Verbruikersake: Dis jou regte met winskopies

inkopies-aankope-sakke-vrou

Foto: Gonghuimin468/Pixabay.com

Verbruikers is gewoonlik baie lief vir winskopies omdat dit jou rande kan rek, veral in tye wanneer alles duurder raak en jou beursie al hoe dunner. ’n Winskopie wat dus nie beskikbaar is nie of waarvan al die voorraad al uitverkoop is, kan mens daarom teen die mure uitdryf. Die winkelbestuur kan egter nie bloot hul skouers optrek en jou klagtes hieroor ignoreer nie, want die Wet op Verbruikersbeskerming maak dit baie duidelik dat winskopies op ’n bepaalde manier beskikbaar gestel moet word. Ina Opperman het gaan kyk wat die wet en die geakkrediteerde ombudsman vir verbruikersgoedere en –dienste bepaal.

Artikel 23 van die Wet op Verbruikersbeskerming handel oor die blootlegging van die prys van goedere of dienste en volgens subartikel 6 mag ’n winkel nie vereis dat ’n verbruiker vir goedere of dienste betaal wat hoër is as die uitgestalde prys vir daardie goedere of dienste nie of wat hoër as die laer of laagste prys is wat aangedui word, as meer as een prys gelyktydig aangedui word nie.

Volgens subartikel 9 word ’n winkel nie verbind tot ’n foutiewe prys indien dit ’n onopsetlike en ooglopende fout bevat en dit reggestel is nie en redelike stappe in die omstandighede gedoen is om verbruikers aan wie die foutiewe prys moontlik uitgestal is, van die fout en die korrekte prys in te lig nie.

Artikel 30, oor lokaasbemarking, bepaal dat ’n winkel nie goedere of dienste mag adverteer teen ’n bepaalde prys wat verbruikers kan mislei of onder ’n vals indruk bring oor die werklike beskikbaarheid daarvan teen die geadverteerde prys nie. Indien bepaalde goedere of dienste teen ’n spesifieke prys geadverteer word met ’n uitdruklike beperking op die beskikbaarheid daarvan teen daardie prys, moet die winkel dit teen daardie prys verkoop.

Volgens die ombudsman se adviesnota kom ’n kontrak gewoonlik tot stand wanneer iemand ’n aanbod aanvaar, maar ’n advertensie is nie op sigself ’n aanbod nie, maar wel ’n uitnodiging vir verbruikers om ’n aanbod te maak om te koop. Die Wet op Verbruikersbeskerming gaan egter verder as die gemene reg in artikel 23(6) en maak die prys wat aangedui word, ’n bindende aanbieding wat ’n kontrak word sodra die verbruiker dit aanvaar deur betaling aan te bied.

As ’n advertensie ’n aantal produkte spesifiseer wat teen ’n spesiale prys verkoop sal word, is die winkel volgens artikel 30 daartoe verbind om die aantal produkte teen die prys te verkoop, al word dit later op ’n kennisgewing in die winkel aangedui dat dit nie beskikbaar is teen die spesiale prys nie, lui die adviesnota.

Dit is dus duidelik dat winkels goedere teen die laagste geadverteerde of vertoonde pryse moet beskikbaar stel en dus self pa staan vir die risiko en onkoste verbonde aan foute. In die geval van vertoonde pryse wat foutief is, moet die winkel pa staan totdat die verbruiker oor die fout ingelig is.

Indien die Nasionale Verbruikerstribunaal bevind dat winkels nie hieraan voldoen nie, kan die winkel ’n administratiewe boete van tot R1 miljoen of 10% van sy wins opgelê word.

Kla hier:

Jy kan jou klagte direk op die webwerf indien by http://www.cgso.org.za/, of jy kan die inbelsentrum skakel by 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Klein besigheid ·

En net daar veroorsaak die Verbruikerswet nou dat ons, as
‘n klein besigheid, NOOIT weer produkte teen afslagpryse sal aanbied nie. Kliënte sal nou maar voortaan die volle prys vir al ons produkte (skoeisel) betaal al staan die skoene ook tien jaar op die rak. As ‘n klein besigheid kan ons net soveel voorraad aankoop, veral in ons bedryf. Geen besigheid kan bekostig om soveel voorraad aan te koop en boonop afslag daarop te gee totdat almal wat wou hê gekoop het nie. Dit is mos belaglik! Ons uitverkopings het gewoonlik ‘n week geduur en honderde mense het kom koop. Niemand het ‘n probleem gehad as die voorraad uitverkoop was nie, want dit is hoe dit werk. (First come first served.)

IK ·

Ek is ‘n leek op hierdie gebied MAAR indien daar ‘n perk is op die aantal items of dae wat die verkoop gaan plaasvind of terwyl voorraad hou behoort daar nie probleme te wees? Ek stem saam dat ‘n kundige persoon hiermee behoort raad te gee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.