Uitgesluit

kettings-geestesgesondheid

Foto: Geralt/Pixabay.com

“Alle nominasievorms kan nou vorentoe gebring word en indien u genomineer is, moet u asseblief ʼn vorm kom onderteken dat u nie mentally ill is nie…” Die vrou voor in die saal word in die rede geval deur ʼn gelag uit die gehoor. “Ook dat u nie ʼn kriminele oortreding begaan of onder skuldberading is nie.”

Ja, ek kan seker die humor insien. Dat mens dalk nie by jou volle verstand is om ure en ure van jou persoonlike tyd op te offer om op jou skool se beheerliggaam te dien nie.

Ek kyk weer na die vorms wat my as kandidaat vir die beheerliggaamverkiesing nomineer en sit dit dan terug in my handsak. Want ek is ʼn Wipplankryer. Ek ly aan bipolêre gemoedsversteuring. En dáárom is ek uitgesluit.

Mental disorder – also called Mental illness

A wide range of conditions that affect mood, thinking and behaviour.

Most common types

  • Clinical depression
  • Anxiety disorder
  • Bipolar disorder

“Moenie hierdie jas vir jou aantrek nie. Dit is nie jou jas nie. Dit is nie jý nie.” Dié woorde van ʼn kollega val my weer by op pad huis toe van die beheerliggaamverkiesing af. Die kollega het my ʼn ruk gelede kom opsoek ná ʼn insident waar ʼn paar onsensitiewe opmerkings geopper is oor iemand wat duidelik geestelik ongesteld was. Ek was baie omgekrap: As mense só kan praat en oordeel oor iemand wat hulle nie eers ken nie, waarom sou ek enige van hulle in my vertroue neem as ek ʼn slegte dag het?

Maar hy is só reg. Hierdie Wipplank is nié my identiteit nie en die simpel beheerliggaamverkiesing het my sowaar weer dié simpel jas laat aantrek.

Vyf sinne: Begin met “Ek is

Dit was die eerste dag van my hospitalisasie ʼn jaar gelede, my huiswerk van die sielkundige af. Dit het my sowat ʼn minuut geneem om dit te voltooi.

  • Ek is moeg
  • Ek is geïrriteerd
  • Ek is angstig
  • Ek is nie goed genoeg nie
  • Ek is alleen

“Is dit wie jy is of hoe jy voel? En is dit feite?” vra die sielkundige my die volgende dag. Doen weer die oefening. Geen gevoelens nie. Elke stelling moet waar wees. En jy mag net op positiewe dinge fokus.

Hierdie keer was dit heelwat moeiliker, maar toe ek eers aan die gang kom was daar gou weer vyf sinne. En toe ek die pen neersit was daar skielik, vir die eerste keer in ʼn lang tyd, ʼn warm plekkie vir myself in my hart.

  • Ek is ambisieus en ʼn presteerder
  • Ek is intelligent en talentvol
  • Ek is empaties en ʼn goeie vriendin
  • Ek is hardwerkend en gedissiplineerd
  • Ek is eerlik en waardegedrewe

ʼn Diagnose is nie my identiteit nie. Ek is nie bipolêr nie. Ek leef met dit saam. En ek is glad nie in slegte geselskap nie. Ek sit saam met Sir Isaac Newton, Frank Sinatra, Vincent van Gogh, Carrie Fisher en Ludwig van Beethoven op die Wipplank. Hulle was ondanks (of dalk danksy?) hul Wipplank-uitdagings uitstygers.

Liewe Wipplankryer,

Moenie ʼn jas aantrek wat jou nie pas nie. Doen jou eie Ek is-oefening. Vind jou identiteit en wees lief vir die persoon wat jy ontdek. Die Wipplank maak ons moeg, maar dit maak ook van ons aanhouers. Dit maak ons angstig, maar mag dit ons laat vasgryp aan ons Vader. Dit breek ons selfbeeld, maar dit is vervangbaar. Met ʼn veel beter beeld: ʼn Godsbeeld.

Mag jy vind wie jy is in God se oë.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Elouise Moodie ·

Hierdie is een van die beste artikels wat ek nog oor bipolariteit gelees het! Dankie dat jy jou ervaringe so openlik deel! Dit gee baie ander mense hoop!

Johan ·

Daardie jas, ja hy is party keer maar ook goed nat gereën. Hang dan maar swaar aan die skouers met ‘n donker hond wat agterna loop, afgemete en presies in die volgafstand.
Die stryd om elke keer die jas uit te trek en op te hang wel wetend waar hy opgehang is. Die hond wat bloot net verdwyn en iewers in die donkerte wegkruip soos ‘n slang.
Maar dan, ook daardie tye, redelike lang tye waar daar gedy word onder eie inisiatief, teenspoedtempering, uithouvermoë, sin-vir-bestemming – die ander kant van die wipplank.
Die kontigente – die nou-en-hier – is my kuur. Die moeilikheid is, dit is die balanspunt, die oorhelpunt. Daar waar die verlede met sy hardhandige uithouvermoë en die toekoms mekaar ontmoet.

Johan ·

…dit is hier waar die hardhandige uithouvermoë van die verlede die ….
vergeet om die verlede in te voeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.