Verbruikersake: Alles wat jy moet weet van bêrekoop

koop-inkopie-sakke-skoene

Foto: Rawpixel/Pexels.com

Baie winkels bied verbruikers die geleentheid om iets wat gewoonlik te duur is om op een slag voor te betaal, op bêrekoop te koop en die bedrag in paaiemente af te betaal. Dit verskil van kredietooreenkomste omdat jy die goedere eers ontvang wanneer jy die volle bedrag afbetaal het. Dit word gewoonlik aangebied vir mense wat nie maklik vir krediet sal kwalifiseer nie of deur winkels wat nie ander vorme van krediet aanbied nie. Min verbruikers weet egter dat hulle sekere regte het met so ’n transaksie, sê Ina Opperman. Sy verduidelik wat jou regte is wanneer jy iets bêrekoop en hoe jy hierdie regte kan toepas.

Verbruikers wat bêrekoop, het verskeie regte volgens die Wet op Verbruikersbeskerming en verbruikers moet hulle van hierdie regte vergewis wanneer hulle hierdie soort transaksie sluit.

Volgens artikel 62 van die wet het jy die volgende regte in ’n transaksie met ’n handelaar wat instem om goedere aan jou te verskaf waarvoor jy in paaiemente betaal en te hou totdat jy die volle bedrag vereffen het:

  • Die paaiemente bly jou eiendom totdat jy die goedere ontvang in ooreenstemming met artikel 65, wat bepaal dat die handelaar die plig het om na jou eiendom om te sien terwyl dit in sy besit is. Dit beteken dat hy nie sommer hierdie geld kan gebruik totdat jy die bedrag afbetaal en die goedere ontvang het nie.
  • Die handelaar dra die risiko vir die goedere totdat dit aan jou oorhandig word. As die winkel byvoorbeeld afbrand, moet die handelaar steeds jou goedere of jou geld vir jou gee.

Wanneer die goedere nie meer beskikbaar is nie

  • Indien die handelaar die goedere nie meer kan verskaf nie weens omstandighede buite sy beheer wanneer jy die volle bedrag betaal het, moet hy aan jou soortgelyke of beter goedere verskaf of jou geld teruggee met rente volgens die Wet op Voorgeskrewe Rentekoerse. Hierdie bepaling sou geld indien iemand byvoorbeeld by die winkel inbreek en die goedere steel.
  • Indien hy nie die goedere kan verskaf nie weens omstandighede waaroor hy wel beheer het, moet hy dubbel jou geld teruggee om op te maak vir die feit dat hy kontrakbreuk gepleeg het. Dit sou byvoorbeeld gebeur indien hy die goedere aan iemand anders verkoop en nie meer voorraad het teen die tyd dat jy die volle bedrag betaal het nie.

Omstandighede buite sy beheer

Artikel 62 bepaal ook dat die “omstandighede buite sy beheer” nie op die handelaar van toepassing is indien die tekort aan goedere gedeeltelik of heeltemal direk of indirek die gevolg is van die handelaar se versuim om sy onderneming behoorlik te bestuur nie. ’n Tekort aan voorraad is byvoorbeeld nie ’n verskoning nie omdat n goeie bestuurder sal sorg dat hy wel voorraad het om sy verpligtinge na te kom.

As jy wil kanselleer

Sou jy besluit om die ooreenkoms te kanselleer voordat jy die volle bedrag betaal het, of nie die paaiemente betaal binne 60 werksdae nadat jy die volle bedrag sou betaal het nie, kan die handelaar ’n boete van nie meer as 1% hef op die bedrag wat hy aan jou terugbetaal. Die boete mag egter nie gehef word indien jy versuim het om te betaal omdat jy gehospitaliseer of dood is nie of in enige ander geval, tensy hy jou van die boete in kennis gestel het voordat jy die bêrekoopooreenkoms aangegaan het nie.

Kla hier oor bêrekoop

Jy kan kla oor handelaars wat die wet oortree met betrekking tot bêrekoop by die Nasionale Verbruikerskommissie of die verbruikersakekantoor in die provinsie waar jy bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.