Verbruikersake: Jou reg om te kyk

gebreek-bord-skerwe-stukkend

Foto: @chuttersnap/Unspalsh.com

Verbruikers dink gewoonlik daaraan om ekstra versigtig te wees as hulle in ’n winkel vol glasgoed rondkyk, want daardie bordjie teen die muur sê as jy dit breek is dit joune… Is dit so eenvoudig dat jy moet betaal vir alles wat jy breek as jy in ’n winkel daarna kyk? Ina Opperman het gaan kyk wat sê die Wet op Verbruikersbeskerming daaroor.

’n Verbruiker het juis by die Ombudsman vir Verbruikersgoedere en -dienste gaan kla oor so ’n voorval en by verdere ondersoek is bevind sy moes haar geld terugkry.

Die verbruiker het na goedere gekyk in ’n winkel wat huisgoedere verkoop en wou sien hoeveel ’n lantern kos. Aangesien die pryse gewoonlik onderaan geplak is, het sy dit opgelig om te kyk. Die glasskerm het toe afgeval en gebreek.

Die verkoopspersoon het daarop aangedring dat sy vir die lantern betaal, wat sy toe gedoen het omdat sy so ongemaklik gevoel het oor wat gebeur het. Daar was egter geen aanduiding in die winkel dat klante moet betaal vir goed wat hulle breek nie.

Volgens die winkel se bestuur moes enigiemand kon sien dat die lantern breekbaar is en dat die verskeie dele versigtig hanteer moet word.

Artikel 18

Volgens artikel 18 het verbruikers die reg op keuse om goedere na te gaan. Dit bepaal dat ’n verbruiker nie verantwoordelik is vir enige verlies of skade aan goedere wat in ’n winkel uitgestal word nie, tensy die verbruiker die verlies of skade aanrig weens growwe nalatigheid of roekeloosheid, kwaadwillige optrede of kriminele gedrag, selfs al is daar ’n kennisgewing in die winkel wat aandui dat jy moet betaal as jy iets breek.

Dit beteken dat jy nie hoef te betaal vir iets wat jy per ongeluk breek nie, maar as jy ’n hele rak vol glase met opset van die rak afvee, sal jy daarvoor betaal.

Dit is deel van die verbruiker se reg om enige spesifieke item uit die voorraad te kies of te verwerp voordat die transaksie voltooi word. Die optrede van verbruikers in ’n winkel is presies wat die wetmaker hier in gedagte gehad het en sluit optrede in soos om iets te laat val wanneer jy daarna kyk.

Volgens die ombudsman word growwe nalatigheid beskryf as ’n algehele gebrek aan oorweging van die gevolge van jou optrede en ’n totale verontagsaming van jou plig. Dit is ook ’n bewuste en vrywillige minagting van die behoefte om versigtig te wees om nie skade te veroorsaak nie, dus ʼn optrede wat veel erger is as gewone nalatigheid.

Die ombudsman het bevind dat die verbruiker nie grof nalatig was nie en dat die winkel daarom die bedrag wat sy gedwing is om te betaal, aan haar moes terugbetaal.

Kla hier:

Jy kan jou klagte oor ongevraagde goedere of dienste direk op die webwerf van die ombudsman indien by http://www.cgso.org.za/, of jy kan die inbelsentrum skakel by 0860 000 272.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

B ·

As ek iets per ongeluk (ten spyte van die feit dat ek hiper versigtig is) in ‘n oorvol winkel van ‘n rak afstamp moet die winkel se veresekering dit maar dek – die winkel moes voorsien dat so iets kon gebeur, en dienooreenkomstige stappe geneem het om dit te verhoed.

LB S ·

Soms is die goed so opmekaar gepak en gangetjies nog smal ook dat jy jouself skaars kan draai! Ek vermy sulke winkels soos die pes.

Carina ·

Ek stem B – die winkel moet versekering hê vir sulke gevalle. En hulle behoort ook seker te maak dat breekbare items nie op so ‘n manier uitgestal word dat iemand dalk daarteen kan stamp nie.
Ek het ook al so iets oorgekom. ‘n Hele paar jaar terug toe my dogtertjie nog klein was, loop ons in ‘n Afrika snuistery winkel in die Waterfront in. My man dra ons kind op sy rug om te keer dat sy dalk teen iets stamp. Ongelukkig was die winkel so vol en die rakke so na aan mekaar, met uiters breekbare items net mooi op stamp hoogte. Haar voetjie haak toe teen ‘n bekertjie en dit val die rak af. Daar was slegs ‘n klein chip plekkie maar hulle het aangedring dat ons daarvoor betaal. So ‘n R250 se ou bont bekertjie staan nou met trots in my sitkamer.

dennis ·

Indien die winkel al die stappe moet neem om hul eiendom te beskerm moet ons as verbruikers nie huil oor die kostes wat sekerlik sal verhoog. Ek glo die winkels neem hul remagtige deel wine en om dit wel te kry word daar voorsiening gemaak vir diefstal,gebreekte goedere,versekring daarvoor ens. Moet mens regtig met jou hande kyk en nie net jou oe nie. se maar net

JSG ·

Haat dit ook. Veral 2de handse winkels doen dit. Sekere items is nie veronderstel om omgedop te word, veral lampe. Die eienaar kon ook ‘n bietjie moeite gedoen het om te verseker die skerm val nie maklik af.

Anoniem ·

Aag wat bly uit die winkels uit en gebruik eerder daardie geld om brandstof mee te koop !

Cherokee ·

Ek het per ongeluk ‘n baie mooi lamp vanaf ‘n hoë tafel gestamp by Boardmans in La Lucia en aangebied om te betaal daarvoor maar die bestuur het geweier om betaling te aanvaar.

Koos ·

Dis al bietjie ou nuus, maar ten minste weet die agterosse ook nou daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.