Veertig en tevrede

verjaardagkoek-40-verjaardag

Foto: Pumpa46/Pixabay.com

So sluip die Groot Vier Nul nader en hoe nader hy kruip, hoe meer reflekteer ek oor die afgelope 40 jaar van my lewe.

Waar is ek vandag? Het ek genoeg bereik? En solank ek gespaar bly, hoe gaan die volgende 40 jaar lyk?

My gedagtes dwaal, my hart hunker en my pen begin skryf. Wat het ek in veertig jaar geleer?

  1. Wees lief, innig lief, en met jou hele hart;
  2. ʼn Eggenoot en kinders is ʼn mens se kosbaarste skatte;
  3. Kinderlaggies verryk jou lewe;
  4. Daar is net een God;
  5. Jy is ook belangrik. Niemand kan jou waarde bepaal anders as jyself nie;
  6. Ontdek nuwe plekke, ook binne jouself;
  7. Daar is sonder twyfel waarheid in die gesegde: Tyd gaan te gou verby;
  8. Susters/broers moet ook hul eie vakansies hê;
  9. Alles met ’n “te” vooraan, is sleg, behalwe tevrede;
  10. Dis oukei om “nee” te sê;
  11. Harde werk werp (altyd) vrugte af;
  12. Vertrou jou gut, daar is ’n rede hoekom jy dit het;
  13. Vat kanse, waag nuwe dinge;
  14. Vertrou jouself en jou talente;
  15. Gebruik jou talente en moenie skaam wees daarvoor nie;
  16. Om dood te gaan, is erger vir die mense wat agterbly. Die dood van my seuntjie het my die werklike betekenis van pyn geleer;
  17. Jou verlede hoef nie jou toekoms te bepaal nie;
  18. Jy is self verantwoordelik vir jou eie geluk;
  19. Jy mag hulp vra, maar moenie van ander mense krukke maak nie;
  20. Spek en eiers vir aandete en pizza vir ontbyt is ook kos;
  21. Vind uit waarvan jy hou (die skrywer hou van goeie koffie);
  22. Die lewe is te kort vir slegte wyn. Lekker wyn is nie noodwendig duur wyn nie;
  23. Probleme kan opgelos word sonder rusie;
  24. Die Here is in elke asemteug en elke sonsopkoms, elke dag, heeldag;
  25. Ek glo in beskermengele;
  26. Persepsies is gevaarlik en die oorsaak van meer probleme as oplossings;
  27. Ek hou van oplossings, nie van probleme nie;
  28. Geen mens kan te veel lees nie;
  29. Jy is nooit te oud om iets nuuts te leer nie (al is dit vaardighede soos naaldwerk of om bier te brou);
  30. Daar is geen meer kosbare tyd op hierdie aarde as gehaltetyd met my gesin nie;
  31. Maak tyd vir familie en vriende;
  32. Moenie moderne tendense najaag nie. Jy is uniek in jou eie reg. Trek aan waarin jy gemaklik voel. Sê: “Ek is wie ek is en hou van myself”;
  33. Geld koop nie karakter nie;
  34. Hou vas aan jou waardes;
  35. Niemand het die reg om vir jou te sê jy is nie goed genoeg nie;
  36. Al voel dit vir jou of jy in ’n diep, donker put is, dit gaan altyd slegter met iemand anders;
  37. Troeteldiere gee onvoorwaardelike liefde en soek niks in ruil daarvoor nie;
  38. Nie alle mense het liefde in hul harte nie;
  39. ’n Afbetaalde kar ry lekkerder as ʼn mooier of deftiger een op skuld; en
  40. Moet nooit oor geld baklei nie. Dit kan nie liefde en saamwees vervang nie

Die laaste 40 jaar het baie vinnig verbygegaan, maar ek is vol moed en opgewondenheid vir die onbekende wat môre begin.

Meer oor die skrywer: Marisa Engelbrecht

Marisa Engelbrecht se liefde vir skryf het op skool reeds posgevat. Sy skryf graag oor dit wat haar na aan die hart lê en vind inspirasie in die alledaagse doen en late van haar hartsmense. Sy het bykans 20 jaar ondervinding in kommunikasie, skakelwese, bemarking en joernalistiek.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Linda Theunissen ·

Ek sit en lees jou artikel, en ek stem saam jou. 40 is ‘n groot getal, maar goeie genade dit is ‘n wonderlike getal. Ek is saam jou oppad om dit te bereik. Sal ‘n mens ooit tevrede wees met wat jy bereik het? Dit is ‘n gawe om hier te wees wat net deur God vir ‘n mens betem is. My 40 jaar was ongelooflik, met seerkry, swaarkry, lag en baie vriende. Maar ek sal dit nie vir ‘n oomblik verruil nie. Groeipyne en merke dit het ek, en elke een vertel sy eie verhaal. Baie word angsbevange wanneer die groot VEERTIG opdaag, maar ek sien uit na dit.
Die wonderlikste tyd van my lewe is nog voor my and I will be doing it with a BANG!!!
Bly om te besef ek is nie die enigste persoon wat voel dat die jare verskriklik vinnig verby gaan, kinders word groot (en dan voel dit of die tyd stilstaan wanneer hulle op hul eie dinge doen).
40 hier kom ek!!

Erina ·

Ai tog 40 is sommer niks! Wag tot julle by 60 kom saam met al die pyne en kwale, dan praat ons weer. Maar ouderdom hetsy 40 of 60 is maar net ‘n nommer. Dit bly nog wat jy daarvan maak!

Morrie ·

Ek en jy altwee. 6 Maande ‘and counting’ vir my. Mag ons volgende 40 jaar of vir solank as wat ons gespaar word net goedheid en guns inhou!

Andre ·

Ek is nou 45:

Kos allergies raak erger, jou oe raak swakker. Mens worry nie meer so baie oor jou werk nie, en kom agter mense kyk maar eintlik net uit na hulle self. Geld gewys gaan dit beter, jy kan weer bietjie wegkom en dit is baie belangrik. Vriend word minder maar meer betroubaar. Dit pla my nie meer om “oom” genoem te word. Waardeer jou ouers! Jy begin beter beplan vir jou oudag. Flashy karre en klere ruil jy eerder met iets betroubaars. As jy nie gelukkig is nie, raak ontslae van die problem. Dit is ok om jou eie pad te stap. Spoil jou troeteldiere, en so ook jouself. Aanvaar dat jou looks nie vir altyd hou nie, maak vrede met jouself.

Karien ·

Op 30 het ek gedink dis vreeslik, nou word ek regtig oud. Ek was “depro” die hele dag. Vyf maande na dit, toe vind ek uit ek het beenkanker en dit kan longe of lewer toe versprei. Vyftien jaar later en ek kap dit nog uit. Prys die Here! So het ek geleer; ouderdom is net n getal. Jy kan 30 wees en sieklik wees, gryp net elke oomblik en gaan met hom, maak die beste van elke geleentheid en oomblik en geniet jou mense om jou. Jy is so oud soos jy voel, al kort jy ook n leesbril, en pille om aan die “go” te kom. As jy kan loop, doen dit, as jy saam met die kinders kan swem, of jy goed lyk in n swembroek of nie, doen dit, wat ookal in jou vermoeë is om te doen, maak gebruik daarvan, moet nie omgee wat wie dink nie, geniet jy net jou lewe al dril die vette en al rol mense oë, want ons weet nie wat môre gaan oplewer nie en miskien beroof n siekte jou van dinge wat jy vandag nog kon gedoen en geniet het, maar gelos het oor wat ander dink of omdat jy lui is of dink jy is te oud en oor die muur.

Liezl ·

Fantasties, Karien, Amen vir jou en mag God jou nog in die volgende 40jaar behoed en bewaar en volkome genees! Wat Hy ook gedoen het vir jou die afgelope 15 jaar. Een dag op ‘n slag

Uvonka ·

Vir baie dames is ‘n ouderdoms getal amper soos ‘n doodsvonnis. Ek is 54, ek het plooie, die boudjies en verder boontoe is nie meer so ferm nie maar hel ek leef voluit. Ek is mal oor dans, doen my eie huis en tuin werk en vat elke dag soos hy kom. Die lewe is te kort om nog te bekommer oor plooie en goeters wat hang!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.