dit by derdepartydataverskaffers. En hoe kry húlle jou nommer? Net so eenvoudig en om maar net ʼn paar bronne te noem: Talle ondernemings het Caller ID; jou nommer is ook ʼn vereiste as jy vir krediet aansoek doen en blykbaar is jou selnommer redelik oor die algemeen beskikbaar as jy ʼn geregistreerde kieser is.

Foto: Verskaf.

Daar is wel wetgewing wat ons teen ongevraagde oproepe beskerm (die Wet op Verbruikersbeskerming en die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting) maar dit strek ook net so ver. Baie van hierdie bemarkers dans so tussen wettig en onwettig met hul gladde tonge en onvanpaste tye. Dus, as jy soos ek genoeg gehad het van die oproepe, is daar drie maniere om van dié irritasie ontslae te raak:

Kontak die National Opt-Out Register; laai Truecaller op jou slimfoon af of, as jy nou regtig verpes word, bel die polisie. Maak jóú stem dik!

En voor ek vergeet: my pa het altyd gesê moet nooit vergeet om die fynskrif te lees wanneer jy ʼn dokument onderteken nie. Jy gee dalk onwetend toestemming dat jou selfoonnommer vir bemarkingsdoeleindes gebruik word.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

45 Kommentare

HV ·

Die oomblik as hulle begin praat dan vra ek of hulle Afrikaans kan praat, meeste oproepe in Engels.
Hulle së gewoonlik hulle sal iemand kry wat afrikaans kan praat en my terugbel, wat natuurlik nie gebeur nie.

Ben Niemand ·

My vrou het ook altyd vir my kwaad geraak as ek die foon net neersit. Sê dit is slegte maniere. Wel, mense wat nie nee vir ‘n antwoord van nie, het nog slegter maniere. Ek gebruik nou Truecaller vir ‘n paar jaar, en dit werk fanatasties. As ek ‘n produk of diens wil bekom, doen ek my eie navorsing van wat ek wil hê. Piettie of Sannie wat my uit die vreemde uit skakel gaan niks aan my verkwansel kry nie…

Anoniem ·

Ek laat hulle lekker gesels met my selfoon wat daar eenkant neergesit is.

JohanL ·

Heeltemal reg HV. Bly net Afrikaans praat en se jy kan nie Engels verstaan nie.

Die ander een is om die foon eenvoudig neer te sit en aan te gaan waarmee jy besig is LOL LOL :) :) Moenie die oproep dooddruk nie, los hom laat die persoon praat (gewoonlik vir 2-3 minute met sy rympie) en dan is daar net niemand nie. :) :) Laat hom voel hoe dit is hoe om met “niemand” te praat nie.

Mal gebel ·

‘Spam alert’ op my foon. Werk te oulik, nou ignoreer ek daai oproepe al te lekker.

Lolla ·

Dit is gewoontlik ‘n 087 nommer of soms wys dit ‘n Kaapstad no of Durban nommer. Ek antw net nie. maar ja die Afrikaans werk goed. Het dit al gedoen.

NrAsb ·

As jou nommer nie op my foon is nie dan antwoord ek nie. as dit belangrik is los ‘n boodskap en ek sal terug bel as ek voel ek wil met jou praat. en blok blok blok die ongewenste nommers.

Wessel ·

Ek vra hulle deesdae om al die inligting wat hulle vir my oor die foon sê, per e-pos aan my moet stuur. Ek hoor nie weer van hulle nie.

Lady ·

Hierdie mense waarvan julle praat is soms baie afhanklik van hulle inkomste. Ook bestuur waaraan hulle moet verslag doen. Hulle kry n target en as die target nie behaal word nie verloor hulle ook maar n geldjie. Ons almal ry nie dieselfde bootjie nie. Baie ondernemings kan nie floreer sonder hierdie mense se bydrae tot die besigheid nie. Dink julle dis altyd vir hulle lekker as daar so neerhalend van hulle gepraat word. Dis n werk en ek haal my hoed af vir hulle. Sterkte vir julle en ek hoop julle het almal vandag n geseende daggie.

Dit is MY FOON ·

My telefoon is my privaat eiendom, waarvoor ek betaal en ek kan besluit wie ek toelaat om my te bel. My nommer word wederregtelik gebruik/verkoop as ek iemand nie pertinent toestemming gee om my te bel vir bemarking nie. Ek is nie onbeskof of ongevoellig nie, ek oefen net my reg uit om nie tyd af te staan aan sulke bemarkers/opportuniste nie.

JohanL ·

Lady – jy is heeltemal korrek. Ek praat altyd ordentlik van die begin af met hulle. Maar jy kry van hulle wat nie enige rede wil aanvaar nie en dan raak hulle eerste kortaf, ongeduldig en lelik. Dit is hulle waarvan daar gepraat word.

galore ·

dankie lady
dat jy opkom vir ons.
die is regtig harde uitputtende werk met geen vaste salaris nie.
glo my, soms huil ek soos iemand aan die anderkant lelik was met my.
en nee ek druk niemand om aantesluit of iets te koop nie.
nee is nee
ek verstaan.
soms gesels ek lekker lank met sommige mense dat sluit hul nie eers aan nie maar meeste is mense met geen geduld telefoon etiket of maniere nie.
dis wat my hartseer maak

Annie ·

Lady, ek wil net graag se baie dankie vir jou, jy is een van die mense wat eintlik lyk my verstaan waardeur ons as telebemaarkers gaan en wat jy se is heeltemal reg. So baie dankie vir jou verdraagsaamheid van ons as telebemarkers en ook dat jy so ‘n goedgesinde en vriendelike mens is.

Nettie ·

@Lady – ja, dis ‘n werkie en inkomstetjie, maar dit is ook ‘n GROOOOOOOT IRRITASIE vir baie mense, want hierdie tele-bemarkers kan vir jou ‘n pyn in die nek wees, want hulle ken nie die woorde “No thank you” of Nee dankie” nie. Ek is een van daardie kliënte wat – wanneer ek so ‘n oproep kry – òf die oproep ignoreer óf dit antwoord en daardie tele-bemarker toelaat om sy/haar hele rympie op te sê (terwyl my foon eenkant, op ‘speaker phone’ lê) en dan, wanneer dit kom by die “are you interested”-gedeelte mooitjies net vra wie dan hiervoor gaan betaal, want ek is werkloos.

Roos ·

Iemand het op ‘n keer in ‘n koerant ‘n brief geskryf oor hoe hy hulle hanteer.
Gee vir my jou nommer, dan bel ek jou vannaand by jou huis.
Baie onthuts, nee, hy kan mos nou nie dit doen nie.
Sy antwoord, maar jy doen dit dan met my! Einde van die gesprek.
Ek dink dit was baie oulik. :—)

Heleen ·

Ek stem 100% saam Lady. In vandag se lewe is daardie mense dankbaar vir n werk wie weet dis dalk al werk wat hul kan doen of kry. Nettie mens kan nie hul almal onder dieselfde kam skeer as dit kom by No thank you of nee dankie nie. Daar is van hul wat ordentlik is.

emily ·

Lady en JohanL. Julle is 100% in die kol. Dit is harde werk, Jy moet target maak En jy werk net vir kommissie. Ek was daar en weet hoe dit voel.

JohanL ·

Emily, dankie vir jou reaksie. Ek het egter TWEE aspekte uitgelig. Die eerste een waarop jy reageer, maar ongelukkig ook die tweede negatiewe een – en dit is die een waar die telebemarker nie “nee” vir ‘n antwoord aanvaar nie en begin ongeskik raak. Dit is hulle wat ons nie van hou nie. Daar is ordentlike bemarkers wat wel “nee” aanvaar. Ek sou graag jou reaksie op die tweede aspek wil sien en of jy dit goedpraat of nie? Lekker dag.

Hennie ·

Ek sê net eks ń pensionaris dan sê hulle sommer self good buy.
Andersins probeer ek maar beleefd wees.

Sonja ·

Vir ons in die besigheid mark maak hulle dit moeilik want niemand wil nou die oproepe antwoord nie en ons kantoor nr is 012 03…. en dit lyk net so verdag so as die klient nie my telefoon nr op sy foon het nie of enige ander oproepe wat ek moet maak word dit nie geantwoord nie dan bel ek van die selfoon af, dan se hulle gewoonlik ons het gedink dit is n spam. En net gister by die kantoor daaroor gepraat — Hoeveel besigheid kry hulle?? Regtig glo nie veel nie en as jy antwoord en dit is n vooraf opgeneemde gepraat dan verloor ek dit heeltemal!!

Stof ·

By wyse van belydenis: As broer of suster bemarker my skakel, verduidelik ek hoe dankbaar ek is vir hulle oproep en die feit dat hulle ‘n ruim skenking vir die een tehuis waar ek dien, sal doen. Sommige vlug die vlaktes is. Ander het selfs al geskenk.
Wees sensitief vir leiding en jy sal interesante resultate kry.
Een (effe vuil) een wat ook werk, is om die persoon te vra om later terug te skakel, want ek wag op ‘n dringende oproep van my paroolbeampte…
Mag elke leser se dag vandag, ingekleur wees met hul gunsteling skakering.

Ek stem ·

Maklik, ek antwoord geen 087 nommer nie ook nie 021 of 031 nommer, sou ek antwoord, groet ek baie beleefd in Afrikaans, sit foon neer, en gaan aan met my werk. Voel jammer vir hierdie mense wat hulle geld op “eerlike” manier probeer verdien, maar hulle moenie aanhou bel, elke liewe dag nie, kry die boodskap die eerste keer, LOUD AND CLEAR, ons stel nie belang in telebemarkers en hul storie nie, ons het ook ‘n werk, kan nie in werks tyd vir 5 of 10 minute ‘n oproep beantwoord nie, en glo my, as ek by die huis is, antwoord ek net as dit familie is wat bel, dan is dit gewoonlik MY EIE EK TYD saam my diere.

hester ·

Die een ding wat die oproepsentrums kan leer is om heel eerste te vra: “Is die tyd nou vir u geleë om nou te praat?” Elke keer as hulle bel is ek in ‘n kantoor vol mense. En ja…. hulle word geleer om nie NEE vir ‘n antwoord te vat nie!
Wel, ek het nou ongeskik geraak. As hulle bel, sit ek doodeenvoudig my foon neer sodat hulle maar al hul kop se nonsens kan praat en hulle self agterkom ek is nie meer aan hierdie kant nie.
Ek doen dit nou so. As hulle nie NEE kan vat vir ‘n antwoord nie het ek ook nie nodig om na hulle te luister nie!!!!

Annie ·

Ek myself is ‘n telebemarker…
Ja jy kry sommiges wat ongeskik is en nie na rede wil luister nie, maar vir die res van ons, is dit al wat ons het om vir ons kinders te sorg en ons het ook gevoelens. As jy eerste met my ongeskik gaan wees gaan ek natuurlik nie altyd my mond vir jou hou nie, ek sal wel nie rerig ongeskik raak nie, maar sal jou so klein laat voel, want ek doen ook net my werk sodat ek vir my kinders kan sorg. Ons kry nie ‘n vaste salaris nie en is afhanklik van ander mense om ons geld op te bou ja, maar dit gee jou nie rede om lelik te wees met my en neerhalend van my te praat nie. Ek is ook net ‘n mens wat my hardverdiende geld op ‘n EERLIKE manier verdien.
Ek verstaan daar is mense wat nie hou van sulke oproepe nie en telebemarkers wat nie nee vir ‘n antw vat nie, maar daar is ook van ons wat verstaaan as jy se nee, doen dit net op ‘n ordentlike manier en gee ons ook net somtyds ‘n kans om te praat sonder om ongeskik te wees of jou foon net daar neer te gooi, want glo my almal van ons weet hoe dit voel om met NIEMAND te praat nie, ons kry dit elke dag seker 20 keer ‘n dag.
Mag elkeen van julle ‘n geseende, vredevolle dag he.

JohanL ·

Dankie Annie vir jou objektiewe inset – ek is nogal nuuskierig oor Emily se reaksie?

HPV ·

Moet nooit maar nooit telefonies of op Facebook besigheid doen nie. Doen slegs besigheid met besighede wat Webtuistes het. Ondersoek alle besighede byvoorbeeld op “Hello Peter” of deur betroubare verwysings. Merk telebemarkers in jou foonboek as “spam” sodat jy die oproep nie weer hoef te beantwoord.

Lizl ·

Ek maak of ek hulle verkeerd verstaan en gaan opgewonde aan die gil en gee voor dat ek deur gedring het na die Idols finale toe. Dan trek ek weg en sing My Sarie Marais. Ek is vreeslik vals… Of, party keer val ek hulle heeltyd in die rede en vertel vir hulle dat my tariewe per uur is, en voor ons aangaan met die gesprek moet hul bevestig gan hul met `n debietorder of EFT betaal. Om een of ander rede wil hulle nie verder met my praat nie!

Se maar Net ·

Ek pepper hulle gewoonlik met die vrae:
1. Hoe lank werk vir die firma?
2. Werk jy voltyds of deeltyds?
3. Hoe oud is jy?
4. Is jy getroud?
5. Hoveel kinders het jy?
Na vraag nommer 5 wil hulle weet hoekom vra ek al die vrae.
Dan antwoord ek, hoekom nie hulle vra my dan vrae.
Einde van die oproep!

****** ·

Moenie beleefd wees nie. Lui die oproep af en blok die nr!

Pat ·

My man het ook nou die dag so ‘n oproep ontvang, die persoon sê aan hom dat dit net ‘n kort oproep sal wees en my man antwoord so ewe nou kom ons maak dit nog korter en druk die foon dood, nodeloos om te sê die persoon het nie weer gebel nie

J ·

Dit gaan my verstand te bowe dat mense enigsins met telebemarkers gesprekke voer. My baas was anderdag in ‘n half-uur lange redenasie met een, vir niks. Ek het eenvoudig begin om die oomblik wat hulle hulself identifiseer dadelik die foon dood te druk en die nommer te blok. Ek kry nie meer oproepe nie.

Michele Cloete ·

Laai Truecaller App op jou telefoon af. Dit onderskei vinnig tussen regte oproepe en Spam. So ek het rustige lewe sonder dat ek hoef te worry oor all die spam oproepe nie

Michelle ·

Is Truecaller nie ook maar spam op ‘n manier nie? Dit wil slegs werk op my foon indien dit volle toegang tot hele foon insluitend sms’e het. Dit maak jou naam ook aan ander mense bekend wie dit nie andersins sou gehad het nie, en wie ek nie ken of mee besigheid doen nie.

Penellope Jones ·

Ek antwoord eenvoudig net geen oproep waarvan ek nie die naam of nommer ken nie.

Penellope Jones ·

Het sopas weer ‘n oproep gekry – ek het dadelik die telno. gaan opsoek en, weereens, bemarking – dit is wat aangegee word op die spesifieke telno.:

6x Robocall
6x Telemarketer
2x Nuisance call
1x Unsolicited call

Kosie Kramer ·

Solank as wat daar produkte is om te verkoop, sal daar telebemarkers wees. Jou mediese fonds, die SAUK of wie ookal, verkoop jou inligting aan bemarkers, of jy nou daarvan hou of nie.
Die effektiefste aksie is om beskaafd te sê “I am unemployed.”; “Ek is werkloos”.

charmaine ·

Truecaller is die beste ooit. Ek se altyd as ek n diens of produk nodig het sal ek besluit om dit aan te skaf. Moenie my bel en vertel wat ek nodig het nie. In die jare vroeg 90’s het n bekende koerant my laat aand gebel en verduidelik hoe wonderlik dit is om die koerant by afgelewer te kry, my antwoord was jammer ek is blind. Nooit weer van hulle gehoor nie!

Ameli ·

Goed en wel dis hul inkomste maar heng… sê my het hulle nie n rekenaar sisteem om aantekeninge te maak dat hul reeds die persoon gebel het nie. Platinum life bel my lettelik elke dag ek block die nommers dan bel hul op n ander nr… elke keer v n pakkie van isabella garcia of n polis. Ek al verduidelik ek stel nie belang nie asb mense teken dit aan op jul rekenaars, maar nee niks hul bel net weer en weer. Ek kry elke dag tenminste 5 spam oproepe.

Ronel ·

Ek vra gewoonlik waar hulle my nommer gekry het en ek dreig hulle met die POPI wet. Jou nommer mag onder geen omstandighede deur jou versekering of selfoonmaatskappy of wie ookal uitgedeel word nie. Hulle kan dit op hul herrie kry as hul wel daaraan skuldig bevind word. En ja, lees maar mooi voor jy enige vorms teken. Sommige plekke vra of jou nomer uitgegee mag word, maar hulle verduidelik of noem dit glad aan jou nie. Dis net teken hier en hier en hier… En ons teken.

Waarheid ·

Ek vra gewoonlik of dit gratis is en indien nie is dit die einde van die gesprek!

Sandra ·

Ek antw en sodra ek agterkom dis 1 van daai, dit ek die telefoon langs my beer totdat hulle aflui. Hulle bel nie weer nie. Ek het blok op my foon so nr’s wat ek nie Wil antw nie is geblok. Dis verbasend om te sien hoe Baie hulle jou bel, kry hulle nie die boodskap nie?

Sleg ·

Vodacom is een van hulle. Die mense Sal jou elke week bel. Ek se ek wil nie upgrade nie Dan vra hulle hoekom nie. Niks met hulle uit te waai nie. Ek se deesdae net ek immigreer Dan sit hulle gou die foon never.
Regtig gatvol vir almal wat so bel en goed aan jou wil afsmeer.

Attie. ·

Hierdie berig was nie nodig nie. Indien jy met ‘n telebemarker begin gesels en redeneer dan het jy klaar verloor. Ek skakel net af. Vroeer het ek hom/haar laat gesels en dan net gese ek het nie mooi gehoor nie, hy moet herhaal en dan die foon saggies op ‘n boek neergesit. Indien hulle jou pla dan is dit omdat jy gepla wil wees.

gatiep ·

Die ergste vir my van dit is dat hulle nie eens afrikaans kan praat nie maar wil he ek moet iets uitneem by hulle.
Dit het my nou slim gemaak ek praat net Afrikaans met hulle dan los hulle my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.