Twee onvergeetlike ontmoetings 120 jaar ná die ABO

Een van die Britse konsentrasiekampe. Foto: Fotografiese versameling van die Anglo-boereoorlogsmuseum, Bloemfontein.

Terwyl ek onlangs ‘n draai in Engeland en Nederland gaan maak het, het ek twee baie besonderse mense, albei al diep in die tagtig, ontmoet. Dit was heel toevallig, en dit as gevolg van die pet wat op my kop was. Vir my was dit in beide gevalle iets wat aan my hart gevat het – iets wat vir my baie kosbaar sal bly.

Ek en my liewe vrou het in Nederland rondgery en toe verdwaal ons. Ons het by die hek van ‘n boerderij ingedraai waar ‘n bejaarde man sy herte en melkbokke gevoer het. Toe ek stilhou, het hy nader gestaan en met die groetslag het hy die woorde op my pet raakgesien en gelees. Nog voordat ek behoorlik kon groet en myself voorstel, het hy die woorde op my pet gelees en dadelik weggeval: “U bent een Boer in merg en bloed”. Ons het kennisgemaak en ek kon sien dat hy iets te vertelle gehad het.

Tot my verbasing het hy met wye kennis oor die Anglo-Boereoorlog (ABO) begin gesels en dit was duidelik dat sy simpatie by die Boeremagte gelê het. Hy is sy huis in en kom toe terug met ‘n boek in sy hande. Dit was ‘n herdenkingsuitgawe van die Nederlanders se betrokkenheid en hulpverlening aan die Boererepublieke tydens die ABO. Hy het met trots die boek by foto’s oopgemaak waar sy oupa en president Kruger saam verskyn het en toe vertel hy my van sy oupa se betrokkenheid by die president se verblyf in Europa tydens sy ballingskap, tot sy dood toe.

Sy oupa was daar toe die president van die Gelderland af aan wal gestap het en hy het vertel van die gulle ontvangs en verwelkoming wat hom te beurt geval het. Hy het met ‘n knipoog vertel van koningin Wilhelmina se bewondering vir die president. Vanuit België het hy na Den Haag vertrek waar hy mediese hulp ontvang het. Daarna is hy na Hilversum en ná sy vrou se dood na Utrecht, waar hy ook die treurige nuus van die Vrede van Vereeniging ontvang het. Hy het vertel dat die hele Nederland, en selfs ander Europese lande, in rou gedompel was.

Soos derduisende Europeërs het sy oupa ook ‘n heldeverering vir die bejaarde president gehad en dit was hy wat ‘n leiersrol gespeel het ten opsigte van die reisplanne van die ou president om oraloor skares ondersteuners toe te spreek. Hy het vertel hoe honderde duisende juigend en geesdriftig na die president geluister het.

My nuutgevonde vriend het, voordat ons gegroet het, nog ‘n boek gaan haal: Gedenkschriften van Paul Kruger deur F. Rompel, geredigeer en in Nederlands gepubliseer. Dit was die president se herinneringe soos hy dit aan sy sekretarisse (H.C. Bredell en Piet Grobler) gedikteer het. Die bundel was ook in verskeie Europese tale vertaal.

Tot my stomme verbasing het ek tot my spyt geen besonderhede van die Boerevriend neergeskryf nie. Hy het pad beduie en ons het gegroet. Met my hand stewig in syne, was sy laaste woorde aan my: “Ik groet u. Een Boer in merg en bloed.” Dit was waarskynlik, met ‘n warmte in twee harte, ‘n laaste groet.

Die volgende verrassende ervaring was kort daarna in Engeland. By ‘n voetgangerverkeerslig het ek gesien hoe ‘n bejaarde, kromrug Engelse dame sukkel om die skakelaar teen die paal in te druk. Sy was klein en fyn en broos. Die vingertjies was kromgetrek. Ek het die skakelaar ingedruk en sy het met moeite na my toe opgekyk. Sy het my pet raakgesien.

“I like your hat. What does it say?” Ek moes vinnig dink en probeer vertaal.

“I’m a thorough bred Boer in bone and marrow.” Sy het my vir ‘n wyle met skrefiesoë aangekyk en toe praat sy.

“Then you should remember the Boer War.”

Yes, I remember. I suppose you refer to the Anglo Boer War.” Sy het begrypend verder gepraat.

My grandfather fought in that war. He always said he was lucky to return home. Most of his friends didn’t.”

Ek was sprakeloos en het gewag dat sy weer moes praat. Sy het.

You know, he had great admiration for the Boer Army.” Ek weet ek moes seker nie, maar ek wou hê sy moes weet.

You know,” het ek haar reggehelp, “there was no Boer Army. The battle was fought by Boere, most of them farmers, who fought for the freedom of their beloved country.”

Ons het vir ‘n rukkie woordeloos na mekaar staan en kyk terwyl mense heen en weer verby ons die straat oorgesteek het. Toe praat sy weer.

Britain didn’t win the war. And the Boers didn’t loose the war.”

Ek kon niks sê nie. Die knop in my keel was té groot.

May I have the honour to shake hands with a Boer?” Sy het haar kromvingerhandjie na my toe uitgehou en ek het haar handjie in al twee my hande toegevou. Woorde sou oorbodig wees. Ek het haar oor die straat gehelp en ons het gegroet. Haar laaste woorde aan my was: “I like your hat because I know what it says!”

Honderd en agtien jaar ná die ABO het twee kosbare mense my pad gekruis. Ons ontmoetings het seker nie veel langer as ‘n kwartier geduur nie. Ek sal hulle seker nooit weer sien nie, maar ek sal hulle beslis nooit vergeet nie.

‘n Tenger Engelse vroutjie en ‘n forse Nederlandse heer het my Boerehart raakgesien en nie weggekyk nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

18 Kommentare

Baardbek ·

Geagte vriend Johan Oosthuizen.
Voorwaar ‘n aangrypende ervaring!!
Ek glo dat u ook paslik dankbaar is vir die vermoë, en geleentheid, om hierdie lande te kon besoek, en wees verseker dat die ontmoetings nie “toevallig” was nie! NIKS gebeur eenvoudig “toevallig nie; ALLES is deel van die Groter Raadsplan!
Mag u ‘n Geseënde dag ervaar.

Stephan de S ·

Dankie Johan dat jy hd kosbare kleinood met die lesers deel. Dit het my ou Boerehart nou n wêreld se goed gedoen. Lekker dag met jou goeie hoed en al.

Andre ·

Wat n lekker warme gevoel om n dag mee te begin…..voorwaar iets baie spesiaal .

Trotse ouer ·

Hallo daar Johan,

Dit is voorwaar die mooiste ervaring wat jou te beurt geval het!! Ek en ‘n vriendin wat in Windhoek woon praat net so in die week oor die ABO wat nie meer vir ons kinders op skool geleer word nie. Dit is ons plig as ouers om ons Boere-geskiedenis vir ons kinders te leer en lewendig te hou.

Nogmaals baie dankie Maroela Media vir die plasing van die stuk. My Boerehart klop sommer warmer omrede ek dit kon lees.

Agie ·

Liefde is die enigste internationale taal

Dit lê in die oog en die hart

Db ·

Dankie Johan. Ek is en was nog altyd trots om te sê dat ek ‘n boere vrou is al woon ek in die stad

Jeremia ·

Aangrypend. Ek is u ewig dankbaar dat u dit met ons gedeel het.
Onvergeetlik!

Hendrik ·

Paul Kruger moes legendaries in Europa gewees het. Toe ek vir 3 jaar in Lyon, Frankryk, gewoon het, het ek heel toevallig op ‘n straat vernoem na Paul Kruger afgekom.

Gary "Gerrie" Hoek ·

Mooi geskryf Johan!

Miskien het jy sy naam nie neergeskryf nie omdat hy jou nie ingenooi het vir koffie! :-)

Kristelle Reed ·

Ongelooflike verhaal Johan. Sjoe baie dankie vir die deel. ????????????????????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.