Uitgelewerde troeteldiere

Lizma se Mimi en Lienka – albei “rescues”. Lienka, die Jack Russel, is ʼn dowe, driebenige, brawe klein brak. (Foto: Verskaf)

Die hond het in die Kaapse hittegolf onder ʼn afgeleefde motor naby die lughawe gelê en na sy asem gehyg. Hy was met ʼn ketting aan ʼn wiel vasgebind en het homself onder die voertuig ingegrawe vir ʼn bietjie koelte. Daar was nie ʼn bak water of ʼn krieseltjie kos in die omtrek nie. Die kwik in Kaapstad het daardie dag tot digby die 35 grade Celsius gestyg.

ʼn Motoris het die Duitse herdershond van daardie allerverskriklike bestaan, en waarskynlik ʼn gewisse dood, gered. Sy het van die pad afgetrek, die hond losgemaak en huis toe geneem. Vyf bakke kos later was die stomme dier se honger uiteindelik gestil.

Die beeld van die herdershond wat aan ʼn motorband vasgeketting en aan die elemente uitgelewer lê, dag in en dag uit, mors met my kop. Net nog ʼn voorbeeld van miljoene diere wat daagliks ongekende lyding aan die hand van die mens ervaar.

Die hond-sonder-naam is nou by ʼn hondeskuiling (shelter) waar hy darem elke dag kos en water kry.  Ons soek nog vir hom ʼn huis. ʼn Goeie een.

Dié hond se storie is nie uniek nie. ʼn Bejaarde dame van Gauteng het haar hartroerende verhaal vir my vertel. Dit handel oor ʼn saggeaarde tefie wat vir maande lank stoksielalleen in ʼn kamp op ʼn bedryfsperseel aangehou is. Daar is onlangs ʼn reun ook bygesit en die gevolg is ʼn werpsel van agt; een met ʼn gebreklike pootjie (wat intussen spoorloos verdwyn het …). Hierdie hondegesinnetjie sit dag in en dag uit op die stuk harde grond sonder enige beskutting teen hitte en koue. Tannie Lien probeer ʼn paar keer ʼn week deur die draadheining by die honde uitkom en is baie liefderik oor die mammahond wat sy “Liefiekind” gedoop het. Die eienaar van die perseel is egter nou op die oorlogspad nadat hy die diere al twee keer verder afgekamp het om haar weg te hou. Dié vindingryke diereliefhebber slaag egter steeds daarin om vir hulle ʼn eetdingetjie te gee en deur die gate in die draad ʼn koppie te streel en ʼn bemoedigende woord te fluister. Sy sê vir my: “Lizma, die honde het níks”! Toe ek vir hulle ʼn kombersie oor die heining gooi het hulle daaraan begin kou. Hulle weet nie wat dit is nie.”

(Foto: Verskaf)

Ek is ʼn dieremens en dit is veral honde wat die sagste en beste in my ontlok. Wreedheid teenoor diere, wel, enige vorm van wreedheid, is vir my die grootste sonde van die mensdom en ongelukkig ʼn onlosmaaklike deel van hierdie ding wat ons die “menslike toestand” noem. Dit maak my moedeloos, want daar is nie ʼn kuur nie.

Daardie spontane, suiwer hondeliefde het my al deur van die swaarste dae van my meer as vyftig jaar gedra. Honde ervaar emosie, toon begrip en het geen voorbedagte rade nie. Hulle géé net, selfs al is hulle aan die ontvangkant van mishandeling en verwaarlosing. Honde se vermoë om te vergewe en hulle kapasiteit vir liefde is vir my een van die wonders van die wêreld.

En moenie vir my sê dis maar net honde nie …

Ek glo dat ons deernis vir vierbeniges die binneaarse fontein is wat deur ons menswees vloei.

In die nou al bekende woorde van Mahatma Gandhi: “The greatness of a nation and its moral progress can be judged by the way its animals are treated.”

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

(Foto: Verskaf)

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Di ·

Mense wat diere mishandel laat letterlik my bloed kook! Waarvoor kry jy ‘n hond in die eerste plek as jy nie vir die dier kan sorg nie. Dis mos te maklik om die hond iewers langs die pad te gaan aflaai of net nie vir die dier ‘n behoorlike skuiling, kos en water voorsien nie. As ek SO iets teekom sal ek dit nie net daar laat nie, dis verseker! As ons nie opstaan vir hierdie hulpelose diere nie, wie sal? Vir al daai mense daar buite wat hulle diere mishandel of verwaarloos vir ek net se dat jy eendag rekenskap sal gee vir jou dade. KARMA is for real

Samuel ·

Lizma is ‘n wonderlike, saggeaarde mens. Gaan voort met jou wonderlike werk.

Pieter ·

Mooi artikel. Ghandi se woorde is soos gelouterde goud. Die misdaad in Suid Afrika kan hieraan gemeet word en duidelik sal dit nie uit sigself verbeter nie. Dit maak my altyd gelukkig om vir diere te help as ‘n mens.

PersHeks ·

My pa het altyd gesê dat as jy nie met ‘n dier oor die weg kan kom nie, hoe kan jy dan met ‘n mens oor die weg kom.

Henk ·

Goeie dag maroela, is daardie honde kindertjies nog steeds in die shelter? is hulle al twee of is daar net een en watter een is dit, stuur asb vir my n foto groot asb

PieterJ ·

Mense se menslikheid word geoordeel aan hoe hulle diere en oumense behandel wat nie hulself kan verdedig nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.