Verandering volgens Jesus

paasfees-danabaai-strand-deur-juanita-badenhorst-01

Danabaai se strand. Foto: Juanita Badenhorst.

Paasfees is die tyd van die jaar wanneer ons nie net onthou wat Jesus kom doen het nie, maar veral hóé Hy dit kom doen het. Die gebeure rondom die kruis herinner ons daaraan dat boosheid nie met wreedheid oorwin kan word nie, onreg nie met haat nie en seerkry nie met bitterheid nie. Dat ‘n mens in die teenoorgestelde gees moet optree as jy die duisternis wil beveg.

Jesus het opgestaan teen die verkeerde dinge in hierdie wêreld, nie deur pyn te veroorsaak nie, maar deur homself te gee vir dit waarin Hy glo en dié vir wie Hy lief is, selfs sy vyande.

Dis belangrik dat ons wat onsself Christene noem gereeld herinner word daaraan – veral in Suid-Afrika vandag – ons het elke nou en dan ‘n Paasfees nodig.

Jesus se manier van doen is egter oor die algemeen onpopulêr onder Christene. So gewild as wat die boodskap is dat Jesus kom sterf het vir ons sondes, so ongewild is sy oproep dat ons ook lief moet wees vir ons vyande.

Meeste Christene wil verlos word deur Jesus, maar hulle wil Hom nie volg nie. Hulle aanvaar hom as Verlosser, maar nie as Here nie.

Paasfees wil ons daaraan herinner dat Jesus ons verlos het sodat ons Hom sal volg. Dat Hy nie net sy genade ná ons toe wou laat vloei nie, maar ook déúr ons.

Ons is dikwels vinnig om God se genade vir onsself te aanvaar, maar stadig om dit uit te deel vir ander. Iemand het eenkeer gesê dat die persoon wat jou genade die minste verdien dit die nodigste het. Om te verwag dat iemand eers jou genade moet verdien is soos om vir jou vriend ‘n geskenk te gee vir Kersfees, maar hy moet eers daarvoor betaal voor hy dit mag oopmaak.

Genade is eintlik wesenlik onregverdig, dit gee aan iemand iets wat hy of sy nie verdien nie. Dis een van die moeilikste dinge wat Jesus van sy volgelinge vra, maar die alternatief is die bose kringloop van wraak en bitterheid, van ander seermaak omdat ek seergekry het.

It is better to light one candle than to curse the darkness,” sê die Engelse spreekwoord. Die groot kuns van die lewe is om boosheid te oorwin sonder om self boos te word.

Jesus het kom wys hoe dit prakties lyk. Nou is dit sy volgelinge se beurt. Sy liggaam op aarde.

“Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle,” sê Hy kort voor sy kruisiging vir sy dissipels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.