Veel meer as net ’n lappieskombers

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

Deur Lizma van Zyl

Idioom: Moet nooit ’n gegewe perd in die bek kyk nie

Daar’s ’n ou, bont, motgevrete lappieskombers wat ’n ereplek in my kas het.

’n Baie arm gesin van Lichtenburg het dit in 1973 vir my pa gegee as “betaling” vir sy finansiële hulp. Dié massiewe stuk breiwerk was tot met my pa se dood, getrou op sy bed. Ons as dogters het dit net een keer gewaag om voor te stel dat hy ’n mooi, nuwe kombers aanskaf vir die koue wintersaande voor die televisie. En toe hoor ons die storie van dié behoeftige gesin wat op hul nederige manier eintlik die mooiste, grootste “dankie” gesê het.

Ek het ná my pa se dood seker gemaak dié kombers kom na my toe. Ek sal dit nooit was nie, want my pa se reuk – daardie veilige, bekende pa-reuk, al is dit heelwat dowwer – sit steeds in die wolvesels.

Die kombers word wel so elke maand of drie buite gehang vir ’n bietjie son en dit bring nie net heimwee nie, maar het my vanoggend ook laat dink aan die waarde van geskenke.

Vir my is September/Oktober veral ’n riller van ’n maand. Nie minder nie as ses goeie vriende vier hul geboortedag en elkeen verdien ’n blykie van waardering. Dit beteken egter die spaarrekening steier.

Ons het nie almal die tyd of vaardigheid met breinaalde om ’n reuselappieskombers te brei nie, maar ons kan ’n spesiale persoon lekker laat voel deur ’n bietjie oorspronklikheid aan die dag te lê en dit hoef nie groot geld te kos nie. ’n Mandjie vol van die persoon se geliefkoosde lekkernye; ’n uitnodiging na ’n praatjie oor ’n onderwerp waaroor hy/sy passievol is… Of gebruik ’n mooi foto en omskep dit sommer op jou skootrekenaar in ’n wynbotteletiket!

lappieskombers-deur-lizma-van-zyl

Lizma en haar pa se besonderse lappieskombers. Foto: Verskaf.

Van die mees betekenisvolle geskenke wat ek nog ontvang het, was nie peperduur nie maar persoonlik. Dit het gesê, ons wéét wat jou hart warm laat klop. ’n Pragtig geraamde foto van my en my hondekinders teen die hange van Duiwelspiek en lewensgetroue sketse van dié maters van my deur ’n baie kunstige vriendin het soos daardie lappieskombers, ereplekke in my huis.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: ’n bottel Franse parfuum is altyd ’n groot bederf en word baie waardeer, maar ’n kaartjie met opregte woorde wat sê jy het oor my rol in jou lewe en ons vriendskap gedink, is net so kosbaar. Die beste geskenke kom nié in boksies nie.

’n Goeie vriendin van my is lief vir boeke gee en gebruik altyd bruinpapier om die bedtydbederf mee toe te draai. Wat die “vaal” pakkie egter elke jaar ekstra spesiaal maak, is my naam wat bo-op in haar keurige handskrif, in helder klere geverf word.

Hulle sê ’n gegewe perd mag nie in die bek gekyk word nie al is daardie geskenk dan nou bestem vir stof opgaar.

Want, soos met daardie lappieskombers van byna ’n halfeeu gelede, sê ’n geskenk, hoe klein of gering ook al, eintlik maar daardie klein, dog groot woord: Dankie.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Susan ·

Baie dankie vir so ‘n mooi storie. Ek waardeer alles wat handgemaak is…ek brei en hekel en geniet om dit vir geskenkies te gee. Mooi dag vir jou.

Sandra Visser ·

Daar is vir my niks lekkerder as om die gesiggies van my kleindogters dop te hou as as hul hul hekelpakkies van ouma oopmaak nie. Ek weet hul mamma gaan daai pop rokkies, haarknippies, komberse en ponchos vir hul hou as dit te klein raak of as hul nie mder daarmee speel nie. Dankie vir die mooi storie. Ek juis nou besig met 2 trooskombersies vir 2 dogtertjies.

Deidere ·

Daar is niks wat soveel vrede & aanvaarding gee soos die liefde van Jesus nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.