Van profielsamesteller vir reeksmoordenaars na gesonde kos – dit het alles te doen met jou brein

dr-micki-pistorius

Dr. Micki Pistorius help mense deesdae om die dramatiese invloed van kos op die brein beter te verstaan. Foto: Mickipistorius.co.za

Dr. Micki Pistorius was die eerste vroulike forensiese profielsamesteller in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en het in die vroeë negentigs wêreldwyd erkenning vir haar werk in dié spesialisveld ontvang. Sy het op die sake van meer as dertig reeksmoordenaars soos Moses Sithole, Cedric Maake en Norman Simons, wat ook as die “Station Strangler” bekend gestaan het, gewerk.

Pistorius het egter in 2000 uit die polisie getree en fokus deesdae op neuro-sielkunde waar sy mense nou meer vertel van die verband tussen gesonde kos en ʼn gesonde brein.

ʼn Mens kan nie help om te wonder hoe ʼn profielsamesteller van reeksmoordenaars dié ommeswaai na gesonde kos gemaak het nie. Pistorius glo die verskil tussen die dissiplines is nie werklik só ver uitmekaar nie. “Ek het destyds met mense gewerk wat baie siek breine gehad het, maar nou help ek mense om hul breine gesond te kry, en so te hou.”

Pistorius sê haar belangstelling in gesonde kos en eetgewoontes het eintlik maar by haarself begin. “Toe ek in die polisie was, het ek sjokolade geëet, en ek bedoel: nét sjokolade. Ek het in ’n stadium probleme met my oë gekry en kon nie meer lekker met my een oog sien nie.

Ná talle doktersafsprake het Pistorius uitgevind sy het ʼn vitamiene B6- en B12-tekort. Boonop het die dokters gesê haar oogsenuwee is net so uitgehol soos die van ʼn pasiënt wat ʼn honderd jaar oud is.

Pistorius wou weet wat die oorsaak van haar oogprobleme en tekort was, net om uit te vind dat suiker vitamiene B6 en B12 uit die lyf steel. Vandaar het ʼn nuwe wêreld van die verbintenis tussen gesonde kos en die brein vir Pistorius, wat nog altyd leergierig was, oopgegaan.

“Jy weet, daar is byna daagliks nuwe navorsing wat hieroor bekendgestel word. Siektes soos depressie, angs, Parkinsons, Alzheimers en selfs aandag-afleibaarheid kan nou direk verbind word met die soort kos wat jy eet.”

As ʼn mens so na Pistorius luister, kan jy hoor sy het al ál die verskonings gehoor van hoekom ʼn mens nie gesonder kan eet nie, en dat sy ʼn antwoord het vir elkeen van daardie verskonings.

“Baie mense sê: ‘Maar ek is verslaaf aan kos.’ Daar is nie chemikalieë in kos wat jou verslaaf kan maak nie. Dit is ʼn gewoonte en dit bring ons weer terug na die neuro-sielkunde – ʼn mens kan leer hoe om jou verkeerde gewoontes rondom kos te breek.”

Kinders_gesonde-kos.jpg

Foto: Dyspraxia.ie

Pistorius draai ook sommer net daar en dan die verskoning van “dis in my gene” nek om: “Vetsug sit ook nie in jou gene nie; jy het dalk ’n genetiese predisposisie daartoe, maar dit beteken nie jy is vet gebore of het dit as ʼn siekte nie. Jy is vet omdat jy verkeerde kos eet.”

“Onthou, jou brein sit in ’n baie donker kamer in jou skedel en hy glo net wat jy vir hom vertel, want hy kan nie self sien wat daar buite aangaan nie. As jy vir jou brein allerhande storietjies en leuens vertel, gaan hy dit glo, maar jy kan hom ook iets anders vertel, en hy sal dit ook glo. Ons dink aan kos, veral suiker, as beloning. As kinders soet is, dan gee ons vir hulle lekkergoedjies en as jou vriendin verjaar, gee jy vir haar ’n boksie sjokolades.

“So word ons bietjies-vir-bietjies gekondisioneer om aan kos te dink as ’n beloning. As jy eers anders daaraan begin dink, gaan jou brein ’n ander pad volg en dit kan nét goed wees vir jou en baie voordele inhou.

“Die oomblik wanneer jy jou brein verstaan, kan jy die optimale funksie uit hom kry. Jy is in beheer en jy kan jou gewoontes ten beste verander. Kos is net die voedingswaarde vir jou brein. Ek kry mense wat dan vir my sê: ‘Maar nou gaan die kos nie meer lekker smaak nie.’ Nee, man, dit gaan nog steeds lekker smaak, maar jy gaan net die regte goed eet en jou brein ook sommer beter voed.”

Die ander verskoning wat Pistorius ook gereeld hoor is dat gesonde kos duur is. “Dink ’n bietjie wat betaal jy vir versekering op jou bates? Is jou brein nie jou belangrikste bate nie? Hoekom sal jy dan nie ’n bietjie geld op jou brein, of selfs jou kinders se breine, wil uitgee nie?”

Wat moet ’n mens dan doen om gesonder te eet?

“Eet asseblief sommer van vandag af meer plante. Eet groente en vrugte en moenie bang wees vir die suiker in vrugte nie, want jy eet dit saam met die vesel.

“Sny dan ook sommer van nou af dadelik suiker en eenvoudige koolhidrate, soos brood en koek, uit jou maaltye uit.”

Sy sê die beste kos vir jou brein is omega-3-ryke vis soos salm. “Los maar die pilletjies, die beste manier vir jou brein om omega-3 op te neem is deur die kos wat jy eet.

“Jy kan ook sommer tuna, spinasie, neute, sade en bloubessies by jou maaltye voeg en as jy iets soets moet eet, kan jy ’n goeie gehalte donkersjokolade eet wat min suiker bevat,” beveel sy aan.

  • Pistorius bied op 16 September ʼn seminaar oor gesonde kos en ʼn gesonde brein in Pretoria aan. Die seminaar sal van 08:00 tot 16:00 by La Maison d’Hotes Gastehuis in Schoongezichtstraat, Erasmursrand plaasvind. Vir navrae oor die kostes van die seminaar en besprekings, skakel Greta van Rensburg by 083 996 9461 of besoek Pistorius se webwerf vir meer inligting.
  • Luister ook na die onderhoud bo-aan die berig waar dr. Micki Pistorius met Esté Meyer Jansen gesels oor gesonde kos en ʼn gesonde brein. Pistorius gee hier nog raad vir ʼn gesonder brein en verduidelik die skakel tussen geestesgesondheidsprobleme en slegte eetgewoontes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Willie ·

Ek stem heelhartig saam dat ons eetgewoontes een van die belangrikste redes is vir ons liggaamlike gesondheid. Wat egter insiggewend is, is haar opmerking dat jy jou brein moet vertel wat hy nodig het. Is die brein nie die orgaan waarmee die mens dink nie? Watter deel van jou liggaam oftewel watter orgaan is die een wat die brein moet leer of met hom moet praat? Is dit ‘n orgaan wat met die brein praat? Die mens wat die regte antwoord ken is hy wat weet dat die liggaam is net ‘n middel tot ‘n doel.

SARIE VAN HEERDEN ·

dr Micki Pistorius se siening oor kos is nie heeltemal afskietbaar nie. Maak nie saak wat jou eie oortuigings is nie maar dis tog waar dat wat jy in jou liggaam invoer ‘n invloed het en sekere bronne van voedsel verskillende liggaamsdele voed en beinvloed. Kom ons probeer sien wat sy se.s

Piet Pompies ·

Alhoemeer denkende mense besef die dodelike gevare van koolhidrate. Goed gedoen! (Wees egter versigtig vir TE veel tropiese vrugte se CHO samestelling)
Ek sal egter verder gaan en voorstel dat jy dalk die ‘gut-brain’ interaksie ook moet navors, dit is immers waar alles wat jy eet eers verteer en opgeneem moet word, die brein is sekonder daaraan.

Mia ·

n Interessante boek oor die onderwerp: Think and Eat yourself Smart – Dr Caroline Leaf. Sy is n oud Suid Afrikaner en spesialiseer in ” cognitive neuroscience and neuropsychology. Besoek ook gerus haar webwerf.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.