Verbruikersake: Besmette kos en waarborge

kredietkaart-geld-inkopies

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Die ombudsman vir verbruikersgoedere en -dienste het vandeesweek sy jaarverslag bekend gestel. Dié kantoor se oproepsentrum het altesaam 5 593 oproepe met klagtes in die finansiële jaar tot Februarie vanjaar hanteer, waarvan die meeste oor selfone, elektriese toestelle, meubels, vakansieklubs, rekenaars, boumateriaal, klere en skoene was. Hierdie klagtes het verband gehou met ooreenkomste wat gekanselleer is, misleidende bemarking, swak diens, foutiewe goedere en slegte behandeling. Die ombudsman het 53% van die klagtes ten volle ten gunste van verbruikers opgelos en 7% gedeeltelik ten gunste van die verbruiker. Ina Opperman het gaan kyk watter lesse verbruikers kan leer uit klagtes wat opgelos is.

Volgens Magauta Mphahlele, die waarnemende ombudsman, vereis die gedragskode vir die verbruikersgoedere en -dienstebedryf, wat deur die Nasionale Verbruikerskommissie geakkrediteer is, dat winkels alles moontlik moet doen om alle klagtes binne sestig dae op te los.

In ’n opname wat onder klaers gedoen is, het 83% aangedui hulle is voldoende op hoogte gehou van vordering met hul klagtes, 90% het aangedui dit was maklik om die kantoor in die hande te kry, 70% was gelukkig met die oplossing, 96% het gevoel hulle is met respek behandel en 83% sal aanbeveel dat mense die kantoor met klagtes nader.

Produkaanspreeklikheid

Een van die klagtes by die ombudsman was oor besmette kos – toe ’n verbruiker ’n pakkie aartappelskyfies geëet het wat met rotmis besmet was. Die verbruiker het gekla dat dit haar fisiek en geestelik aangetas het. Die verskaffer het haar ’n koopbewys van R75 en ’n geskenkmandjie aangebied, maar die verbruiker het dit van die hand gewys en vergoeding van R30 000 geëis.

Die verskaffer het die produk deur sy gehaltebeheerdepartement, ’n omgewinsgesondheidspraktisyn en ’n geregistreerde pesbeheerder laat ondersoek. Die fabrieksbestuurder het ook ondersoek ingestel om te kyk of rotte in die fabriek gevind is, maar kon geen tekens daarvan vind nie.

Die ander ondersoekers het ’n klein opening van omtrent 1 cm in die hoek van die pakkie gekry, met tekens van rotte wat daaraan geknaag het. Hulle het egter bevind dit is onwaarskynlik dat die gaatjie nie tydens inspeksie opgemerk sou wees nie, en meen dit moes gebeur het nadat die pakkie gekoop is.

Artikel 61 van die Wet op Verbruikersbeskerming gee verbruikers die reg om vergoeding te eis, al kan nalatigheid aan die verskaffer se kant nie bewys word nie. Geen ander klagtes oor dieselfde produkgroep is egter ontvang nie, geen rotbesmetting is in die fabriek gevind nie en ’n rot het duidelik aan die pakkie geknaag. Die ombudsman het dus bevind dat die besmetting nie tydens die vervaardigings- of verkoopsproses plaasgevind het nie en dat die vergoeding wat aangebied is, billik is.

Waarborg en misleidende aanbod

’n Verbruiker het by die ombudsman gekla oor ’n yskas wat sy in 2013 gekoop het, wat ’n waarborg van twee jaar gehad het. Sy het ook ’n verlengde waarborg gekoop. Die yskas het in 2016 gebreek en sy het dit by die winkel aangemeld. Die winkel kon dit nie herstel nie en het nie aan die verbruiker teruggerapporteer oor wat volgende gaan gebeur nie.

Sy het daarna twee koopbewyse van die winkel ontvang, maar sy het nie geweet dit was bedoel om haar vir die yskas te vergoed nie. Sy was onder die indruk dit was deel van ’n lojaliteitskema wat deur haar bank aangebied word.

Die winkel het om verskoning gevra vir die swak klantediens, maar volgehou die koopbewyse was vergoeding vir die yskas en dat die verbruiker bewus was daarvan dat dit aan haar gestuur is ingevolge die verlengde waarborg.

Die ombudsman het bevind dat die verbruiker moes weet die uitbetaling was vir die yskas omdat die lojaliteitskema nie soveel sou uitbetaal nie. Dit was egter ’n klassieke voorbeeld van swak klantediens en die winkel het dit nie ontken nie.

Die ombudsman het aanbeveel dat die verbruiker ’n koopbewys van R2 000 kry om hiervoor op te maak, waartoe die winkel en die verbruiker ingestem het.

  • Die kantoor van die ombudsman en die gedragskode is opgestel en geakkrediteer volgens artikel 82 van die Wet op Verbruikersbeskerming om as gids vir die bedryf te dien oor die minimumstandaarde vir gedrag wat van hulle verwag word wanneer hulle sake doen met verbruikers en om te help om klagtes op te los.

Kla hier:

Jy kan jou klagte direk op die webwerf indien by http://www.cgso.org.za/, of jy kan die oproepsentrum by 0860 000 272 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae