Van Skoonheidskoninginne tot TV-nuusverslaggewer

karin-scholtz

Karin Scholtz, UOVS joolkoningin en filmster. Pierre Massyn se onderhoud met haar het hom ‘n loopbaan in televisienuus laat volg. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Mense vra my soms hoe ek in die joernalistiek beland het. Om eerlik te wees: die meeste vakke op skool het my uiters verveel – met die moontlike uitsondering van geskiedenis. Om die waarheid te sê, ek het op ’n nippertjie na gedop. En toe, nadat ek volk en vaderland in die Suid-Afrikaanse Vloot gaan dien het, skryf ek my in vir Kommunikasiekunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Vir ons klomp rou eerstejaars was dit ’n heel nuwe wêreld wat vir ons oopgegaan het. Ons het ons ten volle in ons nuwe bestaan – op die periferie van ’n leeglêerlewe – ingedompel met jool en rugby en sokkiejol en allerlei ander heerlikhede as gereelde hoogtepunte.

Vandag besef ek watter onbeskryflike voorreg dit was om daar te kon studeer. En dis daar waar ek die nimlike dr. DAS Herbst ontmoet en my lewe sin en rigting begin kry het. Hy leer my hoe om logies te dink. Van oorsaak versus gevolg, en die mag van die media. En dit word vir my duidelik dat al waarvoor ek ooit sou kon deug, moontlik ’n loopbaan in die kreatiewe skryfkuns sou wees. Teen alle verwagtinge in behaal ek my graad en besluit ek kan moontlik my honneursgraad ook aanpak. En so is ons ’n handjievol wat in 1977 gevorder het van die kuns van opstelle skryf tot ’n beter bestaansreg as potensiële joernaliste en skakelbeamptes.

In daardie jaar word ’n kampuskoerant, Koviesieland, in die lewe te roep. In die redakteurstoel is Herold Verster, skakelhoof van die UV. Harold en sy broer Basie, later professor, is kranige rugbyspelers, albei flanke. Basie speel vir die Gaselle en Herold is een van die helde van die dapper Vrystaatspan wat die Leeus van 1974 in die aarde in gespeel het. Die Shimlas was die kampuskonings. As jy vir die Shimlas gespeel het, was jy noodwendig ’n held, sonder enige teenspraak. Al was die kafeteria hoé vol, sou daar vir jou plek gemaak word, en so bevind ek my eensklaps in die rol van verslaggewer.

gerrie-sonnekus

Gerrie Sonnekus. Hy het sy debuut as skrumskakel vir Reitz Kamerwonings op Kovsies gemaak. Sonnekus word die eerste speler sedert Danie Craven om Suid-Afrika as agter- en voorspeler te verteenwoordig. Foto: Verskaf.

Hulle weet natuurlik teen daardie tyd dat ek sportmal is – oom Ewie Cronje (1), toegewyde sportadministrateur van die Varsity, sou my byvoorbeeld vir ’n eerstejaarswemgala in die Stadion-swembad inspan of stuur vir ’n onderhoud met Wouter Hugo, Vrystaat-kaptein.

En toe gebeur daar iets deurslaggewends in my lewe: ons “teerste kampusbloeiseltjie” word ’n rolprentster: Karin Scholtz kry ’n hoofrol in Jan Scholtz (geen familie nie) se Die Winter van 14 Julie. Sy was nie net joolkoningin nie, sy was uiters gesog onder die kampushingste (2). En hulle vra my, ’n volslae buiteperd, om hierdie skoonheid onder vier oë te gaan spreek vir Kovsieland.

Karin woon in daardie stadium in Huis Madelief – die koshuis met die mooiste rose op die kampus. Ek moet darem byvoeg dat huis NJ van der Merwe, oftewel Huis Koos, ook sy kwota skones opgelewer het. Ek kon bepaald ’n kennersmening hieroor uitspreek, want ek het nooit Vrydagaande ’n sokkiejol in een van die dameskoshuise misgeloop nie.

En só ruk ek daardie dag in my tjor op na Huis Madelief, uitgedos in my eerstespanbaadjie, met die vae hoop om êrens ’n indruk op hierdie asemrowende prinsessie te maak. Van die onderhoud self kan ek nie veel onthou nie. Die ding is, as jy so betower is deur Skoonlief, kan jy beswaarlik intelligente vrae vra.

Die jaar 1977 was goed vir my. Kovsieland was buitengewoon goed vir my. Maar ek moes toe begin dink aan my toekoms. Die stemmetjie in my agterkop sê: Massyn, ou grote, daar moet wragtig erger maniere wees om liggaam en siel bymekaar te hou as om intense gesprekke met rugbysterre en mooi meisies te voer.

Net voor die eindeksamens, daag ek dus ongenooid op vir ’n onderhoud met die SAUK-nuus se grootbase in Johannesburg. En op 5 Desember 1977 meld ek myself aan in die TV-nuuskantoor in Aucklandpark. In Oktober 1979 voer ek die eerste TV-onderhoud met FW de Klerk, latere Nobelpryswenner en die man wat ’n wêreldfiguur geword het oor hy Nelson Mandela vrygelaat het en die ANC ontban het .

My en FW se paadjies sou moontlik nooit gekruis het as dit nie vir my rugbyhelde in Bloemfontein en ’n joolkoningin met die naam van Karin Scholtz was nie en ek sal my ou Alma Mater daarvoor tot in lengte van dae dank verskuldig bly.

  • Pierre Massyn het vroeg in die 1970’s aan die UV gestudeer toe hy en talle ander sonder vrees vir teenspraak die mening toegedaan was dat dit sonder enige twyfel die heel beste universiteit op hierdie aarde was.
kommunikasiekunde-vereniging

Die Kommunikasiekunde-Vereniging van die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Die skrywer Pierre Massyn staan agter in die middel. Sy boesemvriend Jan Bezuidenhout verskyn regs van Massyn. Foto: Verskaf.

Voetnote

  1. Ewie Cronje, Hansie se pa. Niemand het meer vir sport in die Vrystaat gedoen as hierdie merkwaardige man nie. Op sy dag was Ewie Cronje kaptein van die Vrystaatse krieketspan. Hansie volg in sy pa se voetspore. Cronje senior verteenwoordig die Vrystaat ook op die tennisbaan.
  2. Sakkie van der Vyfer, latere skakelbestuurder van Eskom, het uiteindelik Karin se hart verower. Hulle was 41 jaar getroud. Sakkie het haar op 5 Januarie 2019 ontval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

Sebastiaan ·

Dit is ‘n ongelooflike voorreg om in daardie tyd op ‘n eg Afrikaner-kampus soos Kovsies te kon studeer het. In die 1990’s was dinge al sterk aan die verander, maar ek kon nog so ‘n nasmaak kry van hoe dit moes gewees het. In vergelyking met vandag was dit selfs in die 1990’s nog hemels as student op Kovsies, Jool en sokkies en kuier by die dameskoshuise en die groot gesamentlike erdienste op Sondae was nog aan gewees.

Stephan de S ·

Ja, wonderlike ou dae wat ons nie genoeg gekoester het nie. Die wonderlike eenvoud vd lewe daai dae is vandag onvoorstelbaar.

Therese ·

Ai, nou so lekker gelees, Pierre Massyn.
Nog Kovsie-stories asseblief!
“Shim-Shim-Shimlaaa!” En daar gaan verloor ons so wraggies, mét sewe Springbokke in die span, teen die Pukke daai jaar. Weet ook nie of die geheue nou reg is nie?
Karin Scholtz was sowaar pragtig en Eon de Vos het die knieë lam gehad.
Dalk onthou Coenie de Villiers nog die vyf giggelende eerstejaars wat hy uit die reën gered het by die kampus-bushalte met ‘n geleentheid stad toe. Min het ons geweet watter voorreg dít was!
Heerlike tye …

Suné van Heerden ·

Dagsê Chantell

Die opskrif by die foto is inderdaad korrek. Ons verwys na die persoon wat aan Pierre se regterkant op die foto staan (dus die persoon tweede van links), nie die persoon wat regs van hom op die foto vertoon nie.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Gemaskerde Sopbeen ·

Jip. In Reitz Kamerwonings was daar ook De Wet Ras….Losskakel…en in Huis Marlherbe langsaan (Malhuis) was ek….En in ‘n wedstryd tussen Reitz en Malhuis het ek NIKS reggekry in die wedstryd nie……….behalwe om De Wet Ras in ‘n losskrum te “elimineer” met ‘n goed gemikte rugby tok na sy “unmentionables”………want ons moes net wen!! Sorry, De Wet….

Christopher ·

Karin Scholtz!!!
Sy was my 1ste drama juffrou! Laerskool nog.
Ek was baie lief vir haar en nou mis ek haar…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.