Vaarwel, manne!

seun-skaatsplan-ou-skool-toekoms-pad

Foto: Rainer_Maiores/Pixabay.com

Deur Ignatius Erasmus

So bevind ek my in die ongemaklike dele van Johannesburg – ek en my ou vroutjie sien die stad maar min, so mens benut dan mos maar die plesiertjies wat die betonreus jou bied.

Kyk ek is ’n dromer, was nog altyd. Ek kan mos nie by ’n rolprentteater verbywandel sonder om te gaan loer wat op die doek aangaan nie.

Elk geval, hier is ek en my vrou op die Sabbat in die stad. Ek sê haar toe, “Kom ons gaan fliek.” So gesê, so gedaan.  Ons is ook nie links nie en druk by die eerste beste fênsie mall in.

Die pad was ook effens lank en ek het my blaas toe al twee maal berispe oor hy so knaend kerm.  So stap ek toe ook met ’n vinnige tred die gang af, badkamer toe. Die bordjies hou aan wys vorentoe en vorentoe. Dan hot, dan haar. Ek’s al later so dronk gestap, voel aljimmers of ek agter ’n koei aanstap wat haar kalf verloor het. Al verskil, hier is nie ’n lekkerbreekboompie of ’n ou vaalbossie waar ek my blaas kan ledig nie. Die kammaplante in die potte oral op my weg, het amper die doel gedien, maar ’n man is immers nie ’n vark nie, veral nie so met die loerende oë op jou nie.

Helaas, my bestemming lê voor my. Dis seker maar soos die Israeliete van ouds moes voel toe hulle die beloofde land se grense oorgesteek het. Dis toe net hier, waar ek my blaas byna leeg skrik.

Daar in die badkamer sien ek toe ’n lelike ding wat homself uitspeel – dáár waar jy jou hande was, ná jy nou jou sake gedoen het. Daar voor die spieël waar ’n man so skrams vir homself loer – jy weet, net om te kyk of jou neus en goete nog in orde is. Dalk op die uiterste, jou hand so half deur jou baard te vroetel en so terloops jou hare platstryk.

Wel, daar sien ek toe mos drie kannetjies. Ek skat hul ouderdomme tussen 8 en 10 – die oudste een kon dalk 11 jaar oud gewees het. Al drie van hulle staan selfversekerd en min gepla met die res van die manne om hulle. Hulle groom hulself. Die een mannetjie ruk so ewe ’n buisie uit sy bladsakkie, ’n sakkie wat lyk of my suster hom dalk sou dra op ’n Valentine’s Ball. Nou smeer hy die roompie in sy hare in. Die ander mannetjie vryf so half sagkens aan sy wenkbroue, lyk amper soos ’n mamma wat ’n melkwindjie uit ’n baba vrywe. Die derde knapie hou aan vroetel aan sy klinknaelbroekie. Die ding lyk my knyp hom hier in die lies. Lyk kompleet soos ’n bok met hartwater soos hy nou daar stywe been rond trap.

Ek, aan die ander hand, vergeet heeltemal die doel van my sending. Ek trap toe nou maar ook daar rond voor die spiegel. Kyk moet ’n man mos nou maar kyk. Ek merk toe skielik my kakiehemp se kraag is half aan die kreukelkant. My ou leerbelt hou darem die kortbroek op sy plek en my Victorinox-knipmes bult vertroostend hier in my sak. Tevrede met die man wat ek sien, storm ek toe daar uit. Om die waarheid te sê, ek vlug blindelings soos ’n banneling uit daai badkamer. Net een doel voor oë, om my vrou te loop vertel van die drie pierewaaiers in die mansbadkamer. Ek moet haar vertel van die belaglikheid wat ek gade geslaan het.

Later op die pad tref dit my, hier is merakkas, sommer groot ellende. Dit wat ek aanskou het, is die toekoms van ons manne.  Oral om my merk ek dit. Die ouer knapies met hul plat kepsies en gietbroeke – daar straal so ʼn kenmerk van slapgattigheid en modebewustheid uit hulle uit. Selfoon pal in die een hand.

Kyk, moet my nie verkeerd verstaan nie, ek is nie oudtyds of verkramp nie. Ek myself is maar ’n jongman van 28 jaar oud. Maar waar het ons as rolmodelle en ouers verkeerd gehandel? Hoe het ons toegelaat dat ons jeug se jeugdigheid en kindwees van hulle berowe is?

My kop begin toe dwaal na my eie jeug. Ek begin toe die lekker dinge van kindwees uitpak. Ek wonder toe of daai drie seuntjies met hul opgetofde hare ooit die lekkerkry sal ken om jou maat se top “te ertjie”. Sal hulle ooit met drie plat klippe giffie kan speel? Sal hulle êrens ’n spruitjie kry waar hulle mekaar met kleilatte kan gooi? Sal hulle ooit die begeerte koester om die skoolhoof se venster met ’n kettie uit te skiet, maar die vrees dat hulle agterente gaan brand, dié begeerte sal doof? Sal hulle ooit weet hoe dit is om kaalvoet oor ’n warm teerpad te snol of om langs die pad te wag en vir die groot trokke te wys om hooter te blaas? Om net op Sondae skoene te dra, om jou naels sommer kort te kou, en jou hande sommer skoonvee aan die binne kant van ’n groen PT-broekie? Sal daai drie mannetjies ooit die magtige klap van ’n windbuks ken? Sal hulle weet van toktokkie speel? Sal hulle orraait wees om agterop ’n bakkie deur die dorp te snor, Coke uit glasbotteltjies drink en dit inruil vir Wilson-toffies?

Sal die mannetjies ooit die skaamte ken van jou eerste meisietjie se aandag te probeer trek? Sal hy weet hoe dit voel om jou kalwerliefde eers met ’n peashooter sag te maak, sodat sy van jou kan notisie neem, sodat julle ’n pouse saam gekys kan wees sonder enige iemand anders se kennis, en dan halfpad deur pouse te breek omdat die brandbal oorkant die vierkant meer aantreklik lyk as die skoon gesiggie hier neffens jou?

Sal hierdie seuns ooit die wêreld sien, sal hulle die begeerte koester om die watertoring uit te klim? Net vir die feit dat jy nie mag nie.  Sal hulle ooit met ’n groot toon ’n streep voor sy makker trek, en sê “Trap oor daai lyn, dan boks ons!”

Ek weet nie, dêmmit, ek weet nie. Hoekom was ons so en vandag is niks meer lekker nie? Wie was ons rolmodelle? Ja, ons het Trompie gekyk en Die Swart Kat. Die hoërskoolseuns wat skelm rook en ag, sommer die oom met sy Cruiser wat skeef op ’n randsteen park op ’n sportdag. Wie is die helde vandag? Wil jy werklik vir my vertel dat Justin Bieber so ʼn kolossale rol kan speel dat selfone en sosiale media ons jongspan so beduiwel dat hulle soos opgesmukte skouperdjies in winkelsentrums moet rondhang. Dan, my geliefdes, is ons die skeppers van ’n antisosiale stelsel. ’n Stelsel waar ons klein grootmensies kweek…

Hoe is dit normaal dat 8-jarige meisietjies aan modelkompetisies deelneem? Sodat hulle ryp gedruk en blink grimeer kan word?

Walt Disney het op ’n keer gesê, die groot probleem met die Wêreld is dat almal op die einde grootraak, en ek kan dit beaam.

Hoe kan jy nie ’n kind wil wees nie. Die wêreld het kinders nodig. Kinders droom. Dis waar jy leer om te droom. Jy droom oor ’n wêreld waar daar net speel en lag is. ’n Wêreld waar seerowers eintlik almal goed en gaaf is. Hoe lyk die toekoms as daar nie ’n kinderdroom êrens ontkiem het nie?

Mooiloop en fyntrap, dis woes daar buite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jerry

Jy kan net red wat te redde is!

OWO

Goeie skrywe Ignatius.Dit wat jy hier skets is absoluut ‘n realiteit.Ek dink ons politieke verandering die afgelope 25 jaar het ‘n groot rol gespeel in hoe ons jeug vandag gevorm is.Dit wat reeds afgeskaf is, is legio.Dissipline,standaarde,respek,waardes noem maar op is lankal verlore.So tydjie gelede sit ek in ‘n dokter se wagkamer en wag vir my vrou.Daar kom ‘n vrou in met ‘n seuntjie van so ses jaar.Hy kom in met sy aandag op die selfoon besig om speletjies te speel.Hy kyk nie links regs of rond nie,maar net op die foon.Ek glo nie hy het geweet waar hy is… Lees meer »

Francois

Dankie Ignatius – ek het jou skrywe terdee geniet en deel beslis jou sentiment – al dan ‘besorgdheid’ oor waarheen ons ‘jong manne’ oppad is – waaragtig weet!

Megan

As mamma van een jarige seuntjie hoop, wens en bid ek dat hy ook eendag tok-tokkie kan speel, fietsry in die straat en padda vissies vang in die vlei soos ons gedoen het as kind. Verlang nou skoon na die onskuldige kinderdae!

Stephan de S

Lekker nostalgiese leestof…..ja sal seuns nog seuns wees…?