Veldbokke van die Dorslandtrekkers

Umkhulu, die Groot Man, was die spogram wat vir jare die hoeksteem van die Lourens Skilderbok-Stoet was totdat hy onlangs aan ‘n rare longaandoening gesterf het. Nou staan Rollo sy plek vol. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Jy raak vir hulle liewer as vir ’n kind. Hulle is minsaam, lieftallig, astrant, domastrant, alles in een. Hulle is gehard en hardkoppig en hulle eet alles, van koolkoppe tot ou koerante tot wasgoed. Hulle is bokke, maar nie sommer gewone boerbokke nie. Hulle is veldbokke. En bó alles, is hulle mooi, sommer baie mooi.

In die eerste plek is ’n veldbok eg-Afrikaans – soos in, uit en van Afrika. Met die eerste oogopslag laat ’n skilderbok en sy sonderlinge pigmentasies jou aan ’n Ngunibees dink. Die pragtige skakerings en patrone wat wissel van ligroos tot roesbruin, stem baie ooreen. Wie ook al met die pragtige benaming “skilderbok” vorendag gekom het, was reg in die kol: hierdie viervoetwonders is inderdaad wandelende skilderye.

Louis Lourens van Suiderstrand is een van die voorste skilderbokboere in Suid-Afrika.

“Hulle is nie sommer net diere nie, hulle is my kinders. Ek is hartstogtelik lief vir hulle,” vertel hy.

Veldbokke gaan nou vir die eerste keer op die Weskaap-Nampo-skou in Bredasdorp[1] vertoon word. Dié skou het op Woensdag 4 September begin.

“Daar is eintlik vier tipes variante, waarvan ons een groepering appelbokke noem – die Afrikaans vir ‘dapple’. Die bokke wissel van dié met groter kolle tot ander tipes wat lyk soos ’n verfkwas wat jy uitskud en die kolletjieseffek kry. Dis hierdie laaste soort wat ons skilderbokke noem.”

Maar waar kom hierdie eiesoortige boksoort vandaan? Louis – hy sê hy het eintlik sewe jaar gelede “toevallig” by veldbokke betrokke geraak – was nie verniet penningmeester van die Inheemse Veldbok-genootskap van Suid-Afrika nie.

“Daar is aanduidings uit vroeëre reisbeskrywings van ontdekkingsreisigers dat die Griekwas van hierdie bokke gehad het.”

Volgens een beskrywing is daar van hierdie bont bokke by die samevloeiing “van die twee groot riviere” op die Suider-Afrikaanse platorand opgemerk. Vandag kan ons die afleiding maak dat dit in die omgewing van Douglas moes gewees het, by die samevloeiing van die Vaal- en die Oranjerivier.

“Die gewone Boerbok is eintlik veredel uit die veldbok, waarvan daar vier etniese groeperinge bestaan, en waarvan die skilderbok een is.”

Maar nou onthul Louis ’n obskure feit: Die inheemse veldbokke het saam met die Dorslandtrekkers uit Transvaal tot in Angola getrek. Hierdie trek is een van die merkwaardigste in menseheugenis. Sowat 80 Boeregesinne het hul waens in 1874 en daarna gepak en die wildernis ingetrek. Volgens WA de Klerk, in sy gesaghebbende werk oor hierdie historiese gebeurtenis, was daar geen rede om ongelukkig te wees onder die regering van die dag nie. Die Zuid-Afrikaanse Republiek was per slot van rekening immers ’n onafhanklike staat, hoewel Britse imperialisme wat die twee onafhanklike Boererepublieke wel in 1899 met sy wrede realiteit getref het, steeds as ’n voortdurende sluimerende bedreiging beskou is. Volgens Ella Lombard het hulle net gevoel hulle moet trek – die trekgees soos die Here dit bestem het, was daar.

Maar trek het daardie stoere Boere getrek, al was dit nou uit suiwer wanderlust.

Ná onbeskryflike ontberinge het die Trekkers Humpata in Angola via Betsjoeanaland – nou Botswana – bereik. Volgens sommige beskrywings was die trekosse só dors dat hulle aan die staalomhulsels van die wawiele gelek het. Presies hoeveel Trekkers het die lewe gelaat tydens hierdie epiese trek, sal waarskynlik nooit bepaal word nie. Baie van hulle het nie net van dors gesterf nie, maar ook van malaria.

Wyle Hannes Smith (links), alom behind as Mal Smittie, toenmalige redakteur van die Windhoek Observer, saam met Pierre Massyn, toe skakel-superintendent van die diamantreus CDM, tydens ’n mediabesoek in die Sperrgebiet in die destydse Suidwes-Afrika. Smith is ’n direkte afstammeling van die Dorslandtrekkers wat tot by Humpata in Angola gevorder het en hul geliefde veldbokke uit die Transvaal op hul epiese tog saamgeneem het. Foto: Verskaf.

In Angola het hulle die Portugese geleer van veeteelt en die beste boerderymetodes ter wêreld. Uiteindelik het die meeste van hierdie pioniers hulself in die noorde van die destydse Suidwes-Afrika gevestig nadat hulle in 1928 besluit het om Angola vir groener weivelde te verruil en hul tentpenne suidwaarts oor die Kunene te skuif.[2] Tot vandag toe kry jy hulle nasate, met vanne soos Alberts, Blaauw, Brand, Grobler, Oosthuizen, Van der Merwe en Smith – soos wyle Hannes Smith, redakteur van die Windhoek Observer wat my gas was tydens ’n persbesoek in die Sperrgebiet in die Namibwoestyn. En die bont bokke was saam, heelpad! Hul kanse op oorlewing was beter as dié van die gemiddelde trekos. Die beskrywings “taai” en “gehard” doen hulle eintlik ’n onreg aan. Volgens oorlewering was dit ’n familie Oberholzer wat die bokke Namibië toe gebring het.

Telers soos Johnny Morrison van Bloemfontein huldig die mening dat Suid-Afrika se inheemse bokrasse net so deel van die land se kulturele erfenis is as, byvoorbeeld, die swartrenoster. Japie Coetzee, ’n gebore Suidwester wat naby Gobabis boer, het baie gedoen om dié unieke ras te bewaar. Hy het teelmateriaal beskikbaar gestel en diere van ander telers bekom.

Louis en sy seun Gerhard-Leon hou hul skilderbokke op sy plaas in Waterval buite Pretoria aan waar sy seun Gerhard-Leon die sweep klap. Volgens Louis het die inheemse veldbokke van die Dorslandtrekkers die genepoel geskep vir die bokke wat ons vandag in Suid-Afrika kry.

“Ons veldbokke het huis toe gekom. Daar is vandag duisende inheemse bokke in Suid-Afrika.”

En die waarde van so ’n bok?

“Vir ’n goeie ram kan jy maklik R50 000 betaal.”

Volgens genetiese toeste wat vir die Landbounavorsingsraad in Irene, Pretoria, in samewerking met Tukkies – die Universiteit van Pretoria – gedoen  is, is die inheemse veldbok ’n aparte spesie. Daar is vier tipes veldbokke: die Noord-Kaapse skilderbok, die Oos-Kaapse Xhosa-bok, die Mbusi- of Ngunibok, en die Kunene- of Kaokoveld-bok.  Die alombekende Boerbok is weer uit die veldbokras veredel.

Besonderse foto van twee jong rammetjies wat besig is om dominansie te bepaal. Foto: Verskaf.

’n Skilderbok is nie ’n hansie-my-kneg-dierasie wat jy sommer kan rondstoot nie. Louis wys my ’n video waar ’n halfwas skilderbokram sy man deeglik staan teen ’n uitgegroeide koedoebul wat seker drie keer sy gewig is. Behalwe vir hul pragtige velle, is die vleis ook lekker en bekostigbaar. Omdat die boksoort so gehard is, is die koste om ’n skilderbok te onderhou minimaal, aangesien hulle grootliks selfonderhoudend is en kan oorleef met wat die veld hulle bied, meen dr. Quintin Campbell, spesialis kleinveekonsultant van Bloemfontein.

Die bokke het eintlik ’n sagmoedige geaardheid en jong kinders speel al te heerlik met hulle. Die moontlike terapeutiese waarde wat die boksoort moontlik kan inhou, word tans ondersoek, vertel Louis se aanvallige vrou, Carmen. Sy het al ’n handvol skilderboklammetjies hans grootgemaak.

Hierdie unieke bokras word informeel en formeel deur ’n veelvoud grondeienaars ondersteun. Daar is reeds sowat 50 boere wat ingeskrewe lede van die Veldbok-genootskap is. Vir Louis gaan dit eintlik in hoofsaak oor die bewaring van die boksoort, en om die ras suiwer te hou. En dan is daar die estetiese plesier wat sy bokke hom bied.

“Buitendien, mens eet mos nie jou kinders nie!”

  • Pierre Massyn is ’n skrywer, navorser en onafhanklike natuurbewaarder. Die persbesoek aan die Sperrgebiet was in sy hoedanigheid as openbare skakel-superintendent van die Consolidated Diamond Mines (CDM).

Bronverwysings:

  • Landbouweekblad, 3 Februarie 2006
  • The Thirstland, WA de Klerk, 1977
  • https”//en.wikipedia.org/wiki/Dorsland_Trek

Voetnota: 

[1] Sien Maroela Media 23 Julie 2019

[2] Die Dorslandtrekkers het die Kunene by Swartbooisdrif oorgesteek om hulle in Angola te verstig. ’n Klein monumentjie op die suidoewer gedenk die gebeurtenis. Die meeste Boeregesinne het in 1928 na Suidwes-Afrika verhuis. Daar was tot in 1975 afstammelinge van die Trekkers in Angola, waarna die meeste van hulle, asook derduisende Portugese, met die Angolese onafhanklikheidswording ook na Suidwes-Afrika uitgewyk het. Sedert die politieke situasie gestabiliseer het, het etlike Afrikaner-families weer na Angola teruggekeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

johan prinsloo ·

Dankie Pierre, Dit was vir my ‘n lekker lees storie. Seker omdat ek bekend is met van die mense en omgewing.

Stephan de S ·

Dankie Pierre vir hierdie wetenswaardige artikel en die pragtige insetsels oor die Dorsland Trek……wat my al soveel jare interesseer. Het sommer nou lus vir so appelbok . Wonder of hy kleur ooreenstemming het met n appelblou skimmel perd.

Marie ·

My oupa se broer het ook saamgetrek na Angola, die familie is vandag nog naby Gobabis op die bekende plaas Harnas. Schalk en Nick van der Merwe is stamname van die eerste Van der Merwes wat as knegte in SA aangekom het na 1652.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.