Uitbranding: Die einde-van-die-jaar siekte

Aan die einde van enige jaar voel baie mense oorwerk, uitgeput en gereed vir vakansie. Om uitgebrand te wees en te voel is nie ongewoon nie, en dit is belangrik om te weet wat aan die gebeur is en hoe jy dit kan hanteer.

Wat is uitbranding?

“Uitbranding is amper soos ʼn depressie wat oor ʼn mens kom. Dit is ʼn fisieke en geestelike moegheid en dit raak selfs mense wat oor die algemeen positief is,” sê Juliana Coetzer, ʼn psigoterapeut van Pretoria.

“Meeste mense gaan mos maar net aan en aan al is hul [emosionele] tenke vol, veral as die einde van die jaar in sig is. Dit is letterlik soos ʼn tenk wat nie meer een druppel water kan vat nie,” verduidelik sy. Dit is dan wanneer uitbranding kan intree.

“Simptome van uitbranding sluit in chroniese moegheid, slapeloosheid, vergeetagtigheid, angstigheid, onproduktiwiteit en irritasie. Mense wat uitgebrand is, word ook heeltyd siek. Dit is asof hulle liggame nie meer ʼn weerstand kan bied nie. Oor die algemeen voel dié soort mense uitgeput, sinies en negatief,” sê sy.

Dr. Owen Wiese van VIA-kanaal se program Dokter-dokter, het ook onlangs in ʼn Facebook-plasing meer vertel spesifiek oor ma’s wat oorweldig en mismoedig raak dié tyd van die jaar.

Wiese skryf dat dit baie energie verg om ʼn ma te wees. “Dit vat letterlik alles in jou om elke dag jou gesin te versorg. Die dae toe jy net na jouself hoef om te sien is ‘long gone’. Kinders is energiestofsuiers,” skryf hy.

“As jy net ’n ma was, was dit miskien makliker, maar jy is ook ’n vrou vir jou man, jy moet ook jou werk doen [en] vriendskappe is vir jou kosbaar. Jy word dun gesmeer. Dit is orraait om soms te voel jy wil die berge inhardloop waar daar rus en vrede is. Jy hoef miskien nie die berge en dale aan te durf nie, maar tyd op jou eie is soms nodig,” skryf hy.

Waarom brand mense uit?

Coetzer meen ons leef in ʼn gejaagde tyd waarin niemand tyd kry om te ontspan nie, omdat werk al jou tyd opeis. “Spanning, oorwerk wees, te veel en te lang ure werk, dit alles brand ʼn mens uit,” sê sy.

“Ek dink dit gebeur juis dié tyd van die jaar omdat mense weet die einde is in sig. Jy sien uit na die einde, maar daar is steeds goed wat gedoen moet word. Jy sien die einde nader kom, maar jy besef dat jou liggaam net nie meer kan nie. Alles word veroorsaak deur spanning. Mense dra te veel en die bekommernis is te veel.”

Sy meen baie mense gun hulself nie ʼn blaaskans nie. “Maar op ʼn dag kan jou liggaam net nie meer nie en dan begin jou liggaam vir jou seine stuur. Dit is dán wanneer mense uitbrand,” sê sy.

Hoe om uitbranding te voorkom

Coetzer sê dit is wel moontlik om uitbranding te voorkom en daarom moet jy tyd vir jouself inruim en soms net ontspan.

“Dit is belangrik om verlengde breuke te neem gedurende die jaar, en dan moet jy net ontspan. Te veel mense spring uit die bed, hardloop deur ontbyt, hardloop deur werk en ontspan net nooit nie. Ontspan net eers en haal diep asem. Praat met jouself! Wees bewus van wat jy besig is om te doen,” sê sy.

“Dan is dit ook belangrik om korter breuke te neem, wat nie noodwendig ʼn vakansie is nie. Skeduleer tien minute by die werk om net buite te gaan stap. Vat ook ʼn langnaweek eenkeer per kwartaal om te voorkom dat jy uitbrand.”

Coetzer beveel ook aan dat, wanneer jy met vakansie gaan, jy heeltemal afskakel. “Wei jouself daaraan toe om weg van die nuus af te kom. Laat jou werk se nuus én die land se nuus by die huis.”

Hoe om uitbranding te hanteer

Wanneer jy wel aan die einde van die jaar agterkom jy is uitgebrand, en nie hierdie wenke toegepas het nie, stel Coetzer voor dat jy die volgende veranderinge aanbring:

“Verander jou eetgewoontes. Eet gesonder! Mense eet deesdae in die hardloop.

“Slaap! Maak seker jy kry genoeg ure slaap in elke nag. Dit is nodig om jou kragte so te herwin. Prioritiseer jou take en besin oor wat regtig nodig is en wat jy eerder kan laat. Doen een ding op ʼn slag,” sê sy.

“Dit is ook belangrik om te gaan sit en ʼn plan te maak. Erkenning is die eerste stap. Sê vir jouself: ‘Ja, ek is uitgebrand, wat gaan ek nou hieraan doen? Hoe gaan ek dié ding hanteer?’

“Baie mense is uitgebrand sonder dat hulle eens bewus is daarvan, maar mense rondom hulle sien dit raak. Jy kan saam met iemand gaan sit om ʼn plan vir jou uit te werk of jy kan dit self doen. Solank daar ʼn plan is kán jy dié ding oorkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

John ·

As alles so maklik was het ons net hierdie boodskap gelees, die vergete towerstaffie uit die onderste laai gehaal en… woeps-waps alles reg geraps… Voorspoed (en baie genade vanaf die Towerstaffie van Bo) vir 2018!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.