Twaalf huweliksvoornemens vir 2020

Foto: Ian Schneider/Unsplash

Jy wil fiks word, tien kilogram verloor, Machu Picchu sien en almal se verjaardae onthou. Jy wil ’n rooster vir jou kinders se skermtyd uitwerk, ’n behoorlike velsorgreeks begin gebruik en jou hare uiteindelik gitswart kleur. Jy wil die Bybel deurlees, homeopatiese medikasie op die proef stel en minstens een keer per maand teater toe gaan … die lys is eindeloos en voor 2 Januarie aanbreek, is jy reeds vuisvoos!

Deur Annelize Steyn

’n Nuwejaarsvoorneme is ’n belofte wat jy aan jouself maak om ’n slegte gewoonte te verbreek, ’n goeie gewoonte te kweek of ’n emmerskoplysie af te merk.

Die tradisie van Nuwejaarsvoornemens dateer terug na 153 v.C. – Januarie is vernoem na Janus, ’n mitiese Griekse god. Hy het twee gesigte gehad: een wat vorentoe kyk en een wat terugkyk. Dit het hom toegelaat om te kyk na die verlede, die hede en die toekoms. Op 31 Desember het die Romeine hul verbeel dat Janus terugkyk na die ou jaar en vorentoe na die nuwe jaar. Dit het ’n simboliese tyd geword om voornemens vir die nuwe jaar te maak en vyande te vergewe vir wat in die verlede gebeur het.

In 2012 het Google ’n New Year’s Resolution Map geskep waar mense hul Nuwejaarsvoornemens kon lys en ook dadelik kon sien hoe ander hul voornemens hiertoe byvoeg.

Ongelukkig hou slegs ongeveer 9,2% mense by hul voornemens. Maar dit beteken nie dat jy moet ophou om Nuwejaarsvoornemens te maak nie. Sielkundig simboliseer elke nuwe kalenderjaar ’n nuwe begin. Ons maak voornemens op die eerste dag van die Nuwejaar en dit gee ons ’n gevoel van optimisme – ’n skoon bladsy. Dit is ’n belofte om die jaar wat kom, beter vir onsself en ons geliefdes te maak.

Die feit dat so baie mense voornemens maak – jaar ná jaar – selfs wanneer hulle dit nie deurvoer nie, gee hulle hoop en ’n sekere vlak van geloof in hul vermoë om verandering mee te bring.

Natuurlik spring jy op 1 Januarie met vuur en vlam weg met die gedagte dat dit dié jaar anders sal wees. Maar in Februarie het jy die voornemens laat vaar. Dus, hoekom doen ons steeds die moeite om Nuwejaarsvoornemens te maak? Want ons wil steeds probéér om dit te laat realiseer. En dít is ’n goeie gedagte.

Foto: Pineapple Supply Co./Unsplash

Op sy webtuiste gee Glenn Miller, ’n mediese dokter, drie redes hiervoor:

  1. Dit stel ’n persoonlike uitdaging daar. “Dit is in ons menslike aard om tevrede te wees met dít wat ons toegedeel is in die lewe, en om ’n status quo te handhaaf. Maar deur weldeurdagte voornemens te maak, kan jy jou potensiaal ondersoek en aanhou groei as ’n individu en ’n produktiewe lid van die gemeenskap.
  2. Dit dwing ons om waarlik ’n “voorraadopname” te doen en te bepaal waar ons is en hoe ons kan verbeter. Dit is ’n natuurlike tyd om te reflekteer en ons lewens te evalueer.
  3. Dit versinnebeeld ons begeerte om in die rigting van positiewe verandering te stap. Selfs al is ons onsuksesvol met al die veranderinge wat ons hoop om te maak, help ’n voorneme ons om te fokus en ’n paar tree vorentoe te stap. Dit is beter as niks!

Daar is as’t ware navorsing wat toon dat om ’n Nuwejaarsvoorneme te maak, jou nader aan jou doelwitte kan bring. Een so ’n studie het bevind dat altesaam 46% individue wat voornemens gemaak het, suksesvol is, teenoor vier present wat ’n doelwit wou bereik, maar nie ’n Nuwejaarsvoorneme gemaak het nie. So, as jy ’n voorneme maak, is jy tien keer meer geneig om daardie veranderinge te maak as diegene wat wil verander, maar hulself nooit voorneem om dit te doen nie.

Dus, wat is op jou agenda? Want ons wil jou motiveer om jou voornemens vanjaar ’n bietjie anders te benader. Hoe klink huweliksvoornemens vir jou?

Foto: Chris Gilbert/Unsplash

Natuurlik kan jy jou eie lys maak, maar hier is 12 huweliksvoornemens (een vir elke maand van die jaar) wat jy op 1 Januarie kan maak om jou huwelik in 2020 nóg beter te maak. Skryf jou voornemens neer, lees dit hardop vir jouself (of vir jou maat) en deel dit op sosiale media. Doen soveel jy kan om jou verantwoordbaar te maak en jou só ’n groter kans te gee om daarby te hou:

  1. “Ek gaan ou koeie in die sloot los – waar hulle hoort.”
    Dit is baie maklik om ’n wrok teenoor jou maat met jou saam te dra, maar die drawerk raak swaar. En elke liewe jaar word daardie vrag wat jy op jou skouers dra, net nóg gewigtiger. Streef vanjaar daarna om jou maat te vergewe vir daardie sonde wat hy/sy jare gelede teenoor jou gepleeg het. En besluit om jou maat in 2020 te vergewe wanneer hy/sy om vergifnis vra. Dit sál lei tot ’n gesonder self en ’n gelukkige huwelik.
  2. “Ek gaan meer tyd vir my maat skep.”
    Die lewe is gejaagd – dit is geensins ’n rewolusionêre stelling nie, almal weet dit. En omdat jou maat die een is wat maar altyd daar is en daar sal wees, is jy geneig om hom of haar laaste te stel. As alles en almal wat jou tyd nodig het, in ’n lang ry sou staan, sou jy jou maat heel agter laat staan. Neem jou voor om vanjaar jou maat heel voor in die ry te hou. Kerf minute vir mekaar in jul dag in.
  3. “Ek gaan my huwelik God-gesentreerd maak.”
    Dis waarskynlik die belangrikste voorneme wat jy kán maak, want as jy hierby kan hou, sal die res natuurlik volg. Maak seker dat julle vanjaar álles wat julle doen, met God se toestemming doen. Soek Sy wil in elke aksie wat julle neem. Bid saam, doen saam Bybelstudie en gesels saam oor Sy wil in jul lewens.
  4. “Ek en my maat gaan gedeelde belangstellings kweek.”
    As julle niks in gemeen het nie, is 2020 ’n goeie jaar om so iets te kry. Dis belangrik dat julle elkeen jul individualiteit moet behou, maar ’n gemeenskaplike belangstelling kan julle help om iets te kry wat julle beide gaan geniet en om dit saam te beoefen. Dis ’n wonderlike manier om pret te hê saam met jou maat en meer oor hom/haar te leer.
  5. “Ek gaan konflikbestuur ’n prioriteit maak.”
    Baie huwelike ly onder die skade wat verkeerde konflikhantering aanrig. Dit is nie die moeite werd om lelik te baklei nie! En daar is derduisende bronne wat julle kan help om konflik doeltreffend te bestuur, maar as julle tyd en begroting dit toelaat, gaan sien ’n kenner om julle hiermee by te staan.
  6. “Ek gaan vanjaar 365 keer vir my maat sê: Ek is lief vir jou.”
    Dit is maklik om aan te neem dat jou maat dit weet. En waarskynlik weet hy/sy dit wel, ja! Maar maak seker dat, afgesien van die dade, jou maat dit elke liewe dag hóór!
  7. “Ek gaan die humor raaksien wanneer ander dit miskyk.”
    Soms voel dit nie snaaks wanneer jy die een is wat ingedoen word nie, maar dikwels het jy die kans om woede, teleurstelling of frustrasie te vervang met ’n goeie lagbui. Evalueer dit wanneer julle weer in die supermark staan en die teller die “Closed” bordjie reg voor julle neersit. Want wat gaan woede, teleurstelling of frustrasie nou aan die saak verander?
  8. “Ek gaan iets inisieer wat ons nog nooit vantevore gedoen het nie.”
    Ja, hoe langer ’n mens getroud is, hoe korter raak dié lys, maar ons is seker julle sal wel iets kan kry. Om iets nuuts te doen of ’n nuwe vaardigheid aan te leer, skep herinneringe. Dit sal julle ook uit jul gemaksone voor mekaar haal – ’n wenresep vir intimiteit.
  9. “Ek gaan stil staan om my maat te waardeer.”
    Dit is maklik om jou maat (en alles wat hy of sy doen) as vanselfsprekend te aanvaar. Die wasgoed word gestryk, die motor word vol brandstof gemaak, die kinders word versorg… dit wat alledaagse take word en deel is van jul roetine, word nie eens meer raakgesien nie. Doen in 2020 moeite om soms stil te staan en vir jou maat te sê: “Dankie vir wat jy so pas vir my gedoen het. Ek waardeer jou oneindig baie.”
  10. “Ek gaan meer weerloos wees voor my maat.”
    Dit is nie in almal se aard om met die hart op die mou te loop nie, maar in gevalle waar die een person openhartig is en die ander persoon baie gereserveerd, kan dit ernstige konflik teweeg bring. As dit in jul huwelik gebeur, maak ’n voorneme om meer van jou emosies met jou maat te deel. Weerloosheid skep intimiteit.
  11. “Ek gaan minder tyd op waardelose tydrowers mors.”
    Daar is baie dinge wat deesdae tyd opslurp – só, dat daar bitter min vir ons maats oorbly. Mens dink jy het nie tyd nie, maar wanneer jy die ure bymekaartel wat voor die televisie bestee word, is dit skrikwekkend! Oorweeg dit om beperkings op jul televisietyd te stel – veral wanneer julle nie saam kyk nie. Dieselfde geld vir sosiale media. As jy dikwels eerder na jou skerm kyk as vir jou maat, oorweeg dié voorneme ernstig…
  12. “Ek gaan vanjaar saam met my maat sweet”.
    Binne én buite die slaapkamer. Daar is niks beter as om saam met jou lewensmaat te wil fiks word nie. Of julle ekstra kilogramme saam wil afskud, of net ’n gesonder leefstyl wil kweek… om saam met jou maat te oefen, is ’n wonderlike voorneme.

Onthou ook om in 2020 meer gereeld in die slaapkamer te sweet, as jy weet wat ons hiérmee bedoel … Probeer minstens een keer ‘n maand om ‘n hele naweek lank in die bed te spandeer, of probeer ‘n nuwe posisie of venue.

Skryf jou voornemens neer. Jy kan besluit of jy dit met jou maat wil deel of eerder vir jouself wil hou. Julle kan ook gesamentlike voornemens maak wat makliker is om te behou omdat julle mekaar kan motiveer. Hoe dit ook al sy, maak die voornemens en probeer daarby hou. Dit kan julle huwelik net in 2020 versterk!

Voorspoedige Nuwejaar!

Addisionele bronne: www.happywivesclub.com; www.marriage.com; www.yourtango.com

  • Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie klik hier en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!
  • Hierdie artikel is met die vergunning van INTIEM op Maroela Media geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae