Vandag dink ek aan oumas en oupas

oupa-ouma-bankie-grootouers

Foto: Matthew Bennett/Unsplash.com

Iets in ‘n mens weet wat ‘n ouma moet wees. Dit weet dat sy anders is as ‘n ma. Nie beter nie, net anders. Oumas is sag. Oumas bederf. Oumas konkel saam met jou om net nog ‘n koekie te mag eet, of net nog tien minute te kuier, of net nog ‘n halfuur wakker te bly. Oumas leer jou baie dinge.

Vandag dink ek aan my oumas.

My een ouma het my geleer van die Bosveld en van die Boereoorlog en van bospiepie langs die langpad. Sy het my geleer van onafhanklikheid en van aanvaarding. Sy het my geleer dat mens nie alles weet van iemand nie, al ken jy die persoon ook hoe goed (op haar begrafnis is ‘n briefie gelees van ‘n dogter wat sy gehelp het sonder dat ons daarvan geweet het).

My ander ouma het my geleer van koekbak en naaldwerk. Sy het my geleer van hekel en brei. Sy het my geleer van oorleef met ‘n klein inkomste, en baie selfdoen. Sy het my geleer van klaarkom met min. Sy het my geleer van haar grootword in ‘n era toe min dinge weggegooi is. Elke konfytbottel is uitgewas om weer te gebruik. Elke geskenkpakkie is versigtig oopgemaak sodat die papier nie skeur nie, en vir ‘n volgende geskenk gebruik kan word. Ek doen dit nou nog, amper twintig jaar ná haar dood.

My ouma het my geleer van familie. Sy was die gom wat elke uithoek van ons familie bymekaargetrek en -gehou het. Sy het my geleer van God. Sy het my geleer van geloof. Sy het my geleer van bid op jou knieë voor jy gaan slaap elke aand. Sy het my geleer van die Bybel. Ek sal nooit in der ewigheid Psalm 91 vergeet nie, al was ek skaars nege jaar oud toe sy dit een skoolvakansie vir ons geleer het in ‘n speletjie.

Sy het my geleer van omgee vir haar medemens. My ouma was al afgetree toe sy by die kerk as vrywilliger aangesluit het. Sy het weekliks gaan kuier en besoek doen aan “haar oumensies”. Sy het toegesien dat hulle versorg is, dat hulle alles het wat hulle nodig het, dat hulle die medikasie drink wat hulle moes. Maar, méér as dit, dat die eensaamheid hulle nie opvreet nie. Ek dink soms dit was vir haar meer tot seën as vir hulle. My oupa het jonk gesterf en ek dink sy was net so eensaam soos die mense vir wie sy gaan kuier het.

My ander oupa was ‘n reus in my lewe. Hy is nog steeds deel van my menswees. Vandag sien ek hom soos ‘n spieël in my pa. My pa wat ook visvang en jag en hou van karring aan goetertjies in sy motorhuis. My pa wat kuier-kuier by sy familie. My pa wat oupa is vir my kinders (en ander mense se kinders ook), soos my oupa vir my was. My pa wat lekkergoed in sy sakke smokkel vir die kleintjies. Wat R100-note in kinders se hande stop, wanneer ons al in die kar sit om te ry. Net soos my pa, is my ma ook vandag die versinnebeelding van my ouma. Daardie tuiskomplek waar ‘n kind net kan wees. Daardie veilige, liefdevolle hawe waar jy weet daar is vertroosting en rus.

My hart huil as ek sien hoe oumas en oupas weggegooi word. Ons gaan kuier onlangs vir my man se ouma in die ouetehuis. Sy is 80 jaar oud, en haar gehoor is nie meer wat dit was nie, maar haar verstand is meeste dae skerp (al raak sy soms bietjie deurmekaar). Sy vertel vir ons hoe oumas en oupas vereensaam. Hulle kry nooit besoekers nie. Hulle verjaar alleen. ‘n Mens wonder wat die redes is dat mense so weggegooi word, so vergeet word.

En toe, eensklaps, emigreer ons. Sommer so op ‘n dag, sonder dat ons dit kon beplan. En nou kyk ek met ander oë na daardie oumas en oupas in die ouetehuis. Dalk êrens sit ‘n dogter en verlang na ‘n ma wat nie meer kan of wil trek na ‘n vreemde land nie. Dalk is daar ‘n kleinseun wat bekommer oor die gesondheid van sy oupa, maar nie self daar kan wees nie. Dalk is daar heelwat meer aan elkeen se storie as wat ons kan sien. Dalk doen hulle video-oproepe soos ons met ‘n ouma wat nie altyd mooi kan hoor of verstaan wat jy sê nie, maar so bly is dat jy omgee.

Dalk is daar niemand meer oor wat vir hulle lief is nie. Ek hoop daar is iemand soos my ouma wat vir die oumensies gaan kuier. Iemand wat omgee. Iemand wat vir ons die verjaarsdagdrukkies en koek sal vat. Iemand wat ‘n ouma vir die oumas sal wees.

René du Preez

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

PrinsesvGod ·

Dis so hartseer….eers as jy nie meer ouers of ‘n ouma en oupa het nie…dan besef mens hoeveel hul werd is en hoe kosbaar hulle is…. koop tyd uit saam hulle as jy so bevoorreg is om nog ‘n mamma en pappa of ouma en oupa te he!

Nadia ·

Ek moet se my man se oupa is 79 jaar oud word Januarie 80 en hy kuier by ons, Hy is so gesond hy dra ni eers ‘n bril nie en is baie trots op homself omdat hy nog al sy eie tande het. Hy is vol grappies en praat baie hard… ons geniet hom so baie. Ek bel tenminste 1 keer n week om te hoor hoe gaan dit (al dink hy dit gebruik sy air time). My ma en Pa is ook ouma en oupa en is so erg oor my kinders dis soos hulle eie. Ek se elke dag dankie dat my ouers sulke goeie ouma en oupa vir my kinders is hulle 4 is onafskeidbaar. Hulle gee baie liefde aandag en vat hulle met vakansies… Moet nie jou kinders weg hou van hulle ouma of oupa af nie… ek is seker dat ‘n ouma en oupa hulle kleinkinders liewer het as die die lewe self.

Celtis Africana ·

Goeie artikel dankie. Die oupas en oumas wat nie meer die welvaartsleutel besit nie, loop die ergste deur. Dis asof die kinders graviteer na die vermoëndes , op dieselfde wyse as wat n groot planeet se aantrekkingskrag n asteroide se wentelbaan befonkfaai…
Kyk gerus in ons blanke plakkerskampe.

sus ·

sal nooit my ouma vergeet nie … verlang baie dae na haar ….

Niel van Zyl ·

Dit is een van die hoof redes waarom ons besluit het om terug te trek SA toe na omtrent 13 jaar in Engeland. As mens eers self kinders het en sien wat dit aan die oupas en oumas doen as mens moet bye sê na ‘n kort vakansie wat mens nog tussen 2 pare groot ouers moet deel, dan besef jy die onmeetbare waarde wat jou kinders in jou ouers se lewe speel.
Ek hoop God spaar ons ouers vir nog ‘n paar jaar sodat hulle hulle kleinkinders kan geniet. Daai liefde wat ek kan sien tussen my ouers en my kinders kan mens nie beskryf nie. Sien julle een van die dae Oupie en Oumie!

Annika ·

Dankie Rene, my ouma was my beste vriendin, 2de ma ,ouma als in een en ek mis haar elke liewe dag nog na 6 jaar!my oupa was my HELD beste mens wat ek ooit geken het.
Dis so vreemd vir my dat mense nie meer vandag sulke verhoudings met hulle oumas en oupas het nie en hier sit ek en wens elke dag myne kan terugkom…snik snik

Eensame ouma ·

Ek het 5 kleingoed vir wie ek werklik die Here elke dag bedank, en vir hulle bid. Drie van hulle woon in Kanada, ek sien hulle nie. Daar is nie finansies om te gaan kuier nie. My ander tweetjies woon 2 strate bokant ons, en ons sien hulle net so min. My hande en my hart is leeg. Ek smag om ‘n babatjie te liefkoos, te bederf, net vas te hou? Nee, ek soek nie simpatie nie, ek vra net vir ons kleintjies se omgee, miskien ‘n briefie van oorsee? Ek weet nie meer wat om vir hulle te sê nie, ons raak stadigaan vervreemd van mekaar. My hart skreeu hierdie tyd van die jaar want ek ‘wens’ ek was by hulle – net 1x voordat ons na ons laaste huis sal vertrek. En aan al die oumas en oupas wat NIE vir hulle kleintjies omgee nie, bring hulle vir my. :)

Out of Africa ·

Nee wat, die oumas in ons familie is so moeilik en hardkoppig dis maar beter om oorsee te wees.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.