Verbode kontrakvoorwaardes

writing-1149962_1920Dit is die begin van ʼn nuwe jaar en baie verbruikers gaan binnekort kontrakte moet onderteken, of dit nou vir ʼn skool, nuwe huis, nuwe motor of gimnasium is. Verbruikers meen dikwels hulle het geen bedingingsregte wanneer hulle ʼn kontrak teken nie en hulle is heel waarskynlik reg, maar daar is tog wetgewing wat verseker dat onbillike, onregverdige en onredelike voorwaardes nie in kontrakte mag voorkom nie. Ina Opperman verduidelik hoe die Wet op Verbruikersbeskerming help om verbruikers te beskerm teen voorwaardes wat hul verbruikersregte skend.

Die Wet op Verbruikersbeskerming beskerm verbruikers se reg op billike, regverdige en redelike bedinging en voorwaardes in artikel 48, wat bepaal ʼn winkel mag nie goedere of dienste verskaf teen ʼn prys wat onbillik, onredelik of onregverdig is nie. Handelaars mag ook nie onbillik, onredelik of onregverdig onderhandel nie en mag nie goedere of dienste bemark, of ʼn ooreenkoms sluit vir die verskaffing van goedere of dienste op ʼn onbillike, onredelike of onregverdige manier nie.

Die handelaar se plig

Handelaars mag ook nie vereis dat jy van jou regte afstand doen, ʼn verpligting aanvaar of die handelaar van aanspreeklikheid vrywaar op grond van onbillike, onredelike of onregverdige onderhandeling nie. Sodanige onderhandeling mag ook nie ʼn voorwaarde wees om ʼn ooreenkoms te sluit nie.

Eensydigheid

ʼn Transaksie of ooreenkoms, onderhandelings, voorwaardes of kennisgewings waaraan dit onderworpe is, word beskou as onbillik, onredelik of onregverdig as dit uitermate eensydig is ten gunste van enigiemand anders as die verbruiker, of wanneer die onderhandeling vir die ooreenkoms so ongunstig vir die verbruiker is, dat dit onregverdig is.

Valse voorstellings

ʼn Ooreenkoms is ook ontoelaatbaar indien jy op ʼn valse, misleidende of bedrieglike voorstelling van die handelaar staat gemaak het. Dit is ook ontoelaatbaar indien die onderhandeling, voorwaarde of kennisgewing onbillik, onredelik, onregverdig of gewetenloos is of indien die feite, aard en effek daarvan nie toepaslik onder die verbruiker se aandag gebring is nie.

Oppas vir hierdie voorwaardes

Regulasie 44(3) van die Wet bepaal die volgende kontrakvoorwaardes is onregverdig, tensy die omstandighede kan bewys dit is nie onregverdig nie.

Die volgende voorwaardes is onregverdig indien dit:

  • Die handelaar se aanspreeklikheid vir die dood of persoonlike beserings van die verbruiker, indien dit veroorsaak word deur die handelaar se optrede of nalatigheid, uitsluit of beperk.
  • Die verbruiker se wetlike regte tot billike vergoeding teen die handelaar of enige ander party wat nie hul kant bring nie, verwyder of beperk. Dit sluit die verbruiker se reg in om geld terug te hou wat die verbruiker moet betaal indien hy ʼn eis teen die handelaar het.
  • Die handelaar se plig om sy agente se ooreenkomste na te kom, beperk.
  • Die handelaar se gesamentlike aanspreeklikheid (waar een mens verantwoordelik is vir die optrede van ander) vir sy agente beperk.
  • Die verbruiker dwing om verantwoordelikheid te aanvaar om vir die handelaar se aanspreeklikheid aan ander partye te betaal.
  • Die verbruiker se reg om staat te maak op die verweer van verjaring uitsluit of beperk. Dit beteken die handelaar mag nie die tyd verkort waarin die verbruiker kan eis nie.
  • Die normale reëls verander oor hoe risiko versprei word, sodat die verbruiker aan die korste end trek.
  • Die handelaar toelaat om die oorspronklike prys waarop ooreengekom is, te verander, sonder om die verbruiker die kans te gee om die ooreenkoms te kanselleer.
  • Die handelaar in staat stel om die voorwaardes van die kontrak te verander, insluitende die aard van die goedere of dienste.
  • Die handelaar die reg gee om te bepaal of die goedere of dienste volgens die kontrak gelewer is of die handelaar die ekskulsiewe reg gee om enige voorwaarde van die ooreenkoms te interpreteer.
  • Die handelaar toelaat om die ooreenkoms eensydig te kanselleer sonder om die verbruiker dieselfde reg te gee.
  • Die handelaar toelaat om ʼn ope ooreenkoms te kanselleer sonder billike kennisgewing, behalwe wanneer die verbruiker ʼn belangrike deel van die kontrak verbreek het.
  • Die verbruiker verplig om al die voorwaardes na te kom terwyl die handelaar nie hoef nie.
  • Die handelaar, maar nie die verbruiker nie, toelaat om die uitvoering van die ooreenkoms te systap of beperk.
  • Die handelaar, maar nie die verbruiker nie, toelaat om te besluit om die ooreenkoms te hernu of nie.
  • Die handelaar toelaat om onredelik lank te vat om die ooreenkoms na te kom.
  • Die handelaar toelaat om ʼn betaling van die verbruiker terug te hou wanneer die verbruiker nie volgens die ooreenkoms presteer het nie, maar nie dieselfde reg aan die verbruiker gee om dieselfde met hom te doen nie.
  • Van die verbruiker vereis om meer te betaal as wat die handelaar se skade is as die verbruiker nie die ooreenkoms nakom nie.
  • Die handelaar toelaat om, wanneer hy of die verbruiker die ooreenkoms kanselleer, baie hoë betaling te eis van die verbruiker vir gebruik, reg of prestasie of onkoste.
  • Die handelaar toelaat om sy pligte oor te dra aan iemand anders sonder die verbruiker se toestemming of sodat die verbruiker aan die kortste end trek.
  • Die verbruiker se reg om die goedere te verkoop beperk deur ʼn beperking te stel op die oordraagbaarheid van enige handelswaarborg.
  • ʼn Verbruiker dwing om ʼn feit te erken of ʼn verklaring te maak wat nie in sy guns is nie, tensy hy genoeg tyd gehad het om die verklaring of erkenning te oorweeg. Dit is dan ook die handelaar se plig om die verbruiker op die verklaring te wys en die betekenis daarvan vir die verbruiker te verduidelik.
  • Voorsiening maak daarvoor dat aangeneem word dat ʼn verklaring van die handelaar, wat belangrik is vir die verbruiker, die verbruiker bereik het, tensy dit per geregistreerde pos gestuur is.
  • Die verbruiker se reg om regstappe te neem of enige ander wettige manier om vergoeding te kry, uitsluit of beperk. Dit sluit in om van ʼn verbruiker te vereis dat ʼn klagte deur middel van arbitrasie opgelos word, wat nie deur die Wet of ander wetgewing gedek word nie.
  • Die bewyse wat beskikbaar is vir die verbruiker beperk of ʼn bewyslas op die verbruiker plaas wat gewoonlik die verantwoordelikheid van die handelaar is.
  • ʼn Verjaringsperiode instel wat korter is as die gewone tydperk vir die verbruiker om regstappe te neem.
  • Die handelaar die reg gee om regs- of ander koste te eis wat meer is as gewoonlik as die verbruiker nie dieselfde reg het nie.

Toepassing

Regulasie 44 is net van toepassing wanneer handelaars ʼn ooreenkoms sluit met ʼn individuele verbruiker. Die regulasie is nie van toepassing wanneer die handelaar ʼn organisasie sonder winsbejag is nie.

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor handelaars wat onregverdige en onbillike kontrakvoorwaardes gebruik.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.