Trotseer yskoue seewater vir liefdadigheid

Victoriabaai (Foto: www.wikivillage.com)

Victoriabaai (Foto: www.wikivillage.co.za)

ʼn Ysbeertjie-swemprojek word op 6 Augustus by Victoriabaai in die Wes-Kaap aangebied om komberse en ander warm goed vir die winter in te samel vir haweloses en behoeftiges in Oudtshoorn.

Volgens Colleen Wentzel, mediabestuurder van die aanlynversekeraar, Dotsure, is dié projek veel meer as net ʼn vinnige duik in die yskoue see. “Dit is ook ʼn geleentheid vir mense om te identifiseer met diegene wat elke aand koud gaan slaap. Ons gee vir hulle die kans om ʼn verskil in iemand se lewe te maak deur ʼn kombers te skenk en aan die projek deel te neem,” het sy gesê.

Wentzel meen die projek is ʼn manier om haweloses en minderbevoorregtes in die wintermaande by te staan. “Baie mense daar buite het nie eens ʼn kombers om hulself mee warm te hou nie.” Sy het bygevoeg die projek is ʼn manier om solidariteit te toon en praktiese hulp te bied aan diegene in nood in die Eden-distrik van Oudtshoorn.

“Ons daag almal uit om saam met ons in die koue see te kom duik. Ons waarborg baie pret vir die familie, yskoue water en die kans om iemand in nood te help.”

Die Ysbeertjie-swem word om 10:00 op 6 Augustus by Victoriabaai gehou. Elke deelnemer moet ʼn kombers skenk om deel te neem. Daar sal ook ʼn prettige hindernisbaan en ʼn ‘ysvoet-uitdaging’ wees.

Deelnemers moet oranje aantrek om hul ondersteuning vir die projek te toon. Pryse vir die besgekledes word ook uitgedeel en swemmers moet hul duikpakke liefs by die huis los!

Swemmers sal ook ʼn gratis warmsjokolade kry wanneer hulle die yskoue see trotseer het.

Die komberse sal deur verskillende organisasies in die Eden-distrik versprei word.

Besoek Dotsure se webwerf of Facebook-blad vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

E.K. ·

Baie oulike manier om komberse in te samel. Ek is gans te koulik vir die Kaapse water so ek is maar bly ek woon in Gauteng en sal dit nie kan maak nie ; )

SkarrelKind ·

Dis oulik ja! Ek sou deel geneem het as ek nader gewoon, maar nié as dit op die Weskus gehou is nie … Brrrr ….. Ek hoop baie mense sal deelneem en baie komberse sal uitgedeel word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.