‘Treurgrond’ is die harde werklikheid

Toneel-uit-die-fliek-Treurgrond

‘n Toneel uit die fliek ‘Treurgrond’. Foto: Facebook.

Ek en my vrou het Treurgrond gaan kyk. ‘n Ontstellende, harde werklikheid. Ek skryf nie ‘n resensie oor die film nie, daarvan is daar genoeg.  Wat sleg is, is dat ons moet sê dat die werklikheid veel erger is.

Die inhoud van die film behoort elke gemiddelde Suid-Afrikaner tot in sy wese te skok. Ek kom uit ‘n familie van boere.  My pa boer, my broer boer, my ooms boer, my neefs boer. In Treurgrond sien ek iets van ons almal se gesprekke. Daar is `n lewendige vrees oor wanneer jou mense die volgende slagoffers is.

Ons boere praat daaroor, baie. Maar hulle kan hul roetine nie regtig verander nie. Die feit dat hulle kwesbare teikens is, staan duidelik en vas.  Hulle wat op die plaas bly, het dit doelbewus gekies. Dis geen  fatalistiese besluit nie, maar ‘n roepingsgedrewe keuse.

Die week nadat ons Treurgrond gekyk het, kry ek die e-pos oor die moord op Christo Kruger. ‘n Bekende, geliefde Gereformeerde boer uit my leefwêreld. Ek het hom goed geken. My hart is stukkend as ek aan sy familie dink. My hart is stukkend as ek dink aan ‘n Noord-Kaapse boer wat die mooi vlaktes van die Noord-Kaap ontneem is deur ‘n stukkende politieke bestel en ‘n konteks wat hom ‘n slagoffer gemaak het.

As ek aan Christo dink, haal ek weer die brief uit wat ek vir oom Chrisjan geskryf het. Toe ek dit geskryf het wou ek dat niemand dit lees nie, maar noudat Christo vermoor is, wil ek hê die hele wêreld moet dit lees.

Aan Oom Chrisjan Kluisenaar:

Dit is nou nie eintlik deel van ons Gereformeerde tradisie dat ons briewe skryf vir hulle wat al dood is nie. Pastoraal moedig ons dit wel soms aan om die pyn van dood vir hulle wat agterbly te versag. Dit dra soms by om te help verstaan. Daarom maar hierdie skrywe aan Oom. Om my eie pyn oor Oom se dood te versag. Om te probeer verstaan. En om ander wat Oom geken het te help verstaan. Ek weet Oom beleef ‘n ewige vrede, maar vir ons wat lewe is dit nodig om in ‘n brief soos hierdie van Oom te probeer afskeid neem. Die lewe is van korte duur – dit besef ons maar almal alte goed. Maar ons sukkel om sin te maak uit hoe Oom gesterf het.

Oom het nou nie juis baie met mense te doen gehad nie.  Op 87 het Oom wel nog graag geboer, krom en op die kierie drukkend in die veld geloop, die diere met liefde gevoer. Afrikanerbeeste met hulle lang, kenmerkende horings geken soos die gras van die veld. Die sonsopkoms en ondergaan in die Bosveld so intens beleef. Veldspore wat nou toegewaai is en slof-slof velskoenvoete wat nie weer daar sal loop nie.

Dit help nou veel dat ek vir Oom probeer verduidelik dat die nag van lang messe ná die dood van Mandela die skewe interpretasie was van iets wat oom Siener nooit gesê het nie. Vir Oom was die nag van lang messe eintlik ‘n werklikheid, want in dieselfde tyd wat dié oudpresident op elke voorblad in die wêreld verskyn, is Oom wreedaardig op 87 by Matlabas in die Bosveld vermoor.

Oom sal nie ‘n beeld van nege meter kry nie. Oom sal ook nooit die vader van ‘n nasie genoem word nie, al was Oom vir jare en jare ‘n voeder van sovele. Ook sal Oom se dood nie CNN of SkyNews haal nie. Daar was wel ‘n klein koerantberiggie wat gelui het dat nog ‘n boer vermoor is, en heelwat Facebook-besprekings. Maar dis al. Tog wonder ek wie nou Oom se beeste voer, wie die hoenders se mielies gooi en wie sal boer waar Oom geboer het.

Toe ons almal mekaar ‘n mooi jaar toewens het ek aan Oom gedink.  Die jaar 2014 is ‘n jaar wat oom nie kon binnegaan nie weens die gebroke werklikheid. Ek is jammer daaroor. Ek weet Oom was stoer Gereformeerd, geliefd, geanker in die geloof.  Die dood het vir Oom geen verskrikking ingehou nie. Maar ek is jammer oor hoe Oom dood is.

Dit is interessant dat Oom en oudpresident Mandela nou juis hierdie wêreld in dieselfde week verlaat het. Sou julle altwee Sy poorte binnegaan met lofgesange? Julle was amper ewe oud. Julle het elkeen ‘n lang en interessante lewenspad geloop. Op Madiba se sterfsertifkaat sal staan “natuurlike oorsake”.  Op Oom s’n “onnatuurlik.”  Sou daar ook bygevoeg word “wreed vermoor”?

Oom sal nie glo nie. ‘n Tydjie gelede is oom Sarel ook vermoor. Van Barkly-Oos. Oom Sarel Pretorius. Hy was ook Gereformeerd. Nie dat dit minder seer sou wees as hy van ‘n ander kerk was nie, maar in ons klein kerkverbandjie ruk dit keer op keer ons almal. Sy moord was die hoeveelste in daardie omgewing.

Toe die e-pos oor oom Sarel na die kerke deurkom: “Nog ‘n boer vermoor” het my hart geruk. Ek het weer aan Oom se wrede dood gedink.  Dit maak nie sin om te probeer sin maak uit Oom se dood nie. Ook nie uit oom Sarel se dood nie.  Maar dit is belangrik dat ek skryf dat ons julle sal onthou. Ook as voorgangers in ons gemeentes. Dit is ook belangrik dat ek skryf dat julle dood ons roeping in hierdie land net versterk. Dit is belangrik dat ek skryf dat die gebroke werklikheid waarbinne ons leef nie ons hoop ontneem nie. Ons hoop steeds, glo steeds, vertrou steeds dat die mooi sonsopkoms van hierdie land ook ons beskore sal wees. Ook vir ons boere. Veral vir ons boere.

Van ‘n Vrystaatse boerseun wat nou in Gauteng woon.

NS: Ek wou nie my brief aan Oom vir die wêreld gee om te lees nie, ek is jammer ek moes. Ek het dit besluit toe ek gelees het oom Christo Kruger van Kuruman is ook vermoor.

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Ds. Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van die Gereformeerde Gekombineerde Skool Dirk Postma in Pretoria se Moot-omgewing. Hy is ook die skrywer van die boek, Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Weezie ·

Ai ek lees nou die brief, en die knop in my keel raak al hoe groter. Wanneer gaan die sinlose moorde dan opou? Ek ken jou en Oom Chrisjan glad nie, maar voel tog n mate van verlies na ek die brief gelees het. Sterkte vorentoe, al wat ons maar kan doen is die Enorme probleem van plaas moorde, aan Die Vader gee.

Ampie ·

Weezie, net oor die cliche “wanneer gaan onsinnige moorde ophou” wat na elke moord deur vele gebesig word. Dit gaan nie ophou nie, veral nie met uitsprake van politici oor sekere groepe in die land wat grond gesteel het, die onvermoe om misdadigers in die oorvol tronke te hou, ens, nie. Dis eintlik gewaarborg dat die tragedie gaan homself elke paar dae herhaal en jy of ek die slagoffers kan wees. Die slagoffers kan hulself nie juis beskerm nie en die polisie kan of wil nie (of gee nie om nie?) Die enigste werklike manier om dit te beperk is deur laertrek – iets soos Kleinfontein/Orania of sekuriteitswoongebiede. Ongelukkig moet sulke buurte en areas weer verlaat word en die slagoffers is uitgelewer al a die Mad Max flieks.

Alita Steenkamp ·

Vir my het hierdie brief nog meer geraak, juis omdat ek oom Chrisjan so goed geken het. Oom Boet, soos ons hom genoem het. Dit bly vir my een van die seerste wetes dat hy op so ‘n gewelddadige manier doodgemaak is. Hy was beslis die sout van die aarde…

Gina ·

In ons daaglikse nuus berigte lees ek heel eerste elke oggend die nuus. Geen nuus is goeie nuus, maar as ek die nuus so deurkyk dan is daar meer aanvalle op wit as op swart, maar moenie n fout maak nie. Hul loop ook deur. Waar eindig die aanvalle op ons onskuldige mense. Dit sal nie ophou nie mense, daar moet eers bloed vloei soos rivier in die strate van Johannesburg. Gelees in Siener van Rensburg se boek. Die laaste Loopgraaf. Mense word daagliks gewaarsku om hulself te beveilig veral snags. Siener van Rensburg was nog altyd ons Wake UP call gewees. Wees peraad mense. Die duiwel is los daar buite

Vossie ·

Goeie dag Ds. Hannes.
Jou brief aan Oom Chrisjan Theunissen vat my terug na sy moord toneel. Ja, ek en my maats (op FB – Die Spoorsnyers) was daar. Ons was betrokke by die ondersoek en uitklaring van verdagte spore. Die Oom was ‘n kluisenaar en het niemand gepla nie. Die Oom se dood, soos enige ander plaasaanval en moord, was ongevraagd en barbaars.
Ons doen baie plaasaanval tonele. Dit vat aan ‘n ou, maar ons moet voortgaan en beveg. Ek bid saam met jou vir God se genade oor ons Boervolk en die landbou in hierdie land. Dankie vir jou brief aan Oom Chrisjan.

David ras ·

Ek wil ‘n aanhaling hier plaas, met die hoop dat diegene wat nog nie kan of wil besef wat met ons gebeur nie dalk tot ander insigte sal kom.
Dit kom uit “Operation Mayebuye”–die naam van die ANC beplande rewolusie in 1963.

“In this phase of our guerrilla operations …….SHAMELESSLY ATTACK THE WEAK, AND SHAMELESSLY FLEE FROM THE STRONG…”
In die boek The communistisation of the ANC deur die voormalige spioen Gerard Ludi, verskyn hierdie aanhaling op die heel voorste bladsy.
Net vir agtergrond–Ludi was die polisie spioen wat die ANC/ SAKP tot in hulle heel binnste
binnegdring het–sy an sy met Bram Fischer en Nelson Mandela gestaan/
Shamelessl attack the weak——wie is die swakkes ? Ons bejaardes, vroue, kinders , plaasboere en ja ook dorpenaars.
Mayebuye is nie destyds met die arrestasie van Fischer, Mandela en kie vernietig nie, dit het ooglopend weer opgevlam.

Ironies dat dieselfde Gerard Ludi so tien dae voor die berugte 1992 referendum in ‘n Engelstalige koerant gewaarsku het :
“Don’t vote YES, you don’t know who you are dealing with”
Weet ons regtig met wie ons te doen het ?
Ek twyfel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.