UP-museums nou aanlyn beskikbaar

(Foto: Brett Jordan/Unsplash)

Die Universiteit van Pretoria (UP) het kragte saam met Google Arts & Culture (GAC) gesnoer om sy museumversamelings aanlyn beskikbaar te stel.

Vyf uitstallings is nou aanlyn te sien. Dit maak UP Museums die eerste universiteitsmuseum in Suid-Afrika om sy diverse institusionele kuns en ander erfenisversamelings aanlyn beskikbaar te stel.

Danksy die nuwe virtuele platform kan gebruikers nou meer as 700 uitsonderlike werke vanuit die universiteitsmuseum aanskou.

Kuns en kultuur vanuit verskillende dele van die wêreld word op dié platform gevier, waaronder werke van die Mapungubwe-versameling, 20ste-eeuse meesterstukke deur Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Maggie Loubser, Irma Stern, Jacob Pierneef en Frans Oerder, asook moderne Afrika-kunswerke.

Die 110 jaar oue UP-museumversameling kan ook beleef word deur die Google Culture-app.

“Dit was ʼn natuurlike migrasie en wedersydse vennootskap om die museumversamelings aanlyn beskikbaar te stel. Dit spruit voort uit die trefslag van die pandemie en ongekende sluiting van museums wêreldwyd,” sê dr. Sian Tiley-Nel, hoof van UP Museums.

“Verder is dit ook ʼn sosiale reaksie om kunswerke, argiewe, geskiedkundige werke en ander meesterstukke, veral Suid-Afrikaanse kuns, aan die kontinent en die wêreld te bring.”

Die eerste fase van die projek het op 29 Junie 2020 afgeskop onder leiding van Gerard de Kamper, kurator van museumversamelings, en Lelani Nicolaisen, kurator van uitstallings en galerye.

Google Arts & Culture stel die skatte, stories en kennis van meer as 3 000 kulturele institute vanuit 80 lande beskikbaar met die druk van ʼn knoppie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.