Valentynsdagstories: Só het die bekende paartjies ontmoet

Valentynsdag is om die draai, en verskeie paartjies herdenk die dag toe hulle halsoorkop verlief geraak het. Hoewel die grootskerm en romantiese liedjies dit soms laat lyk of alle bekendes hulle ander helftes op idilliese maniere ontmoet het, het hulle ons ’n bietjie agter die skerms ingenooi.

Nadia Beukes en David de Villiers. Foto: Facebook via Nadia Beukes

Nadia Beukes en David de Villiers. Foto: Facebook via Nadia Beukes

Nadia Beukes en David de Villiers

Die aktrise en voormalige Boer soek ʼn vrou-aanbieder, Nadia Beukes, sê hulle het ontmoet tydens ʼn vertoning van die Liefling-verhoogproduksie. “Ons het gemeenskaplike vriende gehad in daardie stadium. Hy het een aand laat weet hy gaan in die vertoning wees, en ons moet agterna iets gaan drink,” het Nadia vertel.

Sy sê hulle het dadelik goed oor die weg gekom. “Ek het hom eendag gevra of hy my metgesel sal wees na die Mooirivier-fliekpremière. Hy het gesê hy sal saamkom as ons vooraf op ʼn date kan gaan. Ons was toe op verskeie dates voor die première.”

Die paartjie het onlangs tydens ʼn skivakansie in Frankryk verloof geraak op die dag wat hulle mekaar een jaar lank ken. “Vir Valentynsdag gaan ons na ʼn onthaalplek vir ons troue soek. Jy kry nie meer romanties as dit nie,” het Nadia gesê.

Rina Hugo en Johan van Rensburg

Rina Hugo en Johan van Rensburg

Rina Hugo en Johan van Rensburg

Die musikant Johan van Rensburg en sopraan Rina Hugo vertel hulle het reeds in 1968 ontmoet. “Ek was die voorsitter van die Alabama-sanggroep. Ek het gehoor van die meisie, ʼn tweedejaar BMus-student, wat glo mooi kan sing. Ek het haar eendag by die klas voorgekeer en gevra dat sy ʼn oudisie moet doen,” het Johan vertel.

Rina het kort daarna by die Alabama-groep aangesluit. “Maar sy het ʼn kêrel gehad. Toe ons ʼn rukkie daarna op toer gaan, het sy teruggekom met twee kêrels. Ons is toe in 1971 getroud.”

Vaughan Gardiner en sy vrou, Nerine. Foto: Argieffoto.

Vaughan Gardiner en sy vrou, Nerine. Foto: Argieffoto.

Vaughan Gardiner en Nerine Gardiner

Vaughan Gardiner en sy vrou, Nerine, het ook hul romanse te danke aan musiek. Die paartjie het in 2008 ontmoet by die Universiteit van Stellenbosch tydens ’n “ser” (serenade). “Sy het die geleentheid gereël en ek het gesing. Ons het een aand gesit en gesels tot vier uur die oggend. Ek het die volgende dag vir my ma gesê ek het my trouvrou ontmoet,” het Vaughan vertel.

Jakkie Louw en sy vrou, Anel. Foto: Verskaf

Jakkie Louw en sy vrou, Anel. Foto: Verskaf

Jakkie Louw en Anel 

Sommige bekendes se verhale klink wel asof dit uit ʼn fliek behoort te kom. Die sanger Jakkie Louw vertel hy het sy vrou die eerste keer gesien ná ʼn optrede. “Ek het na haar gestap en gevra of sy landloop doen, want sy het mooi bene,” het Jakkie geskerts.

Die paartjie was ʼn rukkie net vriende voordat hulle verlief geraak het. “Kort nadat ek ʼn splinternuwe Mercedes gekoop het, het ʼn vrou een aand van agter in my kar vasgery. Toe ek uitklim, het ek haar gesien. Ek het haar met ons eerste date na ʼn Nataniël-produksie geneem. Nou is hulle werklik my drie pikkewyne,” het hy vertel.

Sorina Erasmus en haar man, Braam. Foto: Facebook via Sorina Erasmus

Sorina Erasmus en haar man, Braam. Foto: Facebook via Sorina Erasmus

Sorina Erasmus en Braam 

Nataniël blyk ook verantwoordelik te wees vir die romanse van Sorina (die Flooze) Erasmus en haar man, Braam. Hulle het mekaar op Valentynsdag op ʼn blind date ontmoet.

“Ek het ʼn tannie geken wat my by elke begrafnis of troue aan die een meisie wou voorstel. Dieselfde tannie wou haar ook aan die outjie voorstel. Ek was op Valentynsdag alleen en het haar gebel om te hoor of sy saam met my na Nataniël se vertoning wil gaan kyk. Sy het pas klaar drama gestudeer, was platsak en het net ja gesê vir die kos. Op die ou end het ons so lekker gekuier, ons moes ons kos terugstuur, die vertoning gaan kyk en later teruggaan om te eet,” het Braam vertel.

Pieter Koen en sy vrou, Lotie. Foto: Facebook via Pieter Koen

Pieter Koen en sy vrou, Lotie. Foto: Facebook via Pieter Koen

Pieter Koen en sy vrou Lotie 

Sommige van die duifies het reeds op universiteit ontmoet. Pieter Koen en sy vrou, Lotie, het by ʼn koshuisskakeling-aksie ontmoet. “Dit was by die Pretoria Technikon. Ek moes eintlik net saam met een van my goeie vriende gaan. Ek het toe van die meisie se vriendin gehou van wie my vriend gehou het. Vandag is ons steeds saam,” het Pieter vertel.

Jak de Priester, en sy vrou Michelle. Foto: Instagram via Jak de Priester

Jak de Priester, en sy vrou Michelle. Foto: Instagram via Jak de Priester

Jak de Priester en Michelle

Gemeenskaplike vriende blyk ook die rede vir groot romanses te wees. Die sanger Jak de Priester, en sy vrou, Michelle, het saam ʼn geleentheid van ʼn gemeenskaplike vriendin bygewoon. “Daar was beslis vonke gewees, maar hy het aanvanklik ʼn meisie gehad. Nadat hulle uit is, kon ons toe by mekaar uitkom. Ek was egter toe vir ʼn rukkie in Londen gewees. Ek dink daar het ek besef hy is die man vir my,” het Michelle vertel.

Elzette Maarschalk en Joseph Clark. Foto: Facebook via Elzette Maarschalk

Elzette Maarschalk en Joseph Clark. Foto: Facebook via Elzette Maarschalk

Elzette Maarschalk en Josep Clark & Zetske van Pletzen en Altus Theart

Die aktrise Elzette Maarschalk en haar man, Joseph Clark, het ontmoet in die musiekblyspel The Buddy Holly Story in 1995. “Ons het man en vrou gespeel – hy was Buddy en ek was Maria-Elena, sy vrou,” het sy vertel. Elzette se dogter, die gewilde aktrise Zetske van Pletzen, en haar man, Altus Theart, het ontmoet op die stel van die TV-reeks, Kruispad. Die paartjie het broer en suster gespeel.

 

Altus Theart en Zetske van Pletzen. Foto: Facebook via Altus Theart

Altus Theart en Zetske van Pletzen. Foto: Facebook via Altus Theart

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem Jackson ·

So kry die Skeefste pot wel die mooiste deksels. Dankid vir die vasbyters

Mike de Beer ·

Ou Vaaltyn is die donkie waarop ek gery het toe ek vir my vrou gaan kuier het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.