Twee koppe is beter as een

Danielle en Tracey Steenkamp. Foto: Verskaf

Danielle en Tracey Steenkamp. Foto: Verskaf

Danielle en Tracey Steenkamp, ʼn tweeling van Pretoria, gee nuwe betekenis aan die term ‘identiese tweeling’. Dié sussies, wat in hul lewe nog nooit langer as twee dae weg van mekaar spandeer het nie, meen die beste dinge kom in ʼn paar.

Tracey het vertel hulle is reeds sedert laerskool in dieselfde klas. Hulle deel ʼn spesiale verbintenis  met die syfer twee. “Ons is minder as twee minute uitmekaar gebore. Toe ons laerskool toe is, was ons tot en met graad twee in dieselfde groep,” het Danielle vertel.

In die hoërskool het die sussies ook dieselfde vakke gehad. “Ons het mekaar altyd uitbalanseer. Ons albei se geskiedenis-punte was die hoogste, maar waar sy ʼn kleiner persentasie gehad het vir ʼn vak, was myne bietjie hoër en andersom,” het Tracey gesê.

Altwee het menslike bewegingskunde aan die Universiteit van Pretoria studeer. In hul derde jaar is hulle aanvaar vir ʼn verdere kursus in biokinetika in ʼn aanvanklike groep van agt studente.

“Ons was aanvanklik 20% van die hele groep. Ons was maar te bly toe die groep later uitgebrei het tot 18 studente,” het hulle geskerts.

Hulle het ook albei ʼn meestersgraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hulle het ook byna net twee minute na mekaar graad gevang. Die sussies se gemiddelde verskil met 0,2% wanneer jy hulle punte vir die eerste, tweede en derde jaar en honneurs- en meestersgraad bymekaar tel.

Vergelyk mense die twee sussies met mekaar? “Ons doen in byna alles dieselfde, punte, ons werk, selfs in sport toe ons nog op skool was. Maar mense vergelyk ons nog steeds met mekaar,” lag Danielle.

Hulle werk deesdae by die universiteit se Instituut vir Sportnavorsing en is albei enkellopend.  Hulle dink selfs dieselfde manne is oulik. “Mense vra gedurig hoe ons alles kan saamdoen en nog steeds iets hê om vir mekaar te sê. Ons geselskap raak net nooit op nie.”

Trek hulle ander mense graag ʼn streep? “Nee,” lag hulle. “Ons het eenkeer in die laerskool. Deesdae sal iemand net bel en lank met my gesels. Wanneer hulle aflui en met die verkeerde naam groet, weet ek hulle het met die verkeerde sussie gepraat.”

Oor die toekoms weet hulle nog nie. “Maar ons is seker wat ookal ons omstandighede mag wees, dit sal iets met die getal ‘twee’ te make hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.